Irene-Louise van Wyk se jongste enkelsnit: ‘Dit is ek teen die wêreld’

Irene-Louise van Wyk. (Foto: Jorietha Rabie Photography)

Irene-Louise van Wyk voel soos ʼn nuwe mens en sy is gereed om dit vir die wêreld te verkondig. Só vertel sy aan Maroela Media op die stel van haar splinternuwe musiekvideo vir die enkelsnit “Ek voel soos oee”.

Die musiekvideo is vandag (Vrydag) vir die eerste keer op Maroela Media te sien.

Die energieke atmosfeer op die stel van die video is tasbaar. Van Wyk het haar aanhangers uitgenooi om deel te wees van die video en mense het van heinde en verre, selfs uit die Vrystaat, gereis om saam met Van Wyk voor die kameras in Pretoria te wees.

Terwyl die liedjie hard oor die luidsprekers speel en die regisseur van die video, Luther van der Watt, hard aan die werk is in die ateljee, neem Van Wyk foto’s saam met aanhangers en gee tussendeur aandag aan haar sewe maande oue babadogtertjie Kelsey.

“Dit is altyd goed om jouself te herskep as ʼn kunstenaar,” sê Van Wyk oor die nuwe, vars klank van “Ek voel soos oee”.

“Die klank en styl is iets heeltemal anders as wat ek gewoonlik doen. Ek hou daarvan om verskillende goed te probeer. Ek is mal oor die klank wat ek het, maar ek het gevoel iets nuuts is nodig. Die klank is iets anders, maar ek voel dis so relevant, funky, en is ʼn internasionale tipe klank.”

Sy vertel die liedjie is ʼn selfliefdeslied. “ʼn Mens is so geneig om jouself af te kraak, maar sodra ons goed kan praat van onsself dan is ons skaam. ‘Ek voel soos oee’ beteken ek voel goed oor wie ek is, maak nie saak wat ander mense sê nie. Dit is ek teen die wêreld en ek voel goed soos wat ek is. Hierdie is wie ek is – get over it,” sê sy vol selfvertroue.

Tog gee sy toe dat haar selfvertroue gekwyn het na die geboorte van haar dogtertjie en dat kuberboelies haar ondergekry het ná die uitreiking van haar vorige enkelsnit, “Izzit”.

“Ek word oor die algemeen baie gekuberboelie, maar ná ‘Izzit’ het mense my verskriklik geboelie oor alles van hoe ek lyk en hoe ek sing tot wat ek sing. Dit is moeilik om nie toe te laat dat dit jou affekteer nie en mens, het ek my selfvertroue heeltemal verloor. Met moederskap het my lyf ook heeltemal verander en die kuberboelies het nie gehelp nie.

“Maar hierdie is ʼn wedergeboorte vir my. Ek voel goed en is op ʼn baie goeie leefstyl- en gesondheidsreis. Ek verander my hele leefstyl. Ek is ʼn sakevrou, ek is ʼn mamma en ek is in my eie borrel – ek voel soos ooe en dit maak nie meer saak wat ander mense sê nie.”

Daarom is dit vir haar belangrik dat mense moet deel wanneer hulle ook “soos oee voel” en het sy die #EkVoelSoosOeeChallenge op Instagram van stapel gestuur.

Irene-Louise van Wyk en haar skattige dogtertjie, Kelsey. (Foto: Instagram/Irene-Louise van Wyk)

“Ek wil hê mense moet met my deel waarom hulle soos ‘oee’ voel. Daar is altyd iets waarvan jy van jouself hou, dit is onmoontlik dat daar nie ʼn enkele ding is nie. En ek wil hê mense moet dit vier. Al voel jy nie jy het selfvertroue nie, kan jy steeds elemente van jou lewe vier.”

Die liedjie is vervaardig deur Ewald Janse van Rensburg en geskryf deur Roux Cloete. “Dit voel asof Roux die lirieke vir die liedjies uit my brein trek. Ek weet nie hoe hy dit doen nie, maar hy doen dit elke keer.”

Sy gee toe dat moederskap bygedra het tot haar nuwe lewensfilosofie. “Moederskap is die lekkerste en mees lonende ding, maar ook baie vreesaanjaend. Jy het hierdie klein mensie wat op jou staatmaak vir absoluut alles. Dit is fantasties om ʼn man te hê wat regtig betrokke is. Ek het nie geweet of ek reg is nie en was baie senuweeagtig toe ek uitvind ek is swanger. Maar ek sê nog altyd ek dink die Here het geweet ek het haar nodig gehad nog voordat ek dit self geweet het.”

“Ek voel soos oee” is digitaal beskikbaar by Apple Music, Spotify, Google Play Music, Deezer, YouTube Music en Joox.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Ek voel soos oee”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.