Jakkie Louw toer land plat om klein kuierplekkies hupstoot te gee

jakkie-louw

Jakkie Louw. (Foto: Facebook)

Ná sowat vier maande tuis weens Covid-19-inperkingsmaatreëls wat die vermaaklikheidsbedryf tot ʼn skreeuende stilstand gebring het, het die sanger en liedjieskrywer Jakkie Louw besluit dit is tyd om weer die langpad te vat om musiek te maak.

Nie net tree hy tans landwyd op met sy “Vyftig vertonings op vyftig dorpe vir vyftig mense”-toer om sy eie passie vir musiek uit te leef nie – Louw wil ook kleiner kuierplekke help om kop bo water te hou deur voete daarheen te lok met sy konserte.

Hy vertel die idee vir dié konserttoer het by hom posgevat toe hy onlangs na Joubertina in die Oos-Kaap gereis het om te sing. Hy het op pad daarheen ʼn klein vertoning in Bloemfontein gelewer om sy brandstofgeld tot op Joubertina te verdien.

“Dit is hoe ek destyds as 19-jarige sanger te werk gegaan het toe ek saam met Koos Kombuis getoer het. Ek het van dorp tot dorp gereis en gesing om my brandstofgeld en verblyf te betaal,” onthou Louw.

Intussen het ʼn vriend hom genooi om in George op ʼn plaas voor 50 mense te sing. Sy vriend, Tobias Lombard, het met die “Vyftig vertonings op vyftig dorpe vir vyftig mense”-idee vorendag gekom.

Terwyl hy in Kaapstad was om ʼn aanlyn Bok Radio Biltong-sessie te doen, het hy nog ʼn paar klein konserte in die omgewing gereël.

“Ek het tydens die staat van inperking probeer om nie stil te sit nie. Ek het kinderteater, poppekaste en aanlyn vertonings gedoen, maar die energie van die gehoor het telkens ontbreek. Ek kon nie wag om weer voor mense te sing nie en het besluit ek gaan 50 klein restaurante en teaters probeer help deur konserte daar te reël. Sodoende kan ek dan ook sommer self ʼn inkomste skep,” vertel Louw.

Volgens Louw was die kaartjies vir elkeen van sy konserte, wat weens vlak 2-inperkingsmaatreëls slegs 50 gehoorlede toelaat, tot dusver uitverkoop.

“Die mense is uitgehonger vir kuier en lekker lewendige musiek. Ek is net ʼn ou met ʼn kitaar en ʼn mondfluitjie, maar ek het besef mense wil rou musiek hoor, sielsmusiek wat hulle beter laat voel in hierdie tydperk.”

Jakkie Louw. (Foto: Facebook)

Hy vertel die gasvryheid van Afrikaners op die dorpies inspireer hom elke keer opnuut. “Op een dorp het ʼn plaasboer vir my twee dosyn eiers en ʼn bottel wyn as geskenk gegee, terwyl ʼn ander plaasboer vir my lemoene uit sy boord gebring het. Daar is ʼn ongelooflike gees van vrygewigheid onder die boeregemeenskap wat my verskriklik trots daarop maak om ʼn Afrikaner te wees.

“Afrikaners is sosiale wesens. Ons hou van vure aansteek terwyl ons met ʼn biertjie in die hand lag en gesels. Ek het dit absoluut herontdek die afgelope paar weke. Ek is baie ingestel daarop om met dié konserte menseverhoudings te bou en maak ʼn punt daarvan om by padstalle aan te klop en met die plaaslike mense geselsies aan te knoop.

“Ek is nie ʼn backstage-ou met hierdie konserte nie. Vooraf en agterna is ek tussen die mense en ek leer hulle ken.”

Louw vertel hy werk tans in die ateljee aan ʼn snit getiteld “Staan by my”, ʼn Afrikaanse weergawe van die liedjie “Fall on me” deur die blinde operasanger Andrea Bocelli. Dit is ʼn duet wat Bocelli saam met sy seun, Matteo, gesing het.

“My pa vier einde vandeesmaand sy 80ste verjaarsdag. Ek en my broer, Nico, sing dié liedjie saam vir hom. Die liedjie gaan juis oor hoe ʼn mens op mekaar moet steun. Ons het as gesin ʼn broer verloor – ons was sewe kinders en my broer, Frikkie Louw, is oorlede. As gesin het ons baie emosie tussen ons en ons wou dié liedjie vir my pa sing,” vertel hy.

Hy voeg by dat daar nog sowat 25 vertonings in sy toer is wat gevul moet word. Mense of ondernemings wat Louw wil bespreek, kan ʼn e-pos stuur na [email protected] of 084 806 6570 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Twopence ·

Dis so lekker om te sien hoe kreatief ons Suid-Afrikaners kan raak. Jakkie Louw is een van ons land se beste kunstenaars en ‘n regte mense mens. Sterkte met die konserte, Jakkie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.