Internet gaande oor ‘The Voice’-deelnemer se ma-en-seun-duet

Ashur Petersen. (Foto: Facebook via @petersenashur)

Ashur Petersen het reeds duisende Suid-Afrikaners se harte gewen met sy vuurwarm vertonings op ‘The Voice SA’-verhoog, maar ʼn video van ʼn duet wat hy pas saam met sy ma gedoen het, is binne enkele dae meer as 2,5 miljoen keer gekyk en het aanhangers opnuut gaande.

Ashur (26) is die seun van die legendariese sanger, direkteur en komponis Taliep Petersen. Taliep is in Desember 2006 dood. Sy musiektalent vloei egter sterk deur dié seun se are wat al van ʼn jong ouderdom naam maak met sy musiek.

Ashur en sy ma, Madeegha Anders (55), se weergawe van “A Whole New World”, een van die treffers uit die Disney-rolprent Aladdin, het sosialemediagebruikers gaande. Petersen het die video Sondag op sy Facebook-blad gepubliseer. Binne drie dae is dit ʼn miljoen keer gekyk. Net ʼn dag later, twee miljoen keer. En nou is die video sterk op pad na die drie miljoen-merk.

“Ek het ʼn cover van hierdie liedjie op YouTube gesien wat viral gegaan het, en net geweet ek en ma kan dit soveel beter doen. Dit was nie arrogansie nie, net selfvertroue,” lag Petersen.

“Ek wou ʼn nuwe varsheid na die liedjie bring. Ek het die hele liedjie self vervaardig – die beat, die klavier, ek het kitaar gespeel. Dit was nie ʼn backtrack nie. Ons het dit Sondag hier in die ateljee by my huis opgeneem.”

Ashur Petersen en sy ma, Madeegha, in die “A Whole New World”-video. (Skermskoot: Facebook)

Sowat ʼn maand gelede het Ashur en Madeegha ʼn video gemaak van hul weergawe van “Jealous” van Labrinth en dié video is 240 000 keer gekyk. “Ek het vir my ma gesê ek wil probeer dat ons een miljoen kyke op ons volgende video kry. En nou lyk dit of ons voor die einde van die dag al op drie miljoen gaan staan met dié video.”

Ashur en Madeegha sing gereeld saam en was al verskeie kere saam op die verhoog, maar die dinamiese duo het eers onlangs begin om video’s van hul eie weergawes van bekende liedjies te doen.

En wat sê Madeegha van die ongelooflike reaksie? “Sy sê net ‘oh my gosh’,” lag Ashur. “Sy verstaan nie hierdie sosiale media ding heeltemal nie! Maar ek is net so trots op haar en so bly dat die wêreld kan sien hoe ongelooflik sy sing.”

Ashur Petersen saam met Francois van Coke op The Voice SA. (Foto: Facebook via @petersenashur)

Ashur ken nie net sy plek agter ʼn mikrofoon nie, maar is ook tuis agter die tromme, klavier en kitaar. Hy is die jongste kunstenaar nog om die Baxter- en die Kunstekaap-teater uit te verkoop met sy Like Father, like Son-aanbieding – ʼn huldeblyk aan sy pa wat hy op die ouderdom van 20 uitgevoer het.

Oor die res van sy planne vir die jaar wil Ashur nog nie te veel verklap nie, maar sê aanhangers kan uitsien na splinternuwe musiek wat binne die volgende paar maande uitgereik word. “Daar is ʼn album op pad, daar is ʼn paar shows op pad en daar is ʼn paar collaborations in die pyplyn. So teen einde Augustus se kant sal mense so bietjie oorspronklike musiek van my af sien.”

Aladdin – A Whole New World ❤️???? (Mother/Son Duet)

Posted by Ashur Petersen on Sunday, June 2, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Maria ·

Baie mooi en pratig hou aan. My so wonderlik om voor sy ma te sing dit kom uit jou hart uit.

Vanessa ·

Wat n pragtige duet saam met jou Ma Ashur! Sy moes ook eintlik deelgeneem het aan The Voice. Sy het n pragtige stem. Welgedaan!

Heidi ·

Baie spesiaal. Kyk net hoe kyk sy met trots en liefde na haar seun. En sy sing net so pragtig!

Cherokee ·

Sy pa se musiektalent vloei sterk deur diè seun se are..?
En sy ma? Jimmel daai vrou kan sìng! Hy was gelukkig om dit van bèìde kante te kry. Wat moet die vrou dink as sy sien slegs sy pa kry die komplimente daarvoor? Sy het ‘n stem soos min!

T ·

Ag dit is so so so pragtig!!! Mag ek ook eendag so ‘n mooi verhouding met my seun hê.
Julle is dierbaar. So mooi.

Rikku ·

Dit is so mooi, my trane stroom oor my wange. Wat ‘n mooi lied gelewer deur Ma en Seun.
Taliep is seker net so trots op hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.