Jan Bloukaas trek nuwe, ernstige baadjie aan

Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas. (Foto: verskaf)

“Wat is die teenoorgestelde van enigiets wat ek voorheen uitgereik het?”

Dít is die vraag wat Jean du Plessis, beter bekend as Jan Bloukaas, homself afgevra het met die konseptualisering van sy derde album, Vreemdeling. Een ding was hy egter eens, ’n ernstige baadjie is presies wat dié album nodig gehad het.

Jean is in September 2022 met breinkanker gediagnoseer, ’n gebeurtenis wat ’n reuse-omwenteling in sy lewe veroorsaak het. Hoewel dit blyk asof dié ernstige album uit sy kankerdiagnose spruit, vertel Jean dat hy reeds sowat drie jaar daaraan werk.

“Die lewe het saam met die musiek ernstig geraak,” het Jean aan Maroela Media gesê.

“Ek was al lank besig met die album voordat ek gediagnoseer is.”

Die 23-jarige sanger het oornag beroemd geword nadat ’n elektroniese liedjie, “Ek hou van kaas, bra” soos ’n veldbrand op sosiale media versprei het. ’n Platekontrak het uit hierdie treffer gespruit, en hy het verder bekend geword vir sy tong-in-die-kies elektroniese dansmusiek, met liedjies soos “Boerseun”, “Lassit” en “Kyknet & chill” wat die afgelope paar jaar luidrugtig by kuier- en braaigeleenthede gespeel is.

Sy jongste album, geskoei op iemand wat toekyk hoe hy vir homself ’n vreemdeling word, is steeds in ’n elektroniese musiekstyl geskryf, maar stel die meer ernstige en diep kant van die sanger ten toon.

“Ek wou nog altyd meer ernstige liedjies uitreik,” vertel hy.

Liedjies soos “Sterre brand”, wat hy saam met Janie Bay uitgereik het, en “Desember” dui op ’n musieksy wat hy graag vir aanhangers wou wys.

Alhoewel die album reeds na aan klaar was toe hy uitgevind het dat hy kanker het, erken Jean dat die diagnose beslis ’n impak op sekere lirieke en liedjies gehad het.

“Van die lirieke is verander, en daar is ’n liedjie wat ons besluit het om eerder nie te gebruik nie.”

Dié liedjie is egter met “Heilig”, ’n romantiese ballade en ook een van sy ma se gunstelingliedjies, vervang.

“Die liedjie is nie vir my ma geskryf nie, maar sy het so baie daarvan gehou dat dit my vandag dadelik aan haar laat dink.

“Dit is ook sy wat daarop aangedring het dat ons die liedjie op die album sit.”

(Foto: verskaf)

“Heilig” is die eerste liedjie wat Jean met behulp van sy kitaar geskryf het. Dit was senutergend om die liedjie vir die album beskikbaar te stel, erken hy. Dit is egter die enigste liedjie van sy soort op die nuwe album, die res van die liedjies is in sy kenmerkende elektroniese styl.

Ten spyte van sy kankerdiagnose, chemoterapie en bestraling, bly Jean se lewensbeskouing dat die glas steeds half vol is.

“Daar is mense wat dit baie erger as ek het. Ek het nou en dan pyn, sukkel nog met dubbelvisie, maar kla kan ek beslis nie.”

Jean het selfs onlangs onbepland in Potchefstroom opgetree. Terwyl hy by vriende gekuier het, kon ’n musiekgroep nie optree nie, en die eienaar van die venue het Jean gevra om ’n paar liedjies te sing.

Op aanbeveling van sy dokter, tree Jean deesdae nie eintlik op nie. Dié kort kuiertjie op die Potchefstroomse verhoog het hom egter laat besef dat hy daarna verlang, en dat hy hopelik binnekort weer kan begin toer.

Dit is egter deel van ’n vorige lewe vir Jean, vandag geniet rustigheid en sy familie die meeste aandag.

“Toe ek in matriek ’n platekontrak aangebied is, het my lewe verander. Skielik het ek begin toer en musiek maak. Ek het my droom uitgeleef,” onthou hy.

“Ek het van daar af altyd die lewe met albei hande aangegryp. Snaaks genoeg, het kanker my laat rustiger word. Ek wou eerder tyd saam met my familie deurbring.”

(Foto: Jan Bloukaas/Facebook)

Hy raak bewoë wanneer hy praat oor die uitwerking wat sy diagnose op sy lewe gehad het.

“Dit gaan nie lekker wees om totsiens te sê nie. Ek wil nie die oorsaak van enige hartseer wees nie.

“My ouers het ongelooflik hard gewerk om vir my en my broers te voorsien, dis vir my baie moeilik om te dink dat ek dit dalk nie eendag vir hulle terug kan doen nie.”

Met sy diagnose wou Jean nie weet wat sy prognose is nie. Dit sou nie help om te weet nie, vertel hy.

Jean gaan binnekort vir ’n skandering om te sien of die kanker gekrimp het, iets wat hom senuweeagtig maak.

“Dit sal die eerste skandering ná my diagnose wees. Ek weet nie wat om te verwag nie.”

Die nuwe album, van die lirieke, die ernstige aard daarvan, tot die kunswerk wat vir die album se omslag gebruik is, is vir Jean van God gestuur. Nog lank voordat hy gediagnoseer is, het hy besluit dat hy graag die oë van sy naaste familie en vriende saam op die omslag wou sit.

“En hoe snaaks is dit nie dat dit my eie oë is wat gelei het tot my diagnose nie? Ek het dubbelvisie gekry, is dokter toe daaroor en daardeur het ons uitgevind dat dit kanker is.”

“Dis nie toeval nie, dit is die Here wat alles in plek laat val het.”

Kyk na “Heilig” se musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.