Jack Parow kry eie fees in Nederland

Jack Parow (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse kletsrymer Jack Parow gaan op 4 November in die musieksentrum TivoliVredenburg in Utrecht, Nederland, sy eie fees hou om die uitreiking van sy vierde vollengte album te vier.

Die sanger het Woensdag in ʼn verklaring gesê dié album, wat Africa for Beginners heet, word in September vanjaar uitgereik.

“Parow Fest” gaan volgens die verklaring ʼn gróót makietie wees.

Africa for Beginners word vervaardig deur Johnny de Ridder, veral bekend as lid van Fokofpolisiekar.

“Dis ʼn absolute eer om my eie fees te hê in ʼn ander land,” het Parow gesê. “Ek’s dankbaar vir die geleentheid. My doel is om uiteindelik Suid-Afrikaanse bands saam met my oor te neem, want ek wil graag Suid-Afrika en ons musiek soveel as moontlik blootstelling gee en dit kan ʼn goeie manier wees om dit te doen,” het die sanger gesê.

Top Notch, ʼn platemaatskappy in Nederland, het reeds ʼn aanbod gemaak om dié album in Nederland te versprei.

Die kletsrymer het ook gesê hy het reeds sy oorsese musikant-vriende, wat onder meer saamgewerk het aan sy kortspeler, From Parow with Love, nadergehark om by die partytjie aan te sluit. Dié kunstenaars sluit in Skip & Die, De Likt, De Kraaien en Ertebrekers.

Vir meer inligting oor Africa for Beginners en “Parow Fest”, besoek sy webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

apie ·

ek reken dis omdat hy konsentreer op sy musiek en minder op politiek. baie geluk en voorspoed

Reinhardt ·

Fantasties! Sê wat julle wil van hom, maar hy bevorder Suid-Afrikaanse musiek. Jy hoef nie van sy styl te hou om respek te hê vir wat hy doen nie. Hoeveel bands het al opgehou speel omdat daar net eenvoudig nie n groot genoeg mark in SA is nie? As Nederlanders en Belgiërs eers n smaak vir ons musiek kry, kan dit groot dinge beteken vir nuwe bands.

Valerie ·

Soos hulle sê: “Kommin en vulgêr verby.” En dan is daar die wat wil koel wees soos die vuilmond.

Reinhardt ·

Ek neem aan julle hou ook glad nie van Robbie Wessels, Snotkop, Casper de Vries ens. nie? Of is dit ok as hulle vloek? Solank dit net nie Jack is nie? Of hoe?

Valerie ·

Jy is reg, Reinhardt. Ek gee nie om wie dit is nie; vulgêre taalgebruik is wat dit is, en dit sluit die wat jy genoem het in asook die duisende Engelse bands en sangers ook. Maar ek (en ander?) het maar net gefokus op die spesifieke vuilmond omdat die berig basies oor hom gehandel het. Ek het nog nooit ‘n vuilmond, ens., aantreklik gevind nie, want dit is afstootlik.

Wat die hart van vol is loop die mond van oor; of jy nou jou hand voor jou mond hou of nie en in Holland gaan “optree” of nie.

Reinhardt ·

In daardie geval is jy ‘n mens van integriteit. Ek persoonlik voel ook vuil taal is lui met betrekking to digkuns en lirieke. Maar ek skryf dit nie af nie, want tussendeur die vuil taal is daar goeie boodskappe. Lees gerus die volgende uitreksel van n band wat baie vloek:
“Donker Afrika is net donker vir die met oogklappe aan
Hy wat nie kan dink, wie se harsings hard en stowwerig is
Mik vir my hart
Dit pomp wildernis hier binnekant
Ek’s net n toeris
In my geboorteland
Gekwesde dier in n hok op
Antibiotika”

jaco ·

‘n Klomp van die vloekwoorde wat hy in sy songs gebruilk, gaan GEEN impak op die Nederlanders maak nie, want dis gewone woorde in Nederlands, sonder enige lelike betekenis.

Hannah ·

So bly hulle so baie van hom… hoop hulle hou hom sommer daar.

Valerie ·

Ha, Hannah! En daar verstik ek toe so amper aan my lunch. Ek hoor jou duidelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.