Irene-Louise klim vinnig op Top-20; Steve sing saam oor pa se hart

Steve Hofmeyr en Touch of Class het saam opgeneem aan ʼn liedjie getiteld “ʼn Pa se hart”. Hulle het maande lank aan die liedjie gewerk en hoewel daar nie ʼn spesifieke uitreikingsdatum was nie, het hulle genoop gevoel om die liedjie nou uit te reik.

“Ons lewe in ʼn mal wêreld – jy word een oggend wakker en die land is beroerd. Al wat jy wil doen, is om jou kinders te beskerm,” sê Dusty van Touch of Class oor dié snit.

“Ek en jy weet dit is nou onderstebo tye, veral in Suid-Afrika. Ma’s, pa’s, oumas en oupas hardloop daar buitekant rond met wapens om hulle families te beskerm,” sê Steve oor die liedjie.

Deon van der Merwe, wat al die langste ʼn lid van Touch of Class is, sê: “Dit is die regte tyd om die lied vry te stel, want dit is nou dat ʼn pa se hart bekommerd is oor sy kinders in hierdie tye waarin ons leef.”

Fransien Scott het in ʼn musikale huis grootgeword en het met lirieke en melodieë begin eksperimenteer op haar sussie se klavier toe sy 11 jaar oud was.

Hoewel sy in ʼn dramarigting studeer het, het sy elke moontlike oomblik in die musiekafdeling deurgebring waar sy saam met haar vriende liedjies gekomponeer en geharmoniseer het.

Ná skool het sy die groep, Niche, gestig, wat deurgedring het na die halfeindronde van die ATKV-crescendo-kompetisie met die liedjie “Roei”. Die liedjie is met behulp van Lucas Maree geskryf.

Sy het haar nuwe lied, “Staan reg”, geskryf nadat haar ma met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.

“Die inspirasie agter die liedjie is die verliese wat die mensdom regdeur die lewe ervaar. Dit is beslis ʼn romantisering van die siekte wat natuurlik glad nie so verloop nie, maar dit handel wel oor die verlies van ʼn verhouding, van dinge wat jy kan onthou van iemand wat vir jou spesiaal is, of selfs jou behoefte om eerder te vergeet wanneer die waarheid te moeilik is om te aanvaar.”

Luister gerus hieronder na die hele lys nuwe vrystellings en laat ons weet watter een jou gunsteling is in die kommentaargedeelte onder.

 

Die week se Maroela Media Afrikaanse Top-20:

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Irene-Louise van Wyk se nuwe enkelsnit, “Tekkies brand”, is vandeesweek in die vierde plek nadat dit verlede week die Top-20 in die 17de plek betree het.

Rooksein spring ook van die 20ste plek na die negende posisie met “Damlelielief”. Francois van Coke se “Ons het gewen” is vandeesweek in die vyfde plek.

Appel bly vir eers bankvas in die no. 1-posisie met “Dina”.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar 7 snitte wat styg, 10 wat daal en 3 wat die week onveranderd bly.

  1. Appel – “Dina”
  2. Riaan Benadé – “Vat ʼn bietjie”
  3. Reën – “Vrystaat vlaktes”
  4. Irene-Louise van Wyk –“Tekkies brand”
  5. Francois van Coke – “Ons het gewen”
  6. Appel – “Boerenooi”
  7. Riaan Benadé – “Spontaan”
  8. Appel – “Hier sal jy boer”
  9. Rooksein – “Damlelielief”
  10. Bernice West – “Sonop-blom”
  11. Elandré – “Dag en nag”
  12. Riaan Benade – “Gooi nog ʼn whiskey”
  13. Bernice West – “Kom binne”
  14. Jan Jan Jan – “Die RSA is in my DNA”
  15. Brendan Peyper – “Op jou spoor”
  16. Appel – “Hardwerkende man”
  17. Elandré – “Binne & buite”
  18. Fatman – “Vuil Coke”
  19. Christia Visser – “Beste leuen wen”
  20. Jo Black & Refentse – “Rig jou oë na die berge”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data), asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.