Inskrywings stroom in vir Aitsas wat nou spog met twee nuwe kategorieë

Demi Lee Moore het met twee Aitsa-toekennings in 2019 weggestap. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media.)

ʼn Rekordaantal inskrywings is vir die 2022 Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings ontvang. Teen sluitingstyd op 30 Junie is altesaam 389 inskrywings vir die jaar se gesogte toekenningsgeleentheid ontvang.

“In 2019 was daar 288 inskrywings, in 2021 is wel 503 inskrywings ontvang, maar dit was vir ʼn tweejaartydperk omdat die Aitsas nie in 2020 kon plaasvind nie weens inperkingsmaatreëls. Vanjaar se 389 inskrywings verteenwoordig dus ’n groei van 35% vergeleke met 2019,” het Willie Spies, voorsitter van die Aitsa Trust, gesê.

Veral die kategorieë vir liedjieskrywer van die jaar met 63 inskrywings, luisterliedjie van die jaar met 60 inskrywings, musiekvideo van die jaar met 77 inskrywings, en nuweling van die jaar met 41 inskrywings, was uiters gewild.

Volgens Spies is die groeiende aantal inskrywings tekenend van die feit dat Afrikaanse musiek steeds ʼn bloeitydperk beleef en deurlopend nuwe talent oplewer.

“Slegs musiek wat vanaf 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 uitgereik is, kon vir vanjaar se Aitsas ingeskryf word. Die groot aantal inskrywings vir nuweling van die jaar is dus ʼn aanduiding van die steeds groeiende talentpoel van Afrikaanse musiek,” het hy bygevoeg.

Dié musiektoekennings spog vanjaar ook met twee nuwe kategorieë wat ingestel is om erkenning te gee aan die rol wat stromingsplatforms as nuwe medium vir musiek speel.

Die Suksesvolste Afrikaanse Snit van die Jaar (manlike stem) en Suksesvolste Afrikaanse Snit van die Jaar (vroulike stem) word by die bestaande kategorieë gevoeg.

“Ons het die kategorieë bygevoeg omdat die stroming van musieksnitte ál gewilder raak op die grootste musiekstromingsdienste soos Apple Music, Spotify en YouTube en die wenners in die kategorieë sal die snitte wees wat in die tydperk 1 April 2021 tot 31 Maart 2022 die meeste op stromingsdienste soos Apple Music, Spotify en YouTube geluister is, ongeag die datum van vrystelling.”

Volgens Spies is die sluitingsdatum vir inskrywings in hierdie kategorieë 30 Julie omdat daar nie beoordeling van hierdie kategorieë plaasvind nie.

Daar is ook nie ’n bepaalde tydperk van vrystelling vir dié snit-inskrywings, soos met die ander kategorieë, nie.

Die beoordeling van al die inskrywings vind tussen 20 en 22 Julie plaas en die beoordelingspaneel bestaan uit verteenwoordigers van die vernaamste platemaatskappye in die land asook onafhanklike beoordelaars, wat CJ de Swardt, Gisela de Villiers, Carlé Weber en Tinus Esterhuizen insluit.

Die toekenningsaand van Aitsas 2022 vind op 29 November by die Choose Life-kerk in Pretoria plaas en beloof om weer ’n spoggeleentheid te wees met die room van die land se Afrikaanse kunstenaars. Kaartjieverkope vir die geleentheid sal eersdaags begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.