Is jy ʼn digter? Wees deel van ʼn liedjie

Lizanne Barnard (Foto: Verskaf)

Het jy al ooit gewonder hoe dit sal wees as ʼn kunstenaar jou woorde sou sing of skilder?

Maroela-lesers het nou die geleentheid om hul gedigte vir die musikant Lizanne Barnard se derde Stuur my jou woorde-program in te skryf.

Die 56-jarige musikant en voormalige lid van die duetgroep Marimba! vertel dat sy binne die eerste paar dae van die afsonderingstydperk oorspronklik met die idee vorendag gekom het om vir mense te vra om hul gedigte vir haar te stuur. Lizanne het ʼn paar gedigte gekies, getoonset en later besluit om ʼn tuiskonsert op te neem waar sy die verwerkings sing. Só het die eerste Stuur my jou woorde-program die lig gesien.

“Aan die begin was die afsondering eintlik vir my baie lekker,” vertel Lizanne. Sy het veral die stilte geniet. “Alles het stil geraak en ewe skielik kon ek die voëls hoor en buite in die tuin wees.”

Maar in dieselfde asem het sy gewonder hoe die lewe sonder verhoë en teaters sou wees. Sy het ʼn beklemming op haar bors gekry en dadelik ʼn plan gemaak.

“Ek het op die ingewing van die oomblik besluit om ʼn uitnodiging aan mense te rig,” vertel Lizanne. Sy het op Facebook haar vriende gevra om hul woorde vir haar te stuur. Die idee was dat sy dit sou toonset – dit was byna soos die uitruil van emosies.

Lizanne was oorbluf deur al die woorde en gedigte wat sy ontvang het. As kunstenaar is dit vir haar ʼn enorme voorreg om met ander mense se diepste gedagtes en emosies te werk.

“Dit is ʼn talent wat ek by die Here gekry het – ek kan musiek maak en sing. Wanneer dit mense bereik en hulle hou daarvan, is dit absoluut fantasties.”

Lizanne is ʼn gesoute toonsetter wat destyds saam met haar eksman, Abraham Helberg, verskeie digters se poësie verwerk het. Uit die Bloute, ʼn verhoogstuk wat bestaan het uit toonsettings van Eugène Marais se gedigte, was een die projekte waaraan hulle saam gewerk het.

Lizanne Barnard se seun, Adam Helberg, oftewel Pyjama Shark (Foto: Verskaf)

“Ek geniet dit geweldig. Jy betrek iemand anders by die proses van skep. Dit is nie net jy en jou woord nie.” Sy beskou dit as ʼn intieme proses wat met respek hanteer moet word.

Gun my die vlaktes van die Karoo
waar skape wei tussen bitterbessie en kambro.
Gun my die Kalahari se droë sand
waar hitte skroeiend deur denke brand
(Uit die gedig “Vryheid” deur Driekie Grobler)

“Jy werk met die diepste gevoelens van mense. Wanneer ʼn persoon so iets deel, lê dit in die hande van die persoon wat dit ontvang. Ek hoop van harte dat almal met wie ek werk ook voel hulle word gerespekteer.”

Deel van Lizanne se benadering is om eers die veranderinge, indien nodig, met ʼn digter te bespreek. Op dié manier toon sy respek deur getrou te bly aan die persoon se woorde en ervaring.

Uiteraard was nie al die inskrywings wat Lizanne ontvang het bruikbaar nie omdat elemente soos rympatrone en die lengte van gedigte die verwerkbaarheid daarvan beïnvloed.

“Party gedigte bevat musikale elemente en dan is die verwerking daarvan moontlik. Ander is dalk weer te lank, of die inhoud resoneer nie met my nie,” sê Lizanne. Sy het uiteindelik nege gedigte gekies wat getoonset is en daarna saam met skilderye van Anna Davel in ʼn program verwerk is.

Sedertdien is Lizanne oorval met vriende en ondersteuners se skryfwerk en het kort ná die eerste program, wat sy op sosiale media gedeel het, weer ʼn stel toonsettings gedoen. Stuur my jou woorde II is van 24 tot 26 Julie op Quicket beskikbaar. En nou is sy besig met die derde program, waarvan jy deel kan wees.

Lizanne se man, Wayne Raath, en haar seun, Adam Helberg, oftewel Pyjama Shark, het saam aan die program gewerk. Wayne het die visuele verwerking hanteer en Anna se kunswerke bygevoeg.

Pyjama Shark is self ʼn musikant en bedrewe kitaarspeler. Hy het vir Stuur my jou woorde II agter die mikrofoon ingeskuif om saam met sy ma te sing. Hy doen twee solostukke waarvan een sy eie lirieke is en die ander een ʼn toonsetting wat deur Lizanne verwerk is. Hy het tussendeur ook gehelp met verwerkings en beligting tydens die opname.

Lizanne Barnard en Leon Ecroignard (Foto: Verskaf)

Die veelsydige instrumentalis Leon Ecroignard en kameraman Pieter Lombaard het ook by hulle aangesluit vir Stuur my jou woorde II. Lizanne beskou Leon, ʼn goeie vriend, as “ʼn briljante musikant” en meen dit was weereens heerlik om saam met hom te kon speel.

“Toe ons vir die eerste keer na die program gekyk het, het ek op die punt van my stoel gesit,” onthou Lizanne. “Ek het net gehoop dat dit asseblief nie sleg moet klink of lyk nie. En ek was regtig so verras dat ek besluit het om nóg ʼn program te doen.”

Lizanne meen sy wil so lank as moontlik met haar woordprojek aanhou.

“Die hele projek is van begin tot einde vir my lekker. Van die uitnodiging tot die inskrywings en natuurlik die oomblik waar ek mense vertel dat hulle gedigte gekies is,” verduidelik sy. Buiten dat sy dit geniet om saam met mense te werk wat sy geensins ken nie, is dit ook ʼn hoogtepunt om saam met Anna te werk.

Sy was besig met die verwerking van “Crows in cemetery” toe sy op ʼn dag by Anna aankom. Met die intrapslag het Lizanne geweet dat Anna weer die projek se skilderye moet doen.

“Daar het vier kunswerke van kraaie op haar lessenaar gelê. Ek het besef ons is reeds op dieselfde golflengte. Anna gaan weer skilder,” sê Lizanne.

Anna het telkens op haar eie die gedigte gelees en dan gefokus op beelde wat by haar opkom.

“Daar het sommer vir elke gedig tien beelde by my opgekom, veral as die gedig visuele elemente het,” vertel Davel. “Ek het dan een gekies wat in die skildery uitgebeeld kan word.”

Anna Davel (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Hoewel elke digter se werk ʼn unieke bydrae lewer, sonder Davel een gedig uit “wat met haar praat”.

Gun my ʼn wandeling langs die duinesee
waar branders klotsend spore weg kom vee.
Gun my ʼn kuier teen die Weskus af
met vars snoek, gevang uit ʼn bootjie met hoek.
Gun my die nostalgie van Pelgrimsrus
met verlange oor wat lewenswaarde is
(Uit die gedig “Vryheid” deur Driekie Grobler)

“Ek mis dit om te reis. As kunstenaar is ek gewoond daaraan om twee of drie keer per maand op ʼn lughawe te wees,” sê Anna. Daarom lê “Vryheid” wat deur Driekie Grobler geskryf is, haar baie na aan die hart.

Net soos talle ander kunstenaars is Anna se optredes tot stilstand gedwing en daarom moet sy op ander maniere ʼn inkomste genereer.

Anna het dit goedgedink om die oorspronklike kunswerke op haar Facebook-blad op te veil en só geld te maak. Sy laai telkens ʼn foto van die skildery op, wat in die Stuur my jou woorde II-fotoalbum gelaai word, waarna volgelinge en belangstellendes ʼn aanbod maak. Lesers het tot 30 Julie die geleentheid om aan dié virtuele veiling deel te neem.

Anna het ook ingestem om vir die nege Maroela-lesers wie se gedigte vir Stuur my jou woorde III gekies word elk ʼn afdruk van die kunswerk te verskaf.

Stuur my jou woorde II is van 24 tot 26 Julie op Quicket beskikbaar. Kaartjies is R60. Kykers kan gratis na die eerste Stuur my jou woorde-program op YouTube kyk.

Luister hier na Lizanne Barnard se toonsetting van “Vryheid” (uit Stuur my jou woorde II):

WEN

Nou kan jy ook deel wees van dié opwindende projek! Verlang jy na jou ouers, ouma, oupa of iemand spesiaal wat nie tydens die afsonderingstydperk by jou is nie? Dalk droom jy reeds van die eerste braai saam met vriende of van familiekuiers wat tot laatnag aanhou.

Lizanne Barnard en Anna Davel nooi jou om ʼn gedig te skryf oor die tema “Wanneer ek jou weer sien…” Nege lesers kan elk ʼn toonsetting en afdruk van ʼn skildery van hul gedig wen.

Al wat jy moet doen om in aanmerking te kom, is om jou besonderhede en gedig in die kompetisievorm onderaan hierdie artikel in te sleutel.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 31 Julie 2020 om 23:45.

Bepalings en voorwaardes

  • Deelnemers moet 18 jaar of ouer wees.
  • Slegs Afrikaanse gedigte sal oorweeg word.
  • Gedigte moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
  • Die wenners sal deur Lizanne Barnard en Anna Davel aangewys word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen verdere korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy inskryf, gee jy toestemming dat jou naam, foto en gedig op Maroela Media se webwerf en sosiale media gedeel mag word.
  • Sodra die wenners in kennis gestel is, sal hul name op Maroela Media bekendgemaak word.
  • Lees Maroela Media se privaatheidsbeleid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.