Irene-Louise-treffer boor goud raak onder jongklomp

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Die blondekop popsangeres Irene-Louise van Wyk se splinternuwe enkelsnit, “Tekkies brand”, het goud raak geboor onder jong Afrikaanse musiekliefhebbers.

Nie net is die musiekvideo, wat Sondag op YouTube bekend gestel is, uiters gewild nie, maar die liedjie is ook tans ʼn toonaangeër op TikTok (trend) met sowat 1 200 TikTok-gebruikers wat reeds die liedjie as ʼn klankgreep (sound) vir hulle video’s aangewend het.

Sommige van dié TikTok-video’s is al tot 120 000 keer gekyk. “Die liedjie was ook nommer een op iTunes, maar Elvis Blue het my van die troon af geskop,” vertel Van Wyk laggend aan Maroela Media.

Sy is oorweldig deur die positiewe reaksie wat die liedjie ontvang en bieg dat sy aanvanklik senuweeagtig was daaroor om ʼn nuwe rigting met haar klank in te slaan.

“Om ʼn liedjie uit te reik en dieselfde opgewonde energie te ontvang deur die luisteraars as wat jy self oor die liedjie voel, is meer as wat enige kunstenaar voor kan vra.”

Van Wyk sê sy, Roux Cloete en Dirk van Niekerk het doelbewus daarop gefokus om ʼn liedjie te skryf wat die voete sal laat jeuk vir ʼn langarm-skoffelsessie.

“Ek was baie senuweeagtig oor hoe mense die liedjie gaan ontvang, want mense hou van my vir my unieke klank. Toe ek my stem gaan opneem het by Sean Butler, kon ek hoor hulle het reeds bietjie aan die liedjie geskaaf en het meer daarvan begin hou.

“Toe ek uiteindelik die finale gemengde produk ontvang, was ek weggeblaas en ek was so opgewonde. Alle angstigheid oor die liedjie en wat mense daarvan gaan dink, het net verdwyn.”

Dirk van Niekerk, wat treffers soos “Boerepompie”, “Harde kole” en “Ek like hoe jy dans” vervaardig het, het ook “Tekkies brand” se vervaardiging behartig.

Die musiekvideo, wat sowat 8 000 kykbeurte op YouTube gekry het binne die bestek van ʼn dag, is by die Padstal-kuierplek in Pretoria geskiet.

“Ons het ʼn paar mense gekry om te sokkie en ook ʼn paar wat ordentlike danspassies kan uitvoer. Ons het heerlik gekuier, gedans en gelag. Ek is nie normaalweg ʼn sokkie-girl nie, maar dit was baie pret om die video te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

isabelle ·

Baie lekker oulike liedjie….ek mis mal oor hierdie sangeres SY IS SO SPONTAAN
Gee my n huppel in my stap :P

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.