Jack Parow agter tralies

Die kletsrymer Jack Parow, oftewel Zander Tyler (31), is Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat hy glo rusverstoring by ʼn oord, waar hy oornag het om die naweek by die Oppikoppi-fees op te tree, veroorsaak het.

Louise Crouse, Parow se woordvoerder, het aan Maroela Media bevestig hy is vandag in hegtenis geneem. “Hy het my vlugtig gebel. Ek weet nie presies wat gebeur het nie, hy het net gesê hy en ʼn vriend het ʼn boot gehuur en is daarna in hegtenis geneem vir rusverstoring,” het sy gesê.

Intussen het Hilltop Live Promotions, wat die Oppikoppi-fees organiseer, ook laat weet dat Parow in hegtenis geneem is en dat sy optrede by Oppikoppi uitgestel is tot verdere kennisgewing. Parow sou Vrydag om 01:00 daar opgetree het.

Volgens Hilltop Live het Parow en sy vriende by die Vaalkopdam, sowat 60km suid-oos van Northam waar die fees gehou word, oorgeslaap. “Volgens berigte het Parow en een van sy vriende vanoggend omstreeks 01:30 ʼn plesierrit op die dam gaan neem deur iemand se catamaran te ‘leen’.”

Die polisie het opgedaag en verskeie kere probeer om die twee na die oewer te roep. “Parow en sy vriend het aanvanklik gedink hulle word in hegtenis geneem omdat hulle die boot ‘geleen’ het, maar die polisie het herhaaldelik vir hulle verduidelik hulle word in hegtenis geneem omdat hulle te veel lawaai gemaak het,” het Hilltop Live gesê.

Martha Pretorius, wat by die dam bly, het gesê sy het ʼn harde gesingery vir ten minste 45 minute lank oor die water gehoor, voor die polisie opgedaag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.