Innibos vier mylpaalfeesjaar met groot afskopkonsert

Afskopkonsert-2-002.jpg

Lee Scott het die aand geopen met die volkslied. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Die 15de jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Nelspruit (Mbombela) het Woensdagaand oudergewoonte met ʼn groot musiekskouspel op die terrein van die Hoërskool Bergvlam afgeskop.

Geliefde Afrikaanse kunstenaars soos Riana Nel, Juanita du Plessis, Die Campbells, Corlea, Bobby van Jaarsveld en Dewald Wasserfall het die skare op hul voete gehad met hul bekende treffers tydens die Huisgenoot Afskopkonsert op die Standard Bank-verhoog.

Pierre Greeff, voorsanger van die rockgroep Die Heuwels Fantasties, asook die popgroep ADAM en die groep Tussen Sterre, wat vroeër vanjaar met ʼn Ghoema-toekenning vir die publiek se gunstelinggroep bekroon is, het die gehoor tydens die konsert vermaak.

Die aktrise Simoné Nortmann en haar medester in die rolprent Vir die voëls, Francois Jacobs, het saam met Wicus van der Merwe, Dowwe Dolla en Die Flooze ʼn draai op die verhoog gemaak.

Afskopkonsert-3-002.jpg

Juanita du Plessis het die gehoor bedank vir 20 jaar se ondersteuning van haar loopbaan. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

“Welkom by die afskopkonsert onder ʼn Laeveld-sterrehemel,” het Nortmann aan ʼn juigende skare gesê. “Ons vier vanaand die liefde. Liefde vir kuns, liefde vir musiek, liefde vir feesviering en liefde vir mekaar.”

Du Plessis het die gehoor bedank vir 20 jaar van lojale ondersteuning en gesê sy voel bevoorreg om weer vir die Innibossers te sing. “Ek hoop ek sien julle volgende jaar weer!”

Die dorp is reeds van vroeg Woensdagoggend af behoorlik op horings geneem deur feesgangers wat van heinde en ver gekom het om hul gunsteling- Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaars en die keur van dié bedryf in aksie te sien.

Die fees spog ook vanjaar met altesaam 60 nuwe kosstalletjies en uitstallers. Fynproewers en smulpape kan uitsien na ʼn hele paar nuwe disse op die spyskaart. Portugese, Indiese, Mexikaanse, Duitse en eg Suid-Afrikaanse geregte sal feesgangers se monde aan die water hê.

Die kunsmarkstalletjies in die Bosmôl beloof om vanjaar weer een van die land se besigste “winkelsentrums” te wees. Produkte soos onder meer strikdasse en horlosies gemaak uit hout, rose van papier, tuisgemaakte badprodukte en handgemaakte biltongkerwers sal gretige kopers se aandag trek.

Tussen-Sterre-002.jpg

Die groep Tussen Sterre het hul eie weergawe van Laurika Rauch se treffer, Blouberg se strand, uitgevoer. (Foto: Werner Bezuidenhout/Maroela Media)

Wanneer jy moeg gekyk en gekoop is, kan jy jou skoene uitskop en ’n yskoue verversing en ʼn ligte maaltyd in die Piazza onder in die Bosmôl geniet. Daar sal jy enigiets van Griekse happies, Hollandse stroopwafels, Poolse vleissoorte, brode, pesto’s, olywe en kaas tot aarbeie en room, tuisgemaakte fudge vir die soettand en lekkers spesiaal vir die kleinspan kry.

Die kykNET Nou!-konsert met kunstenaars soos Karen Zoid, Francois van Coke, Valiant Swart, The Parlotones, Die Heuwels Fantasties, Jan Bloukaas en Spoegwolf sal die meer alternatiewe luisteraar se belangstelling prikkel. Dié konsert vind Donderdag om 18:00 by die Standard Bank-verhoog plaas. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer inligting besoek Innibos se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Daan Erasmus ·

En dit sonder Steve. Ek is nie ‘n groot Steve aanhanger nie. Ek is ‘n groot aanhanger van vryheid van spraak.

Rupert Ashford ·

Sien nogsteeds nie Steve se naam nie. Hulle kan gaan doppies blaas…

Paul ·

Ek stem, en ek sit in Nelspruit, nee “Mbombela”!

Hoe kleinlik wil ons wees deur Steve te ontsê. Kom ek wed julle as Malema sou wou optree om ‘n twee uur lange speets te gee, het hulle hom met oop arms ontvang. DIS nou transformasie.

Paul ·

O’ja en ek sit so naby aan die skool, die gebeure is die heel dag in my ore.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.