Jan Blohm: ‘Jenny’ speel soos ’n ‘fliek in my kop af’

Jan Blohm. (Foto: Coetzer Cooke)

Met sy jongste album, Jenny, wou die musikant Jan Blohm ʼn storie vertel van ʼn jong, verliefde paartjie op De Aar in die Karoo – ʼn storie wat al langer as 15 jaar by hom spook.

Dié konsepalbum is reeds vroeër vanjaar uitgereik en die eerste twee enkelsnitte, “Jenny” en “Ou Karoo”, is albei groot treffers onder aanhangers en Afrikaanse musiekliefhebbers.

Jenny se verhaal speel soos ʼn fliek in sy kop af, vertel Blohm in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Dit is die storie van ʼn 16-jarige jong man op De Aar in die 1980’s. Daar trek ʼn nuwe, baie eksentrieke gesin oorkant die straat by hulle in. Natuurlik is Jenny die 16-jarige dogter van hierdie gesin en hy raak op haar verlief. Dit verander sy lewe en daar is baie ander dinge in hierdie verhaal wat gebeur,” verduidelik hy.

“Die eerste ding wat die verteller van die jong Jenny opmerk, is dat sy ʼn denim dra, iets wat daardie jare ongewoon was vir vroue.”

Vandaar die snit “Levi Jeans”, wat ook onlangs as die jongste enkelsnit uitgereik is. “Jenny stel hom bloot aan baie nuwe dinge en idees, byvoorbeeld die musiek van Debbie Harry. Die liedjie gaan in ʼn mate oor bemagtiging, want vandag kan vroue hulle eie keuses maak en ʼn jean dra soos net ʼn vrou kan.”

Volgens Blohm dra hy die storie al baie jare saam met hom, maar het nooit regtig die vleis vir die storie gehad nie.

Die kunstenaar, wat ook sy eie kunsgalery in die Strand in die Wes-Kaap het waar sy eie werk onder meer uitgestal word, vertel hy werk ook ses maande van die jaar in Ruan Janse van Vuuren se beeldhou-ateljee in Pretoria.

“Ek en hy het begin gesels oor die storie en soos wat ons die beelde maak en kuns pleeg, het die storie begin ontwikkel en vleis gekry,” vertel hy.

Die album is tydens die staat van inperking klaar geskryf en opgeneem. Hy het in hierdie tyd ook ʼn enkelsnit getiteld “Die toekoms” saam met die rocker Francois van Coke opgeneem. Die liedjie pryk steeds op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Dit was ʼn eye-opening ervaring om saam met Francois te werk. Hy is ʼn ongelooflik kreatiewe en baie nice mens. Dit is altyd lekker om met nice mense te werk, in die eerste plek. Natuurlik is hy ook so ʼn goeie kunstenaar.

“Ek het baie vroeg in my loopbaan besluit ek gaan nie oor sulke kwessies [soos die Covid-19-pandemie] skryf nie. My skryfwerk gaan baie meer oor persoonlike verhoudings en is amper soos portrette van mense. Wat vir my belangrik is, is wat binne gebeur. Dit sê nie ek het nie respek vir mense wat skryf oor dinge wat in spesifieke tye gebeur nie. Die liedjie het dadelik by my aanklank gevind.”

Jan Blohm kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

Hy vertel dat hy dit geniet het toe die afsondering weens die pandemie begin het. “Dit was die eerste keer in jare dat ek soveel tyd by die huis kon deurbring en ek dink dit was die eerste naweek in maande wat ek af gehad het.”

Blohm het in dié tyd Jenny klaar geskryf en opgeneem. “Ek probeer iets maak soos wat dit is. Dit moet iets wees met waarheid sonder dat ek myself en my eie menings te veel daarin sit. Ek het in ʼn baie konserwatiewe tyd grootgeword – ons mag nie na danspartye toe gegaan of sokkies by die skool gehou het nie. Dit is nou maar net die deel van die samelewing waarin ek grootgeword het.

“Vroue kon nie jeans dra nie en ook nie gaan werk nie; dit was nie ʼn keuse wat hulle kon maak nie. Ek wou ʼn verhaal vertel [oor daardie tydperk], want daar is twee kante aan ʼn ding. Ek hou daarvan om terug te dink aan hoe ons intussen gegroei het en hoe kulture verander het. Iemand het my op ʼn keer gevra hoekom skryf ek in Afrikaans. Ek dink nie ek is ʼn skrywer wat in Afrikaans skryf nie, ek ís ʼn Afrikaanse skrywer.”

Die terugvoer wat hy oor die album kry, is ongelooflik, sê hy. “Ek het ongelooflike aanhangers, so partykeer worry ek, want hulle sal net altyd vir my sê dit is nice,” lag hy.

“Ek dink tog mense het waardering vir die album. Ek probeer altyd iets gee wat iets vir mense gaan beteken en wat mense dalk so ʼn bietjie kan wegvoer uit die moeilike en aardige omstandighede van die tye waarin ons lewe.”

Jenny is beskikbaar op alle digitale platforms.

  • Luister na die volledige onderhoud boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae