Innibos gaan vandeesmaand digitaal voort

Innibos Digitaal. (Foto: Verskaf)

Die Standard Bank Innibos Kunstefees gaan vanaf 26 Junie ʼn digitale gestalte aanneem vir die heel eerste Innibos Digitaal-fees.

Dié digitale fees vervang nie die fees wat vir Desember vanjaar beplan word nie, maar is eerder ʼn opwindende toevoeging tot die Innibos-program vir feesgangers wat na die fees in Junie uitgesien het.

Sandra Jacobs, media-en-bemarkingsbestuurder van Innibos, sê die voortslepende Covid-19-pandemie bring mee dat feesorganiseerders en kunstenaars meer kreatief as ooit te werk moet gaan.

“Innibos Digitaal wil eerstens kunstenaars in dié uitdagende tye bystaan en seker maak hulle kry steeds ʼn inkomste. Die kunstefeesbedryf moet ook aanpas by die veranderende tye en beskikbare tegnologie tot ons voordeel gebruik. Dit is wel ʼn ietwat onbekende terrein, maar ons gryp dit met albei hande aan,” sê Jacobs.

Innibos Digitaal bied sowat 20 produksies en opnames van musiek en toneel uit die argief wat die kunstefees deur die jare opgebou het, wat nou met vrug gebruik kan word.

Tobie Cronjé in ‘Leengoed’. (Foto: Verskaf)

Nuwe opnames word in samewerking met Coleske Kunstenaars en MGG Produksies gedoen. ʼn Nuutjie in die Afrikaanse toneelbedryf is die digitale debuut van Leengoed, ʼn komiese drama met Tobie Cronjé en Wynand van Vollenstee.

ʼn Virtuele prysuitdeling van die hoog aangeskrewe Innibos Nasionale Kunshandwerkkompetisie (National Crafts Awards) met ʼn algehele prysgeld van R100 000 sal die digitale fees afskop.

“Innibos Digitaal is die gulde geleentheid vir liefhebbers van Afrikaanse musiek en toneel wêreldwyd om toegang te kry tot topproduksies en daardeur kunstenaars te ondersteun,” voeg Jacobs by.

Die Innibos Digitaal-program sluit die JacarandaFM-konsert en kykNET-Verjaardagkonsert, wat verlede jaar deur duisende mense op die feesterrein bygewoon is, in. Die kykNET-Verjaardagkonsert het ʼn Fiësta-toekenning ontvang as die beste opelug-musiekproduksie landwyd.

In ander musiekproduksies is Stef Bos te sien in Bos innie Bos, Kevin Leo en Jannie Moolman in Crooners en Jannie du Toit in Doep is nie dood nie. Buiten die debuut van die drama Leengoed is die toneelaanbod onder meer Manne, met onder andere Chris Vorster, People are living there met Anna-Mart van der Merwe en Op my eish! met Neels van Jaarsveld. Die volledige program sal eersdaags bekend gemaak word.

Kaartjies vir die Standard Bank Innibos Kunstefees Digitaal sal vanaf 15 Junie by Computicket beskikbaar wees. Feesgangers sal ʼn skakel ontvang. Die skakel bly vir 48 uur aktief nadat dit geaktiveer is.

  • Die beoogde datum vir die volledige Standard Bank Innibos Kunstefees is 10 tot 13 Desember, na gelang van die regeringsregulasies rakende die Covid-19-pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae