Jan Blohm oor ‘Jenny’ en kuns

Jan Blohm. (Foto: Coetzer Cooke)

Deur Yolanda Wessels

Afgesien van Jan Blohm se pas vrygestelde konsepalbum, Jenny, wat bestaan uit 14 snitte wat ʼn baie spesiale verhaal vertel, is hy ook ʼn ywerige kunstenaar en doen beeldhouwerk en skilder. Hy besit ʼn kunsgalery in die Strand en op 17 Julie is sy nuwe album vrygestel tesame met ʼn akoestiese optrede wat regstreeks via Facebook gestroom is. Tydens dié vertoning is een van sy eie skilderye ook opgeveil.

Op die vraag aan Jan waar sy kunssinnigheid vandaan kom, is hy eerlik deur te sê hy is eintlik nie heeltemal seker nie.

“My oupa was baie lief vir skryf en almal in my familie is kreatief en kunstig. My oupa en ouma het albei instrumente bespeel en was betrokke by die kerkkoor. My pa kan baie mooi sing, hy was ook jare in die kerkkoor.”

Een vir Mijon geskilder deur Jan Blohm.

G’n wonder Jan is ʼn volronde kunstenaar wat skryf, sing en skilder nie.

Hoewel hy ʼn tegniese skool bygewoon en nie kuns op skool gedoen het nie, was hy baie lief vir kuns en het gereeld in sy kamer geteken. “Ek het geen formele opleiding nie en het maar myself geleer en raad gevra by mense soos Zerk de Villiers, Lionel Smit en al my kunsvriende.”

Jan vertel in hierdie stadium is sy medium van keuse olieverf. “Ek geniet dit baie. Ek is ook baie besig met kleibeelde. Ek is mal daaroor om met die was te werk. Ek het wel nie ʼn spesifieke roetine nie, ʼn mens moet net begin! As jy eers aan die gang is en vlamvat, dan gaan dit makliker! Dit is moeilik om ʼn roetine te handhaaf, soms moet jy optredes gaan doen, en so meer. Dit is baie moeilik om alles te kombineer, veral as ʼn mens op die pad is. Maar ʼn mens probeer maar beplan en as ek in Pretoria is, bly ek in ʼn plekkie wat ook ʼn klein ateljee het. So, ek kan steeds deur die dag werk en dan my optrede in die aand gaan doen. Maar ja, dit is baie uitdagend.”

Anders as baie kunstenaars put Jan nie inspirasie uit iets of iemand spesifiek nie. “Ek dink ek maak kuns om inspirasie te kry, nie andersom nie. Ek dink nie ʼn mens hoef altyd geïnspireer te wees om te werk nie. Ek dink as jy ʼn kunstenaar is, probeer jy iets maak of jy nou geïnspireerd is of nie. Party dae is moeilik en ander dae weer makliker; party dae werk ek lekker en voel geïnspireerd, ander dae voel ek geïnspireerd en werk lekker hard.”

Wat temas betref, kom dit nie vir Jan van iets spesifiek af nie. “Oor die jare is dit maar deel van ʼn ou se werkproses. Dit kom half outomaties. ʼn Mens probeer maar rondkyk, gevoelens waardeur jy gaan, lees of dalk sien jy iets in ʼn film. Dan raak dit maar so onderbewustelik deel van jou werk.”

Jan sê daar is ʼn ooreenkoms tussen musiek komponeer en kunswerk en dit werk amper soos een. “Ek dink dit is hoekom dit makliker is om tussen die twee verskillende mediums te beweeg. Dit gaan baie oor mense, verhoudings. Dit geld vir my liedjies én die kunswerk. Ek dink wel nie ek is noodwendig die beste in enigiets nie. Ek glo in my werk en probeer die bes moontlike produk daarbuite plaas, hetsy kuns of musiek.”

Hoop geskilder deur Jan Blohm.

Afgesien van skilder en beeldhouwerk, beoefen Jan ook fotografie.

Sy rolmodelle is mense soos Breyten Breytenbach (Jan Blohm is ʼn skuilnaam van Breytenbach) wat hul kuns beoefen het in ongelooflik moeilike omstandighede en selfs tye wat hulle uit hul eie land moes gaan. Ook ouens soos Jimi Hendrix, Bob Dylan, Leonard Cohen, Vincent van Gogh en ander wat grense verskuif het.

Jan doen kommissiewerk en werk ook op bestellings.

Die kunsvorm waarvoor Jan tot op hede meer bekend was, is sy uiters suksesvolle musiekloopbaan. Die nuwe album, Jenny, vertel die verhaal van twee tieners van ʼn baie klein en konserwatiewe spoorwegdorpie, De Aar, in die 1980’s. Jenny is sy eerste konsepalbum op dié gebied, maar een waarop hy ʼn wyle gebroei het en wat eendag die klankbaan van sy film met dieselfde titel sal wees.

“Die boodskap is regtig eenvoudig: Ons het nie baie nodig nie; al wat ons werklik benodig, is liefde en ʼn menslike verbintenis. Dié album is beslis nie net ʼn versameling liedjies nie, maar ʼn noukeurige samestelling van liedjies en gedigte wat ʼn storie vertel en byeengesit is oor die bestek van 15 jaar; dit is soos ʼn film.”

Rivier geskilder deur Jan Blohm.

Die eerste enkelsnit van die album wat vrygestel is, heet ook “Jenny” en dien as bekendstelling vir die album en sy hoofkarakters. Die enkelsnit is landwyd baie goed ontvang en is op verskeie radiostasies en treffersparades.

Die tweede enkelsnit, “Karoo”, is ʼn volwasse kontemporêre lied deur Jan geskryf, met die musiekvideo wat die pragtige, uitgerekte De Doorns- en Touwsrivier-landskap ten toon stel tesame met die mense wat dit hul tuiste noem; mense met die Karoo in hul are en wat sukkel om elders aan te pas.

“Karoo” handel oor Jenny se verlange om weer tuis te wees. In dié lied deel Jan die volgende opwindende hoofstuk in haar lewe. Hy laat die luisteraar ook verlief raak op die natuurskone landskap, selfs al was hulle nog nooit vantevore daar nie. “Ek hoop die mense geniet die album. Die meeste mense hou van stories en dit is in werklikheid ʼn liefdesverhaal wat oor ʼn hele album strek. Die tema is rondom die konsep van liefde en die idee dat liefde altyd ʼn weg sal vind om na jou terug te keer.”

Jenny is die opvolgalbum van sy Ghoema-benoemde Die Liefde Album. Sy debuutalbum, Melkstraat Confessions, het in 2004 verskyn.

Besoek gerus sy Facebook-blad of JanBlohmart.co.za vir meer inligting oor sy kuns of stuur ’n e-pos aan [email protected].

Kyk die video Jenny hier:

Kyk die video Ou Karoo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Axel ·

Awesome day Lionel Smit een van jou goeie vriende is en jou style is op die haar af soos syne…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.