Jak de Priester gesels oor nuwe vertoning en gesin


Jak-de-priester

Foto: Facebook/Jak de Priester

Jak de Priester het ʼn splinternuwe vertoning “Ek sny dit af”, wat vroeg in Februarie in die Kaap afskop. “Al my liedjies wat ek in die laaste jaar geskryf het, is deel van dié nuwe vertoning saam met ʼn paar van my ou liedjies.”

Hy sê die naam van die vertoning sinspeel daarop dat hy alle negatiewe dinge uit sy lewe wil sny en hy sing ook ʼn liedjie met dieselfde titel. “Ek het die liedjie eintlik vir my dogtertjie geskryf, wat gevra het ek moet vir haar boyfriend ʼn liedjie skryf. Skokgolwe het deur my getrek toe ek daaraan dink dat sy eendag ʼn boyfriend gaan hê.”

Jak meen dié vertoning is ʼn mengsel van goeie musiek (wat humor en dieper liedjies insluit) asook sketse tussendeur wat die liedjies meer konteks gee. ”Ek pak maar altyd my konserte so aan dat mense verskillende emosies en gevoelens kan beleef. Dié vertoning het ʼn paar ernstige liedjies. Ek het byvoorbeeld ʼn liedjie genaamd “Boervrou” vir my ma geskryf, maar ek dra dit op aan alle Afrikaner-vroue – dit tref nogal diep.” Jak het ook vir Mika, sy jongste kind, ʼn liedjie geskryf, wat hy ook tydens dié vertoning sal sing.  “Ek het vir my ander twee kinders ook ʼn liedjie geskryf, hierdie is seker nou my laaste liedjie wat ek vir ʼn babatjie skryf.”

“Ek sny dit af” sal ook vanjaar tydens KKNK te sien wees en Jak sê die paar vertoning voor die KKNK sal ʼn goeie manier wees om die vertoning te toets en te kyk wat werk en waarvan sy aanhangers hou. “Teen die tyd wat ons by die KKNK uitkom, is die vertoning honderd persent reg.”

Jak is in 2017 reeds 15 jaar in die bedryf en aanhangers sal bly wees om te hoor dat hy vanjaar ʼn nuwe album gaan opneem wat volgende jaar vrygestel sal word. “Ek beplan nogal ʼn groot album en miskien ook ʼn DVD.”

Luister gerus na die podsending om te hoor hoe Jak sy werk- en gesinslewe balanseer.

Jak sal saam Altus Muller (op klavier) by Die Boer Restaurant teater- D’Ville optree op 12, 13 en 14 Februarie. Kaartjies is teen R130 – beskikbaar by 021 979 1911 of aanlyn by www.dieboer.com. Hy sal ook op 17 Februarie by die Atterbury teater in Pretoria optree.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.