Inskrywings vir Aitsa-musiektoekennings nou oop

Steve Hofmeyr het verlede jaar die ‘My kunstenaar’-toekenning gewen. (Foto: Maroela Media)

Kunstenaars, liedjieskrywers en musiekvervaardigers kan gerus hulle ore spits, want die inskrywings vir die jaarlikse Aitsa Afrikaanse musiektoekennings het pas geopen.

Pretoria FM is weer aan die stuur van sake, en daar is ʼn hele paar pryse in ʼn verskeidenheid kategorieë op die spel.

Kunstenaars kan ook uitsien na ʼn nuwe kategorie vir album van die jaar wat vanjaar by die toekenningslys gevoeg word.

“Die Aitsa-toekennings het in die verlede groot belangstelling gelok, en ons bou voort op die suksesresep van vorige jare,” sê Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM en trustee van die Aitsa Trust.

Verskeie kunstenaars gaan tydens die toekenningsgeleentheid optree, onder wie Bok van Blerk, Demi-Lee Moore, Spoegwolf, Bernice West, Barto, Elandré, Joshua na die Reën en Zaan Sonnekus.

Dié spoggeleentheid vind op 18 September by die 3Ci-ouditorium in die ooste van Pretoria plaas. Kaartjies sal vanaf 26 April op iTickets beskikbaar wees.

“Ons is opgewonde oor die toekoms van Afrikaanse musiek. Daarom is dit belangrik dat ʼn onafhanklike geleentheid soos die Aitsas ʼn platform skep waar die room van die Afrikaanse musiekbedryf op grond van hulle uitmuntende prestasie beloon word.”

Alle inskrywings sal deur ʼn paneel kundiges in die musiekbedryf beoordeel word, waarna ʼn maksimum van ses finaliste in elke kategorie aangewys sal word.

Die beoordelingskomitee vir 2024 sal bestaan uit vier onafhanklike beoordelaars, en die beoordelingsproses word gemonitor deur die Aitsa Trust se ouditeur. Twee ekstra onafhanklike beoordelaars word betrek spesifiek vir die kategorieë “vervaardiger van die jaar” en “musiekvideo van die jaar”.

Kunstenaars kan self inskryf of kan deur hulle onderskeie platemaatskappye ingeskryf word. Die kategorieë is as volg:

  1. Nuweling van die jaar
  2. Ballade van die jaar
  3. Popliedjie van die jaar
  4. Geestelike liedjie van die jaar
  5. Kletsrymliedjie van die jaar
  6. Alternatiewe/Rock-liedjie van die jaar
  7. Boeremusieksnit van die jaar
  8. Klassieke snit van die jaar
  9. Instrumentale snit van die jaar
  10. Musiekvideo van die jaar
  11. Liedjieskrywer van die jaar
  12. Vervaardiger van die jaar
  13. Album van die jaar
  • Alle nuwe uitreikings vir die tydperk 1 April 2023 tot 31 Maart 2024 mag ingeskryf word.
  • Inskrywings vir alle kategorieë het op 1 April 2024 geopen en sluit om middernag op 13 Mei 2024. Die inskrywingsvorms met volledige besonderhede is op Pretoria FM se webtuiste beskikbaar by pretoriafm.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.