Irene-Louise sing roerende duet saam met ontslape sangeres-ma

Irene-Louise van Wyk volg in haar ontslape ma, die sangeres Irene van Wyk, se voetspore. (Foto: Jorietha Rabie)

Vandeesmaand is dit 11 jaar sedert Irene-Louise van Wyk haar ma, die sangeres Irene van Wyk, aan die dood afgestaan het, maar die hartseer lê steeds vlak.

Só vertel Irene-Louise, wat 17 jaar oud was toe haar ma op 12 Oktober 2009 in ʼn motorongeluk op die Delmas-pad buite Pretoria dood is.

Sedertdien volg Irene-Louise in haar ma se voetspore en is sy besig om ʼn musiekloopbaan vir haarself uit te kerf met pop-treffers soos “Hou jou hande van my lyf af” en “Stukkende ruite”.

Ma Irene was 25 jaar lank ʼn bekende in die musiekbedryf, met sewe vollengte albums agter haar naam. Voor haar dood het Irene kommersiële musiek opsy geskuif en op gospel begin fokus. Haar laaste album, In U Spore, is in 2007 uitgereik. Sy was ook voorsanger van die groep Chess.

Irene-Louise sê sy koester nog altyd die droom om saam met haar ma te sing, al is dit nie nou meer in werklikheid ʼn moontlikheid nie.

Sy het egter onlangs dié droom bewaarheid deur een van Irene se grootste treffers, “Kringe”, as ʼn duet saam met haar ma op te neem vir haar jongste album Ek voel soos Oee.

Dié liedjie het oorspronklik in 2004 in Irene se duet-album getiteld Lyne van jou lyf verskyn en is destyds saam met die popsangeres Nádine opgeneem.

“‘Kringe’ gaan oor ʼn ma-en-dogter-verhouding, so dit was die natuurlike keuse vir my om saam met my ma op te neem. Vir my is dit ʼn pragtige dog hartseer liedjie, maar ander mense sal dalk vreugde daarin vind.”

Sy vertel sy het in die ateljee so daarop gefokus om die harmonieë en woorde reg te kry dat sy nie juis aan haar emosies gedink het nie.

“Die dag toe ek die liedjie terug ontvang en ek luister daarna deur my oorfone, het ek gebreek. Dit het my skielik getref en ek het ʼn warboel van emosies gevoel. Ek wens sy was hier om die liedjie te kon luister. Ek mis haar. Dit was moeilik.”

Daar is geen twyfel dat Irene ʼn wonderlike ouma vir haar kleinkinders sou wees nie, sê Irene-Louise. Irene-Louise is die ma van klein Kelsey (1) en haar ouer broer, Vaughn, is ook pa van twee jong spruite.

“My ma sou die koelste ouma ooit gewees het, want sy was die koelste ma ooit. Tot vandag toe is sy die ongelooflikste vrou wat ek nog ooit ontmoet het. Sy was ʼn bol van inspirasie, wysheid en energie en sy was almal se pel en terapeut.”

Irene-Louise as jong meisie saam met haar ma, Irene. (Foto: Verskaf)

Sy sê min mense het egter geweet hoe eensaam Irene soms was. “Met haar begrafnis het ek só gehuil, natuurlik nie net omdat dit my ma se begrafnis was nie, maar omdat daar so baie mense daar was en ek het gewonder ‘waar was julle toe my ma gelewe het?’”

Irene-Louise hou haar lyf ook deesdae sakevrou met haar splinternuwe onderneming Rinx en deel gereeld foto’s van Kelsey en motiveringslagspreuke oor geestesgesondheid met haar altesaam 28 200 volgelinge op Instagram.

“My ma het haar eie uitdagings met geestesgesondheid gehad en dit was nie destyds soos vandag waar mense meer openlik oor geestesgesondheid praat nie. Sy het alles vir haarself gehou.

“Ek en sy het die beste verhouding gehad, al het ek haar ook soms lekker opdraande gegee met my tienernukke. Sy het presies geweet wanneer sy my ma moes wees en dan was sy baie streng en kon my op my plek sit. Maar sy het ook geweet wanneer om my vriendin, vertrooster en ondersteuner te wees wanneer ek haar nodig gehad het.”

Sy en Irene het gereeld bederfpartytjies gehou en haar ma het haar grimering vir skoolfunksies gedoen, onthou sy.

Irene-Louise en haar man, Nick du Preez, saam met hulle dogtertjie, Kelsey, op die strand. (Foto: Instagram/Irene-Louise van Wyk)

“Sy was my beste vriendin. Dit is hoekom ek so hard gebid het vir ʼn dogtertjie, want ek het gehunker na daardie ma-en-dogter-verhouding wat ek en my ma gehad het.”

Sy verklap dat een van haar en haar man, Nick du Preez, se grootste drome is om vir Kelsey eendag Disneyland toe te vat. “Nick is haastig en wil haar sommer binnekort soontoe neem, maar ek stry en sê ons moet wag tot sy ten minste tien jaar oud is.

“Ek en my broer kon na my ma toe gaan vir enigiets. Ek hoop dat ek en Kelsey ook daardie tipe band sal hê. Ek sien hoe ek in die toekoms ook Kelsey se grimering doen en saam met haar bederfpartytjies hou.”

“Kringe” is beskikbaar op alle digitale platforms.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.