Innibos het ook iets vir die rockers

Valiant Swart op die verhoog. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Valiant Swart op die verhoog. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Die kykNET Nou! Konsert op die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela (Nelspruit) het Donderdagaand behoorlik feesgangers se litte losgemaak en die pas vir die res van die naweek se feestelikhede aangegee.

Kunstenaars soos Karen Zoid, Francois van Coke, Valiant Swart, Die Heuwels Fantasties en The Parlotones het die skare op hul voete gehad.

Die rockgroep Spoegwolf het ook die gehoor gaande gehad. “Dít is die grootste gehoor voor wie ons al gespeel het. Baie dankie!” het die voorsanger, Danie du Toit, gesê.

Jan Bloukaas het ook die Innibossers aan die dans gehad met sy treffers “Kaas elke dag” en “KykNET & chill”. “Ek het nooit in my wildste drome gedink ek sal eendag ʼn verhoog met Valiant Swart deel nie!” het die jong musikant gesê.

Karen Zoid groet die gehoor. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Karen Zoid groet die gehoor. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Aktrise Cindy Swanepoel en akteur Stefan Vermaak, onderskeidelik bekend as Annelise in die kykNET-sepie Binnelanders en Daniel in die kykNET-sepie Getroud met Rugby, was saam met Reynard Slabbert van Bravo! en Mense-Mense-faam die seremoniemeesters. Komediant Schalk Bezuidenhout het ook ʼn draai op die verhoog gemaak.

Rockmusiekliefhebbers wat dié konsert op die Standard Bank-hoofverhoog misgeloop het, kan die res van die naweek uitsien na ʼn hele rits rockmusikante wat hul talente op die kykNET Nou! Rockverhoog ten toon sal stel.

Vrydagaand speel Wit Kasteel, Matt Carstens, Bittereinder, Wonderboom en Fokofpolisiekar op dié verhoog terwyl Piet Botha, Van Pletzen ft. Early B, Dan Patlansky, Just Jinjer en The Black Cat Bones Saterdagaand 30 Junie die Rockverhoog oorneem.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting besoek Innibos se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Henk ·

Dalk n besonderse fees , maar skrikwekkend om soveel kinders tussen 15 en 18 jaar horribaal gesuip te sien!!! Waar is hulle ouers? Waar is die organiseerders en die wetstoepassers om die gemors te verhoed?

Kosie ·

Neewat as hulle Steve nie daar wil he nie sal ek ook nie daar wees nie.

Henry ·

Stem allie pad saam Kosie!
Ek is bowendien meer as siek en sat vir die politiek korrekte tipes.

Polities korrek ·

As die fees so polities korrek wil wees om vir sekere kunstenaars te wil wegwys, waar is die plaaslike isiswati kunstenaars?

Jannie ·

Sou ‘n lekker langnaweekuitstappie laeveld toe gewees het maar ek ry nie agter organisasies aan wat mense wat vir ons omgee wegwys nie.

Piet Pompies ·

Lekker fees, ons het gaan rol by Innibos. Ons gesin het 14 van 15 Innibos feeste bygewoon en elke jaar is die vertonings anders – nuut. Drankmisbruik is ‘n probleem, die gesin wat agter ons gesit het gedurende die konsert was gedrink. Hulle het glad nie in die sangers belang gestel en het die meeste van die tyd opmerkings teenoor die sangers gemaak. Sekuriteit het gou einde gemaak aan hulle swak gedrag. Sien julle in 2019 weer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.