Jan Blohm se nuwe album vertel ʼn liefdesverhaal

Jan Blohm. (Foto: Coetzer Cooke)

Jan Blohm se splinternuwe konsepalbum, Jenny, is pas bekendgestel en vertel die storie van twee tieners wat in die 1980’s in die klein konserwatiewe spoorwegdorpie De Aar woon.

Dit is die eerste keer wat hy so ʼn projek aanpak, maar volgens hom is dit iets wat al lank in sy kop broei en eendag die klankbaan van sy fliek met dieselfde naam gaan wees.

“Jenny”, die titelsnit van die album, is in Maart vanjaar uitgereik en was die eerste enkelsnit vanaf die album wat vrygestel is met die doel om die album en sy hoofkarakters aan die luisteraar bekend te stel.

Dié liedjie pronk steeds op verskeie radiotreffersparades en die musiekvideo het reeds bykans 220 000 kykbeurte op YouTube.

“Die album is nie net nog ʼn versameling liedjies nie,” verduidelik Blohm. “Ek het baie moeite gedoen om oor die afgelope vyftien jaar liedjies en gedigte saam te sit om ’n storie te vertel. Dis soos ’n fliek van Jenny se lewe.”

“Ou Karoo”, die tweede enkelsnit vanaf die album, is onlangs uitgereik en lê klem op die landskap wat deur die verliefdes se are vloei en dit vir hulle moeilik maak om elders aan te pas. Dis ʼn lied oor Jenny se eie hunkering om terug by die huis te wees.

In hierdie lied deel hy die volgende hoofstuk in Jenny se verhaal. Die musiekvideo is in een dag op De Doorns, Touwsrivier en die Karoo 1 Hotel geskiet.

Die video is deur Lionel Smit Side Film Productions geskiet en vervaardig met kamerawerk deur Ruan Kotze, terwyl die hommeltuig deur Nic van der Westhuizen hanteer is met ondersteuning deur assistent Andrew Milton en fotografie deur Coetzer Cooke.

Jan Blohm. (Foto: Coetzer Cooke)

Hoewel Blohm bekendheid verwerf het met sy kenmerkende rock-blues-klank, het soul-musiek nog altyd ʼn groot invloed op die musikant se styl gehad en hierdie element is duidelik in “Karoo” – asook die res van die album – teenwoordig.

“Ek het vir hierdie album baie inspirasie geput uit Suid-Amerikaanse koormusiek en die werk van verskeie soul-kunstenaars,” erken die sanger.

Omdat konsepalbums geneig is om op ʼn sentrale tema te fokus – in hierdie geval Jenny se storie – hoop Blohm dat mense die album van begin tot einde sal luister.

“Ek hoop luisteraars geniet dit. Die meeste mense hou van stories en hierdie is ʼn liefdesverhaal wat met ʼn hele album vertel word.”

Volgens hom gaan die album oor die liefde en die idee dat dit nooit sterf nie en jou altyd weer sal vind. “Die boodskap is eenvoudig. Ons het nie veel meer nodig as liefde en menslike konneksie nie.”

Jenny volg op Blohm se vorige album, Die Liefde Album, wat baie goed ontvang is, talle Ghoema-toekennings gewen en verskeie radiotreffers opgelewer het.

Jan Blohm. (Foto: Coetzer Cooke)

Die album word vandag (Vrydag) amptelik bekendgestel met ʼn regstreekse akoestiese konsert op sy Facebook-blad vanuit die Lionel Smit-ateljee in Somerset-Wes. Tydens hierdie konsert sal Blohm ook een van sy skilderye opveil. Die publiek sal daarop kan bie deur kommentaar in die kommentaarafdeling van sy Facebook-blad te plaas en na afloop van die konsert sal die koper gekontak word. Die vertoning sal dan ook later op sy YouTube- kanaal beskikbaar wees.

Dié bekendstellingskonsert begin om 19:00 en word gratis aangebied.

Kyk die musiekvideo hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Lizzy8

Absoluut mal oor hom! Love jou musiek