Is Afrikaanse musiek so vrot as wat baie sê?

oorfone-musiek-oudio-slimfoon

Foto: StockSnap/Pixabay.com

In ʼn onlangse vlaag kritiek in briewe aan koerante, op aanlynnuuswebwerwe en sosialemediaforums teen Afrikaanse musiek het sangers, liedjieskrywers en radiostasies behoorlik deurgeloop. Sangers is beskuldig van “ritmelose, sinnelose, sielverterende en irriterende elektroniese getjank”; liedjieskrywers het deurgeloop vir “herhalende en niksseggende lirieke” en radiostasies “wat nie tussen goed en sleg kan onderskei nie” moes hoor programopstellers “doen nie die nodige navorsing om ordentlike materiaal te bekom nie”.

Verdoesel in dié klagtes kom die eeue-oue probleem na vore: Wat is goed en wat is sleg, wat is reg en wat verkeerd? Oor smaak, het die Romeine dit al uitgemaak, kan ʼn mens nie ʼn finale beslissing vel nie. ʼn Mens se persoonlike voorkeure bly bloot subjektiewe opinies wat nie reg of verkeerd is nie en nooit so hanteer moet word nie. Bowenal kan smaak nooit afdwingbaar wees nie. Die een se ordentlik is die ander se hondvervelig; die een se getjank is vir die ander die toppunt van tere emosie.

Nietemin word die Romeine se wysheid maklik in die wind geslaan: Dít waarvan jy hou, word sonder meer gelykgestel aan “goed”. Net soos dít waaraan jy nie erg het nie, meteens kwalifiseer as “vrot”.

Maar moenie dink die kwessie oor die gehalte van Afrikaanse musiek is ʼn nuutjie nie. Met tussenposes is daar telkens ʼn welling wat opstoot en oorspoel soos nou. In 2012 het Ilza Roggeband in dié verband in Huisgenoot kwellings van allerlei aard te berde gebring. Van die sterkste argumente was dat “die mark oorstroom is met Afrikaanse musiek van swak gehalte”, dat daar “te min komponiste, te min liriekskrywers en sangers is wat vernuwend dink en doen” en dat “vernuwing, vernuwing en nogmaals vernuwing nodig is”. Vyf jaar later word steeds briewe geskryf, grappe gemaak en kritiek gelug oor eentonige Afrikaanse musiek, met vertakkings van doef-doef tot yl en soms ylende lirieke.

Luisteraars, of dan dié wat nie meer wil luister nie, praat van afskeid neem van Afrikaanse musiek. Eweso praat sommige van hulle van voortaan radiostasies ondersteun wat nié Afrikaanse musiek speel nie en daar is ook dié wat meen groter beheer moet toegepas word om te verseker dat gehalte gehandhaaf kan word, dat platemaatskappye musiek moet keur voordat dit uitgereik word.

musiek-oorfone-bladmusiek

Foto: Matuska/Pixabay.com

Lirieke is nié poësie

Andries Bezuidenhout, skilder, Afrikaanssprekende digter, musikant – indertyd lid van Brixton Moord en Roof Orkes en meer onlangs van die kollektief Die Vrye Radikales – en deesdae solokunstenaar in die sanger/liedjieskrywer-genre, se mening is onomwonde oor keuring soos dié waaraan poësie deur uitgewers onderwerp word. “Asseblief, hou die poëtiese hekwagters se pote van ons musiek af weg! Die bestaan van swak lirieke is ʼn klein opoffering om te maak in die belang van artistieke vryheid,” voer hy aan. Artistieke vryheid sodat musiek kan wees wat dit wil wees. Want ten diepste is lirieke nie poësie nie en wíl dit ook nie poësie wees nie.

In elk geval is die mag van platemaatskappye wat sou kon keur – en wat dit in die verlede wél gedoen het, sê Bezuidenhout – nou daarmee heen. “Dit is deesdae prakties onmoontlik,” sê hy. “Daar is nou musikale anargie.”

Daarvoor het die internet en die opkoms van digitale media gesorg. En met tegnologie wat goedkoper geword het, het dit vir musikante moontlikhede gebied om musiek goedkoper op te neem en te versprei, sonder dat enigiemand ʼn oog gegooi het oor die gehalte van die produk. Met die platemaatskappy uit die prentjie, kan letterlik enigiets uitgereik word. Soos dit nou duidelik die geval is.

“Noudat daar nie meer ʼn filter is nie en elkeen hul musiek kan opneem en versprei aan die algemene publiek deur die internet, het die standaard drasties afgeneem,” skryf Deon Maas in sy jongste boek, Melk die heilige koeie. “Die Afrikaanse publiek het enigiets gekoop, aanvaar dat backtracks die norm is en elkeen sy oomblik in die son gegee.” In die Roggeband-artikel het hy in 2012 al verklaar: “Die Afrikaanse mark is die afgelope dekade ʼn vullisdrom vir talentlose mense wat die vermetelheid het om hulleself as musikante te beskryf”.

Maas se ervaring en agtergrond, as voormalige algemene bestuurder by Gallo Records, laat ʼn mens ag slaan op dié kritiek, maar dan moet ʼn mens tegelyk in gedagte hou dat kommersiële musiek ʼn kommoditeit is, soos Coenie de Villiers daarna verwys. De Villiers, wat verlede jaar sy jongste CD, Emoji, uitgereik het, hou vol “musiek kan nie elitisties wees nie, juis omdat dit ʼn massaproduk is. Dit is ʼn kommoditeit en as ʼn vrot liedjie betekenis het vir iemand, dan is dit goed so. ʼn Mens kan nie neersien op iemand anders se keuses nie. As kommersiële onderneming is dit vraag en aanbod wat die inhoud van die mark bepaal.”

Musiek op radio

Is vraag en aanbod ook die kriterium wat ʼn openbare uitsaaier soos RSG aanlê in die bepaling van sy speellys? Magdaleen Kruger, dié radiostasie se bestuurder, benadruk dat RSG nie werklik ʼn speellys het nie, maar wel gebruik maak van “vullermusiek” wat met behulp van ʼn program geskeduleer word. “Die woord ‘speellys’ skep ʼn verwagting. Ons hoofkriterium is dat die musiek, wat tussen programme gebruik word om tyd te verwyl, musiek moet wees wat die luisteraar ‘goed laat voel’, met ander woorde, musiek met ʼn opgeruimde wysie. Middelmootmusiek wat jou in ʼn goeie luim kry. Nie rock nie en ook nie stadiger of wroegende musiek nie.

“Neem nou maar Fredi Nest se ‘Ogies vir my’. Dit is nie watwonderse lirieke nie, maar die wysie kan jou dalk net op pad huis toe ná ʼn harde dag in ʼn goeie luim kry. En dit is al wat RSG wil bereik.”

Uiteraard moet radiostasies voldoen aan reëls ten opsigte van musiek as deel van Icasa se lisensievoorwaardes. “In Pretoria FM se geval, moet 60% plaaslike musiek gespeel word en 50% daarvan moet Afrikaanse musiek wees,” sê Hennie Koortzen, stasiebestuurder van Pretoria FM. “Met die hoeveelheid musiek wat daagliks op Pretoria FM uitgesaai word, raak dit al moeiliker om genoeg goeie Afrikaanse musiek te vind om aan die regulasies te voldoen.”

In dié opsig verwys Koortzen na baie van die nuwe Afrikaanse musiek wat talle herhalings bevat in die lirieke asook ʼn vermenging van taal “wat luisteraars vinnig negatief laat reageer”. Boonop gaan die tema van die meeste nuwe uitreikings oor een of ander vorm van liefde en daar is nie veel variasie op die tema nie. “Daar is ongelukkig onder kunstenaars en baie keer Afrikaanse kunstenaars, die neiging om die mark slaafs na te volg deur die soort musiek te maak wat hulle glo goed verkoop,” voeg hy by. “Om genoeg goeie nuwe uitreikings te kry, bly ʼn uitdaging.”

Kruger eggo Koortzen se gevoel: Daar is nie genoeg Afrikaanse musiek van hoë gehalte nie. Met betrekking tot gehalte onderskei sy tussen “kunstenaars (dié mense wat werklik meesters is en wat kan skryf én sing), sangers (wat dit wat vir hulle gegee word om te sing, goed kan vertolk) en singers (dié wat verkieslik nié moet sing nie)”. Die bepaling dat RSG sedert einde verlede jaar 90% plaaslike musiekinhoud moet hê, illustreer dié gehalte-tekort maar te duidelik. “Dit hou onder meer in dat ons ook die musiek van singers moet nader hark om voldoende te kan skeduleer.” Dit is dalk dié musiek wat buite die teikengehoor se smaak val. Kyk ʼn mens na luisteraars se kommentaar, lyk dit asof die grootste ontevredenheid daarvandaan kom.

Gestaal ná ʼn hele klomp jaar as stasiebestuurder, noem sy dat dieselfde liedjie uiteenlopende kommentaar kan ontlok: “Die een luisteraar sal laat weet die liedjie wat nounet gespeel is, was fantasies. Die volgende luisteraar sal vir jou laat weet dit was die grootste drek denkbaar.”

Maar dit is die speelveld waarin radiostasies hulle bevind. “Dit sal altyd ʼn uitdaging bly om alle luisteraars tevrede te stel met die soort Afrikaanse musiek wat gespeel word,” sê Koortzen. “Met ʼn ouderdomsgroep van tussen 30 en 55 en natuurlik ook luisteraars wat ouer is en almal wat gunstelinge en voorkeure het, is dit feitlik onmoontlik om aan almal se behoeftes te voldoen.”

afrikaanse-musiek-cds-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Soeke na gehalte

“Gehalte” is ʼn woord wat nogal dikwels in die debat oor Afrikaanse musiek na vore kom. Anton Goosen haal wyle Ollie Viljoen aan wat gesê het “daar is net twee soorte musiek: goeie musiek en swak musiek”.

“Daar is nie ʼn resep nie,” sê Goosen. “Dit bly belangrik dat die luisteraar geboei moet bly tot aan die einde van die liedjie. Of dit nou net met klavier of kitaar uitgevoer word en of daar ʼn wyer klankervaring ter sprake is.”

Dit klink na iets wat ʼn mens sommer net weet. Soos Simon Witbooi, oftewel Hemelbesem, dit stel: “As ʼn song praat – dan is dit ʼn goeie song.”

“ʼn Goeie liedjie,” sê Laurika Rauch, “gryp ʼn mens dadelik aan. Jy weet nie altyd hoekom nie. Ek vermoed dit is ʼn geval van kommunikasie vóór begrip.”

Kom ʼn mens by die woorde van liedjies is dit duidelik dat lirieke nie poësie is nie, “maar dit beteken nie dat dit onpoëties hoef te wees nie,” sê De Villiers. As voorbeeld verwys hy na Koos du Plessis se “As almal ver is” en spesifiek na die woorde “… weerloos en eensaam, soos ʼn vrou voor ʼn spieël”.

“Daar is maar 5% wat lirieke op daardie vlak kan skryf,” sê hy. “Dit is so eenvoudig en tegelyk het dit soveel betekenis. Die mikpunt is iets wat betekenis het, lirieke wat iets te sê het, taal wat wys wat dit kan doen.” En dan droom hy van Kurt Weill en Jacques Brel wat “asemrowende goed met eenvoudige taal kon doen”.

Maar net as ʼn mens nostalgies wil raak oor die goeie lirieke van weleer, is daar hedendaagse skrywers, soos Jaco van der Merwe van Bittereinder en die manne van Die Heuwels Fantasties, wie se liedjies in Rauch se jongste album, Die reis, opgeneem is – ʼn samewerkingservaring wat sy beskryf as “ʼn inspirasie om te sien watter kwaliteit werk daar deur van die jonger kunstenaars gelewer word – wat veral glad nie skryf volgens die ou-skool norme nie. Hulle boodskap is baie sterk en dit word vars oorgedra.”

Vernuwing en tradisie

In dieselfde trant sonder Bezuidenhout mense uit wat werklik vernuwend te werk gaan. Benewens David Kramer en Anton Goosen, “die jonger generasie met mense soos Les Javan, Frazer Barry en Churchil Naude … wat musikale brûe herstel wat deur apartheid afgebreek is, veral tussen bruin en wit – ons is immers bloedfamilie en ons deel ʼn unieke musiekgeskiedenis”.

Riku Lätti se TV-program, Die wasgoedlyn, waar jy enigiets vind “van ʼn werkshemp tot kerkbloes, gelapte sokkies, frokkies vol gate, onderbroeke van Jockey en die onderrokkie van jou bokkie”, het heelwat bygedra tot ʼn bewuswording van vernuwing – wat grotendeels ʼn terugkeer is na ʼn plaaslike musiektradisie.

Vernuwing is altyd goed en progressief, sê Goosen, “dieselfde as om terug te gryp na die wortels van tradisie. Kruisbestuiwing is gesond, solank dit nie na-aping word nie. Kyk maar na ons musiek: Daar is Ierse, Europese en cajun-invloede in ons musiek”. Hy vertel toe hy die Bushrock-album in 1996 gemaak het, het Isaac Mtshali, tromspeler van Stimela, wat ook gewerk het aan Paul Simon se Graceland, vir hom wat Goosen is gesê: “Sit nou hier op die mat saam met my en speel jou kitaar so that we can hook into your roots.” Albei was verstom oor hoe naby boeremusiek en marabi op grondvlak aan mekaar is.

Toe Simon destyds, in die 1980’s, op besoek was aan Suid-Afrika, het hy teenoor De Villiers opgemerk: “Kan jy dink wat sal gebeur as julle in Suid-Afrika na mekaar se musiek gaan begin luister! Julle het die ongelooflikste musiek tot julle beskikking.”

“Die goeie werk wat in Afrikaanse musiek gedoen word, kry nie die erkenning wat dit verdien nie. ʼn Radiostasie soos 702 sal die bestes uitlig in Xhosa en Venda, maar byvoorbeeld nie erkenning gee aan knap werk in Afrikaans nie.” Die grootste erkenning wat hy nog ontvang het, sê De Villiers, was toe hy in 2012 die Sama vir die beste volwasse kontemporêre album gekry het vir sy album Hart van glas – “juis omdat ek in daardie kategorie meegeding het met iemand soos Judith Sephuma”.

“Musiek gaan oor kruisbestuiwing,” hou Bezuidenhout vol. “Wêreldwyd is daar ʼn terugkeer na die roots in reaksie op die generiese. Dít maak ʼn mens opgewonde.”

Boonop benadruk meer kunstenaars die feit dat Afrikaanse musiek as goeie musiek sy plek in die wêreld van musiek kan en moet vol staan. “Ek luister na Yslandse kunstenaars en ek verstaan nie ʼn woord wat hulle sing nie, maar die musiek spreek tot my,” sê Rauch. “Afrikaanse musiek kan verder geluister word, glo ek.” Die toenemende belangstelling in Nederland en België is ʼn aanduiding van ʼn groterwordende gehoor vir musiek in Afrikaans. En dan moet ʼn mens ook nie die uitgebreide netwerk van Afrikaanssprekendes in die buiteland uit die oog verloor nie.

‘Frustrasie … maar ook positief’

Is die vernuwing waarna Roggeband in 2012 verwys het en so reikhalsend uitgesien het, dan besig om ʼn werklikheid te word?

Kruger meen daar is ʼn neiging onder die deursnee RSG-luisteraar om te draai teen “gemorsmusiek”. Só blyk dit uit terugvoer wat dié stasie kry. En so blyk dit uit die onlangse vlaag menings oor Afrikaanse musiek.

Niemand ontken die beperkings wat die Afrikaanse musiekmark het nie. “Mense soos Leonard Cohen en Tom Waits sou nie heeltyds musiek kon maak as hulle Afrikaans was nie,” meen Bezuidenhout. “Dis ʼn frustrasie, maar die feit dat die musiektoneel nogal intiem is, is ook positief.”

Nie alles is so negatief soos wat briefskrywers en klaers graag wil glo nie.

Wat ʼn mens boonop nié uit die oog moet verloor nie, is dat ʼn beduidende segment luisteraars van Afrikaanse musiek nie noodwendig hoë artistieke standaarde in gedagte het nie. Hulle wil sing en dans en lag. Dit is ook waar van luisteraars in Duitsland en Nederland. Luister maar na Nederlandse kommersiële musiek – banaler kan dit kwalik. En as ʼn mens toegang het tot Spaans of Italiaans of Portugees, gaan jy tien teen dieselfde bokkie-sokkie-rokkie-brabbel kry as waaroor mense mor ten opsigte van Afrikaanse musiek.

Daar is nie iets fout met Afrikaanse musiek as luisteraars musiek verkies wat hulle laat goed voel nie. Die woorde “smaak” en “verkeerd” is immers nie stalmaats nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

83 Kommentare

chris ·

dit is nie net vrot nie dit is pateties.Ek verander dadelik stasie wanneer daar n lied in afrikaans gespeel word.

Johan ·

Ek wroeg ook daagllingiks deur Afrikaanse musiek Dis n marteling. Party klink kompleet soos skape wat bler. Nee wat magtag Man!!!

willis ·

Party is nie sleg nie, maar daar is onuitstaanbare nommers….

piper ·

party mense sing so swak dat n mens nie eens kan uitmaak in watter taal hulle sing nie. om die lirieke te volg is onmoontlik. musiek wat in die sestigs opgeneem was met ou tegnologie se lirieke is duideliker as sommige van vandag.

John ·

‘n Mens se gevoel wissel tussen die uiterste frustrasie oor die immer-dieselfde deuntjies se geboem-boem en dan weer begrip vir die jongmense se soeke na ‘n eie musiek-identiteit tussen die seker 500 sangers en groepe musikante. Die ongeluk is net al die probeerslae ook opgeneem en ons aanmekaar daarmee op tv en radio gebombardeer word. Hoekom dink die stasies almal wil gedurigdeur dieselfde genre aanhoor? Hoekom hoor ons nie meer buitelandse of ouer musiek nie so asof die SAUK se ‘rooiliggies’ steeds die botoon voer? Geen klassieke musiek nie (net laataand wanneer almal slaap) of simfoniee wat voorheen smiddae gespeel is. Waar leer jongmense klassieke werke ken? RSG het vervlak tot praatprogramme, twak gewa-wa ure aanmekaar deur dieselfde tannies, soos op ‘n plaaslike kopseerstasie. Jongmense het eers gekook en nou probeer hulle ‘kook’ want werk is skaars, singstem of te ‘not’ maar gee ook ander musiek sy regmatige plek asseblief sodat musikante daaruit kan put en die res ook.

TDW ·

Ek ondersteun Afrikaans en hou van goeie musiek, daar is heelwat goeie Afrikaanse musiek in ons land, maar ongelukkig word bitter min van die musikante se goeie goed op die radio gespeel, want hulle is nog nie bekendes nie. Nou hoor ek altyd die liedjies waar die woorde rym, en dis vir my belaglik, in musiek hoef dit nie te rym nie en natuurlik al die elektroniese musiek met woorde by, dis onnodig, ons het soveel goeie musikante wat regte instrumente speel, speel liewer hulle musiek. Nou die dag hoor ek die belaglikste liedjie met die belaglikste woorde wat my wil my hare uit my kop uittrek, die woorde: “soms is jy hartseer, want jou hart is seer, soms is jy raadop, want jou raad is op” hoe belaglik!!
Ons het puik talent en hoef nie met sulke snert opgeskeep te sit nie.

lynette ·

nou net daardie simple liedjie vir die eerste keer op Jakarana gehoor en ook gedink wat ‘n klomp snert

marianna ·

Chris gaan bly net so 15 jaar in die buiteland sal jy Afrikaans en die liedjies weer waardeer.
Afrikaans is een van die mooiste tale in die wêreld omdat dit so beskrywend is.

Schalk ·

Marianna. Dit is juis Afrikaanse musiek wat my sal dryf na die buiteland. Lyk soms vir my elke tweede persoon wat dink hy of sy kan sing, met n bietjie geld neem CD’s op of maak n video. Dit is absoluut swak!!! Hulle is met niks anders besig as om afrikaanse musiek te verkrag nie. Die lirieke en die vokale gimnastiek maak my naar.

Anne ·

Dis waar afrikaans is beslis ‘n mooi taal.
Maar van die afrikaanse musiek is darem regtig swak.

Vrot ·

Die enigeste goeie afrikaanse musiek kom van die manne van fofpolisiekar. Martin Bester en kie sin is pateties

Wouter ·

Die beste Afrikaanse sanger met sy eie kwaliteit werk is Joshua na die reën. Dit is nou goeie Afrikaans.

Amanda ·

Ek stem saam Wouter. Sy sang en musiek is asemrowend, eg, suiwer en nederig. Gaan kyk na sy opvoerings. Dit is knop in die keel mooi. Soveel talent het ek nog nie in n ander Afrikaanse sanger gesien nie.

Johan. H. ·

Skuus wat ek nog wou se is dat n mens moet n uitsonderlike stem he alforens jy nie mark kan betree..

Neilia ·

Ek luister nie afrikanse musiek nie. Ek koop nie afrikanse musiek nie. Dis net n irritasie wat oor en oor gespeel word. Lirieke maak nie sin nie . Wysies word oor en oor gebruik. En helfte se stemme is vals veral op verhoog, want dan daar nie klankbaan reguleerders om hulle vals note te verdoesel nie.

Bokram ·

Ek hou van afrikaanse musiek,maar die interresant hoe gou die lirieke en deuntjie afgesaag raak

lea ·

ek is mal oor musiek vernaam Afrikaans !! maar die liedjie ooroor srumba agge nee tog oor en oor nee wat dan sit ek ook die musiek af!!!

Adam ·

Scarumba en daai Draai my om jou pinkie draai en ja enigiets wat Baby , Baby

Francois ·

Ek moet darem sê ek het ook vernuwing in Afrikaanse musiek gesoek totdat ek Joshua na die reën ontdek het. Sy eie werk.

Alida ·

So bly oor jul kommentaar oor Joshua. Dit is al musiek wat ek in my motor speel. Dit laat my goed voel. Het ver gegaan om sy cd te kry.

Fritz mulder ·

Net soos wat meeste mense wat kammeras besit en dink hulle is fotograwe gaan dit met Afrikaanse musiek.

Gerhard ·

Baie lekker artikel om te lees Johan,dankie vir jou moeite met die navorsing en gebalanseerde uitleg.

Johann ·

Afrikaanse musiek het 1 rede hoekom dit so groot mislukking is.
Nie net is die patetiese woorde en deuntjie nie maar ook die oomblik as die persoon 1 treffer het dink hy/sy hulle is beroemd.
Ek luister nooit Afrikaanse musiek nie en sorg dat my kind weet dat Afrikaanse musiek is van die duiwel.

Alida ·

Nooit! Jy leer jou kind verkeerd. Ek was vir lank oorsee. Wou nooit afrikaanse musiek luister nie. Want my ouers het net dit gespeel. En nou dan ek groot geword het waardeer ek dit oneindig. Ek praat nou van goeie sangers ook bv. Joshua na die Reën. Dit laat my dink aan Suid Afrika my geboorteland. Laat n kind self sy musiek kies asseblief. Ek luister nou Afrikaanse musiek oorsee en so trots daarop. Dankie vir my ouers.

Reinhardt ·

Luister FPolisiekar, Heuwels Fantasties (eerste album, res is swak) en Spoegwolf. Dit is van die beste musiek wat ek al gehoor het. Nie net in Afrikaans nie, maar dit is wêreldgehalte.

Marietjie ·

Ek noem die wat nie kan sing nie “wanna bee’s” en ongelukkig is hulle in die oorvloed. Wanneer ek ‘n radio vinnig afsit is wanneer ‘n kunstenaar probeer om iemand anders se goed beter te probeer sing. Veral as dit treffers was. Los dit maar vir die oorspronklike kunstenaar.

Ampie ·

Dis nie net Afrikaanse musiek wat swakker raak nie. Engelse “musiek”, indien mens die gemors wat tans populer is as musiek kan beskou, het ‘n totale laagtepunt bereik. Dis seker al minstens 15 jaar op ‘n afdraende pad. Dalk tekens van die tye?

Mr P ·

Ek is al musikant vir 55 jaar. My kinders volg ook in my voetspore. Ons hele huishoudibg is musikaal. Ja hierdie is n baie sensitiewe onderwerp. Van ons materiaal is al op Bokradio in Kaapstad gespeel. Ons ken die bedryf dalk weet ons teveel want waar jy kom wil niemand jou help nie. Het baie materiaal self geskryf en self opgeneem. In hierdie bydryf moet jy konneksies he anders is dit ta ta vir jou. So jammer.

AmY ·

Elke land het sy eie K ultuur. Waarom moet ons by die res van die wêreld aanpas? Waarom ons aan die res van die wêreld se standard meet. Moet al ons sangers dan nou ‘ver-Amerikaans?

Ons is ‘n land met baie diverse musiek en kunstenaars. Waarom word net Afrikaanse musiek altyd geteiken?

Juanita du Plessis kan dalk Brell sing, maar wie gaan dit koop? As ek na Brell se musiek om ‘n braaivleisvuur moet luister, any ek my polse met ‘n wynglas!!!

HB ·

Ek is baie lief vir meeste Afrikaanse musiek, maar daar is werklik ‘n klomp gemors ook. Die lirieke is eenvoudig ‘n spul snert en toon ‘n gebrek aan smaak en verfyning. Theuns Jordaan, Andriette Norman, Joshua na die reen, Bobby van Jaarsveld, Koos du Plessis, Laurika Rauch ……dit is mos nou hoe daar in Afrikaans gesing moet word. Baie van dit diep en betekenisvolle boodskappe.

Sharon ·

Ag nee alle afrikaanse musiek is nie sleg nie, daar is heelwat kunstenaars wat ek mal oor is, van julle oordryf maar lekker.

Peet Schabort ·

Ek het net een vraag (wat eintlik homself beantwoord): Gaan hierdie goed, ekskuus, liedjies/musiek, die toets van die tyd deurstaan?

Willie ·

Dit hoef nie die toets van die tyd te deurstaan nie. Ons lewe elke dag en geniet elke dag wat ons gekry het. Daarom geniet ek daagliks sekere afrikaanse musiek.

Jurgen ·

Stem saam met van jul. Joshua na die reën het ons asem weggeslaan by Die Boer in Durbanville. Nog nooit so talentvolle sanger en mens teegekom nie.

Hou op kla ·

Hou op kla. As jy beter musiek kon skryf,doen dit! Ons afrikaanse musiek “rock”…waardeer dit!

Hendrik ·

Daar kom swak musiek in alle tale voor. Mense moet net leer om te sif en die groter prentjie om Afrikaanse musiek te ondersteun sien. Daar is eenvoudig sanger wat ek nie ondersteun nie. Daar is regtig goeie kunstenaars in Afrikaans en hulle is die groep wat se stembande nog steeds hou na baie jare in die musiek bedryf. Luister maar na die ouens wat so met heesstemme praat, dit is die ouens wat die grense druk van die stemlimiet en gewoonlik nie kan sing nie.

Herman G ·

Bok, Steve, Ge en Laurike is baas. Lochner de Kock en sy pel (naam nou vergeet) en Anton Goosen is nie ver agter nie.

M4 ·

Stem saam, sommige is sommer twak, veral die met die woorde BABY en die MIX van ons taal!! Waarom nie ons mooi taal uitleef in hulle musiek nie – nou moet hulle dit MIX…. Tog is daar baie lirieke wat treffend mooi is en opreg waardeer word.

VanAfrika ·

Ek stem, ons het regtig goeie Afrikaanse musiek en wat ons maak wie ons is. Steve het ons nog nooit teleur gestel nie. Ons Lieflinge was en is nog steeds stemme van die boonste rakke. Dit is kwaliteit stemme van boonste gehalte. Noem maar vir Jannie Moolman, Valiant Swart. Annelie van Rooyen, Adam Tas, uanita Claasen, Ray Dylan, Gerhard Steyn, Die Heuwels Fantasties, Dewalt Wasserfell, Romanz, Locnville, Eden, DJ Ossewa, Adam, Cut Glass, Heinz Winkler, Nadine, Liza Beekman, Kurt Darren, Izal Davel, David Fourie, Vaughan Gardener, Simeon Hamman, Sonja Herholdt, Armand Hofmeyr, Nicolas Louw. Te veel om op te noem. Ondersteun Afrikaanse musiek. Hierdie sangers werk vir n lewe en probeer hul bes om vir julle gehalte musiek te bring. Hulle werk onmenslike ure terwyl meeste van ons om braaivleis vure staan of voor die tv sit en rugby kyk. Ek was al op Steve se konserte waar die gehoor vir hom score hou van die rugby, terwyl hy ons entertain en so kon hy ook bietjie van die rugby volg.

Jaco ·

Ek was nooit ‘n voorstaander van Afrikaanse musiek nie tot ‘n paar jaar gelede. Musiek moet aangepas word om vir die jonger geslag ook aanloklik te klink. Volgens my is vandag se Afrikaanse musiek op die regte pad. Mense se smaak verskil en daarom is’ genres’ geskep. Wat is die doel van musiek as dit net vir sekere mense of ‘n sekere groep bedoel is? Almal moet kan lekker kry waneer hulle musiek luister. Die radiostasies het ‘n beleid om vir soveel as moontlik luisteraars te ‘cater’ en dus speel hulle ‘n verskeidenheid van musiek. As jy nie daarvan hou nie, koop gerus die tipe musiek waarvan jy hou en gaan luister daarna. Die land is klaar opad hel toe in ‘n handsak en ons kerm oor musiek wat ons nie van hou nie. Partykeer wonder ek wie is die kinders en wie is die ouers of is ons lewens so vaal dat ons iets soek om oor te kerm. Luister wat jy wil en wees lief vir dit wat jy doen. Los ander mense se smaak uit en mees belangrikste, ondersteun ons Afrikaanse Kunstenaars.

Bert ·

Ons situasie is glad nie so uniek nie. Dit gaan maar oor die wereld so. Klaagliedere oor die ‘gepeupel’ se musiek [want dit is wat dit is – ‘n klassestryd (of goeie smaak stryd) tussen die ‘grand’ mense en die gewone ou/vrou. Laasgenoemde wil ontspan en die elites wil wroeg. Dit is nou maar hoe dit is. Ons ou volkie het boonop sterk landelike wortels en die oorskakeling na die metropolitaanse aristokrasie se ‘goeie smaak’ en pinkie-in-die-lug oppervlakkigheid neem maar tyd.

Piet Pompies ·

Afrikaanse musiek in Suid Afrika is groot maar nie alle afrikaanse musiek is goed. Musiek is ‘n kuns want die skrywer en sanger se werk word een in die vorm van ‘n melodie, vars en oorspronklik. Baie treffers volg en die musiek word versamel stukke.
Dan kry jy komersieële afrikaanse musiek waar die kunstenaar net daarop uit is om geld te maak, dit is goedkoop bubblegum musiek wat sy onstaan het deur ‘n rekenaar wat kanke namaak. Gewoonlik kort termyn sukses en net een treffer vir ‘n leeftyd.

Dirk T ·

Is trots Afrikaans en met alles wat te doen het met Afrikaans. Dit klink eerder of al die valshede oor Afrikaans en Afrikaners in so ‘n mate geglo word dat daar selfs getwyfel word aan ‘n eie identiteit.

Sus ·

Jy is so reg Dirk. Afrikaanse mense in alle kleure sit hul kinders in engelse klasse op skool om IN te wees en kampstig vir hul toekoms. En dan kry daardie kinders so swaar… Hul huistaal is afrikaans maar sukkel op skool omdat hul in engelse klasse gesit word. Ek beleef dit elke jaar jn die skool. Asseblief mense, engels is goed, maar moenie julle kinders laat skaamkry vir hul eie taal nie. Wees trots afrikaans.

Reinhardt ·

Foto na Dans, Fpolisiekar, Van Coke Kartel, Heuwels Fantasties, Straatligkinders, Spoegwolf, Bacchus Nel, Bittereinder, Herman Kleinhans, Moses Metro Man.

Daar het julle dit. Goeie Afrikaanse musiek van hierdie generasie.

Reinhardt ·

Ekt ‘n hele paar vergeet, maar hier is nog so paar wat ek kan byvoeg.

Faraway George, Tuindwergies, Bouwer Bosch (swak stem, maar goeie lirieke), Zinkplaat en Jack Parow (hy vloek baie, maar sy lirieke is goed).

Reinhardt ·

Mik vir my hart
dit pomp wildernis hier binnekant
ek’s net n toeris
in my geboorteland
gekwesde dier op
anti-biotika.

As dit nie digkuns is nie, dan weet ek nie.

Ysterperd ·

Gaan lees NP van Wyk Louw seun, want jy verwar politieke sentiment met digkuns.

Reinhardt ·

Natuurlik ken ek NP van Wyk Louw… daai is maar ‘n klein uitreksel van n lied wat vir my baie beteken, maar ek is bevrees jy ken nie die lirieke van FPK nie, gaan lees dit en kom terug na my toe. Vele kenners het al genoem dat Hunter Kennedy ‘n digter van ons tyd is, al is dit godslasterend soms.

Jebs ·

Vir elke mooi Afrikaanse-skepping is daar nege patetiese pogings. Jy moet erg onder die invloed wees (van iets) om dit enigsins te kan beskou as iets besonders. Ons het verval in ‘n sisteem van middelmatigheid en selfs sub-middelmatigheid, waar baie mense nie kan onderskei tussen kwaliteit en gemors nie.

Nicolene Boshoff ·

As musiek vir my n storie vertel..ek mos goeie afrikaanse country wat eie gemaak word en nie oorgesing word nie want Don Williams en Charlie Pride is in eie reg goed. Riana Nel sing nogal goed met amper so n aanslag. Maar in my lewe van Matthys Roets is vir my mooi asook Robbie Wessels as hy so vertel liedjie doen in iets bekends. Van Laurika Rauch se liedjies kan ek ook nogal so luister. Ek dink tog so afrikaanse country vertel liedjie kan lekker wees. Ek meen Bellamy Brothers kan maar. En Dan goeie gospel in Afrikaans. Waar jy kan ervaar jou gevoelens is daar kan ook baie lekker wees.

Susan ·

Gaan luister gerus na Hanru Niemand ook. Nie jou gewone bokkie sokkie baby baby kunstenaar nie.

Lekker Piet ·

Afrikaanse musiek is pateties. Elke tweede paloeka wat n mikrofoon kan vashou en/of n kitaar oor sy skouer kan drapeer dink hy kan sing.

Gerrit ·

So ook elke akteur wat in `n sepie speel wat amper onmiddellik “ontpop” as `n sanger……ai spaar my dit !!

Alien ·

Ek het selfs as kind nooit aanklank by Afrikaanse musiek gevind nie, my heimlik daarvoor geskaam. Swak musiek is egter nie uniek aan Afrikaners en Afrikaans nie, gaan kyk en luister gerus na Günther (Ding ding song) van Swede en Danny ja Armi van Finland se “I wanna love you tender” vir soortgelyke gruwels. Deur my hele lewe is daar nog net een Afrikaanse liedjie waarna ek sal luister en wat vir my hoendervel-mooi kwaliteit is: Danie Niehaus se Jy is vrou. Die res herinner te sterk aan die Günthers en Dannys van die wêreld.

Nolsie ·

Ag nou kom plak almal hulle eie simpel musieksmaak hier as borometer van wat goed is. Hulle mis alweer die punt van die artikel, of het dit glad nie eers gelees nie, dalk net die opskrif want hulle kan net een sin op ‘n slag inneem en verwerk!

Frieda ·

Die meeste Afrikaanse musikante moet maar liewer ‘n ander pad inslaan. Die dames begin so onderlangs praat en dan op n volgende noot begin hul skree! Wie wil nou daarna luister? Die mans praat en sing nie. Hul rus na elke 2-3 woorde, daar is net GEEN wysie nie. Luister na Rina Hugo, Carike, Mynie Grove, Ronel Erasmus, Annelie van Heerden, Steve, Bles, Matthys Roets, ……al die ouer sangers/sangeresse sing, hul praat nie. Daar is ook GEEN storie in die lied meer nie, net 1 of 2 sinnetjies oor en oor en oor!! En weer, wie wil nou daarna luister??

Yea ·

Afrikaanse musiek is nie so leeg soos sekere ander groepe wat se musiek sê: aha aha, en yea yea heeltyd nie

Ester ·

Soos in enige taal…. Dit is ñ kwessie van smaak. Niks is so lekker op ñ Saterdag aand en ons prut ñ pot en sinvolle afrikaans musiek speel in die agtergrond. Ek klink beslis ñ glasie op die nuwe cd van Joshua n die reën. Dan

Student ·

Was ook skaam vir afrikaanse musiek. Engels word oral in jou keel afgedruk. By US, vriende, restaurante en sentrums. Tot my vriendin my na n vertoning geneem het. Daar het ek myself weer gevind. Natuurlik is alles nie mooi nie.

Frans ·

Ek weeti hukom afrikaans kastag nou vrot nie. Ga luister biqi na JY MOET LEKKA VERJAAR OU FRIKKIE van Dozi. Goeie tunes.

Kan nie sing nie ·

Daar is nie een goeie afrikaanse “pop” kunsternaar nie. Almal klink dieselfde en die goed moet altyd rym. Jy sal ook altyd n baby,liefie en n mmmm,mmmm yeahi n kry. En dan begin ek nie eers oor seker sangers praat, wat Amerikaanse liedtjies vat en dan net vertaal na afrikaans toe nie. Die mense wat wel kan sing kry nie radio tyd nie. Maar soos julle se, almal se smaak verskil. Maar ons gaan nie goeie gehaalte musiek kry tot die mense ophou om die snert musiek te koop nie

FJD ·

Sommige afrikaanse musiek is die swakste gemors wat mens kan luister – ek wil nie veralgemeen nie daarom sê ek sommige. Dieselfde lerieke word oor en oor en oor en oor gesing soveel so dat mens naderhand die wille weghol wil kry, die deuntjies is dieselfde en sieldodend vervelig, en my groot vraag en antwoord is hoe sommige van die sangers ooit kontrakte gekry het? Geen mens weet nie. Gemengde taal in die liedjies is my dood, en dan word daarop geroem dat dit Afrikaanse musiek is!!! My kleinseun en kleindogter van 3 kan ‘n beter konsert hou ……

Jacqui Moolman ·

My diepste wens is dat julle gehoor sal gee aan die kritiek. Ek luister nie meet RSG nie, want die patetiese musiek maak my absoluut mal. Aiai, gee vir my Anton Goosen asb. J

Deon ·

Ek is ‘n kind van die 1960’s en het maar so onlangs as ses maande gelede gereeld na RSA begin luister. Sovér my musieksmaak aanbetref, is ek doodhêppie wat aan my as Afrikaanssprekende luisteraar opgedis word. Daar is natuurlik enkele uitsonderings, maar hulle is vir my totaal ignoreerbaar en ek laat dit oor aan ander luisteraars wat sulke musiek geniet. Die jammerlike reël (die sóveel persentasie kwota) wat op die SABC-radiostasies afgedwing word moet egter myns insiens verander word sodat ek meer na buitelandse kunstenaars kan luister.

Hannah ·

Niks in hierdie land wat my so bang maak soos die Afrikaanse musiek…

Chris ·

Ek hoop van harte dat die wat alles hier bo gese is pos gaan vat by die wat betrokke is by AFRIKAANSE MUSIEK. Word nou bietjie WAKKER

Krappie ·

Wanneer “Afrikaanse” sangers minder begin sing van hulle “Baby Baby “, “Angel” of “Beautiful” sal dit baie beter gaan met Afrikaanse musiek. Wat probeer die “Afrikaanse” sangers bereik om hulle taal so te meng?. Dit is nou definitief nie “cool” nie. Ek stem saam party van die Afrikaanse musiek is maar aan die goor kant. Wat my werklik dwars in die krop steek is dit wanneer ‘n mens ‘n Afrikaanse lied hoor en skielik slaan die sangers oor na ‘n ander taal. Dit is nou werklikwaar een groot irritasie en ek skakel sommer die radio af.

Krappie ·

Frieda, van die sangers wie jy noem se musiek word glad nie meer op die radio gespeel nie, selfs nie op Pretoria FM nie.

Jan ·

Ek wonder net of baie van die kritiek nie spruit uit ons swak selfbeeld as Afikaansprekendes wat glo dat Engels en andere altyd beter, gevolglik is ons skaam vir onsself. Ja daar is swak musiek (bar en kru), maar breed gesien, lyk dit goed. Wees bietjie trots op jou taal en verdra die wat nog moet groei. Daar is nie musiek in ander tale wat so groei soos Afrikaans. Dan kan dit nie so vrot wees nie. Bietjie verdraagsaamheid!

Piet ·

Rerig? Dis uiters vrot. Kan nie onthou wanneer laas ek Afrikaanse musiek gekoop het nie. Waarskynlik Lucas Maree sin.

Elizabeth ·

Die vermetelheid van 99% Afrikaanse “sangers” om hulleself KUNSTENAARS te noem, is verregaande!!!!!

My tweesent bydrae ·

Ek het n orkes Victory Africa . Ons doen Afrikaanse Zulu gospel . Ek probeer nou al vir n maand om vir my orkes speelplek te kry . Ek het al vir almal moontlik e posse gestuur . En ons tree verniet op . Daar is erens n leemte vir geleenthede vir nuwe kunstenaars .

Frieda ·

Dankie Krappie, dis baie jammer!! Ek luister graag na Bosveld Stereo , daar nogal lekker musiek, en ook Goue Oues!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.