Innibos Digitaal skop dié naweek af

manne 3

Manne.

Die Standard Bank Innibos Kunstefees neem hierdie naweek ʼn digitale gestalte aan vir die heel eerste Innibos Digitaal-fees.

Innibos Digitaal bied 20 produksies, wat musiek, drama, komedie en kinderteater insluit, aan. Sommige vertonings is uit die Innibos-argief, maar daar is ook splinternuwe produksies wat spesiaal vir Innibos Digitaal opgeneem is.

Dié digitale fees vervang nie die fees wat vir Desember vanjaar beplan word nie, maar is eerder ʼn opwindende toevoeging tot die Innibos-program vir feesgangers wat na die fees in Junie uitgesien het.

Innibos se feeskonserte is jaarliks ʼn hoogtepunt tydens dié kunstefees, en by Innibos Digitaal is drie van dié topkonserte te sien. Die 2019 kykNet-verjaardagkonsert, wat met die Fiësta-toekenning vereer is vir die beste opelugkonsert verlede jaar, sluit kunstenaars in soos Jo Black, Elvis Blue, Joseph Clark en Demi Lee Moore.

In verlede jaar se Jacaranda FM-konsert is Theuns Jordaan, Refentse en Emo Adams onder meer te sien. Voorts is daar Innibos is Groot, ʼn opname van die baie gewilde 2014-hoofverhoogkonsert.

Die musiekgroep Dr Victor and the Rasta Rebels, Jak de Priester en Michelle Botha se vertonings is spesiaal vir Innibos Digitaal opgeneem. Victor Khojane, voorsanger vir Dr Victor and the Rasta Rebels, laat musiekliefhebbers se voete al langer as veertig jaar jeuk, terwyl Jak gewilde en bekende treffers vars opdis.

Op haar beurt laat waai Botha met musiek uit die 1970’s en 1980’s in haar stuk Storm in a F-Cup/Bra-vades wat kykers op ʼn nostalgiese en skreeusnaakse reis van ʼn vrou se soeke na liefde geneem.

Jak de Priester.

Musiekteaterproduksies sluit in Stef Bos in Bos innie Bos, die tydloosheid van Koos du Plessis se musiek en liriek in Doep is nie dood nie met onder andere Jannie du Toit, terwyl Jannie Moolman en Kevin Leo in Crooners ou bekendes soos Dean Martin, Bing Crosby en Frank Sinatra na jou voorhuis bring.

Johny Klein vertel heerlike kontreistories in Pomporrelkonsert, terwyl Elsabé Daneel en Wilken Calitz gedigte nuut optower met musiek in Rasende Ryme.

Vermaak die kleingoed met goeie kinderteater hierdie naweek: daar is Oom Karoolus en Lente, Felias en Pokkel en die immergroen Liewe Heksie en die Tuindwergie spesiaal vir hulle!

Innibos Digitaal begin om 18:00 op Vrydag 26 Junie. Kaartjies is reeds te koop by Computicket, en die vertonings bly vir 72 uur beskikbaar nadat jy die eerste keer die skakel geaktiveer het. Die vertonings bly tot Desember vanjaar in die “biblioteek”.

Die volledige program is op innibos.co.za en op Computicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.