Jan Rhaap en Loki Rothman skryf saam trefferlied

Jan Rhaap. (Foto: Carol de Villiers Fotografie)

Jan Rhaap, die singende boer van die Noord-Kaap, se jongste enkelsnit, “Maak jou maak(e)”, is pas uitgereik en is reeds ʼn groot treffer onder sy aanhangers.

Jan vertel die liedjie, wat hy saam met die musikant en kitaarfoendi Loki Rothman geskryf het, gaan oor ʼn onbeplande kuier saam met sy neef, Bulletjie.

“Bulletjie en sy vriend Jukkie het ʼn ruk gelede op my plaas kom jag,” vertel dié 36-jarige boer van Niekerkshoop, ʼn dorpie tussen Griekwastad en Prieska.

“Hulle het die hele naweek vir mekaar gesê: ‘Maak jou maak.’ Dit is ʼn gewilde sêding hier in die Noord-Kaap waarmee jy iemand uitdaag om te wys wat in jou steek.”

“Maak jou maak(e)” is ʼn Afrikaanse pop-rocksnit. “In ons huidige omstandighede sal almal ʼn onbeplande kuier saam met hulle mense geniet. Daarom voel ek dat alle Suid-Afrikaners die boodskap van hierdie liedjie diep in die hart sal voel.”

Die musiekvideo, wat deur Vonk Musiek opgeneem en vervaardig is, vertel die storie van vier vriende wat ná baie jare weer in hulle bendehuis bymekaarkom en saam kuier en musiek maak.

Jan Rhaap. (Foto: Carol de Villiers Fotografie)

“Deur die loop van die video speel ons verskeie speletjies; my karakter ‘maak sy maak’ en wen met alles – van veerpyltjies tot kaartspeel.”

Die liedjie volg in die voetspore van vorige enkelsnitte soos “Huisie in die Bos” wat hy saam met Juan Boucher geskryf het, asook “Ramskilpad” wat op verskeie treffersparades gepryk het.

Jan kom uit ʼn musikale gesin en het nog altyd ʼn diep waardering vir betekenisvolle musiek gehad. As 20-jarige het hy homself leer kitaar speel, maar eers in die landboubedryf gewerk voordat hy op 29 besluit het om voltyds te begin musiek maak.

Nadat hy twee jaar lank saam met die sanger Adam Tas getoer en vir hom voorvertonings gedoen het, het sy sololoopbaan behoorlik vlamgevat en het hy drie albums en verskeie suksesvolle enkelsnitte uitgereik.

Oor die jare het hy verskeie loopbaanhoogtepunte gehad, waaronder Ghoema-benoemings vir nuweling van die jaar in 2015 en beste alternatiewe album van die jaar in 2017.

Net voor die afsonderingstydperk ingestel is weens die wêreldwye Covid-19-pandemie het Jan ook saam met ander bekendes op die Bok Radio Bok-boot gekuier. Dit is hiér waar hy Rothman ontmoet het en toe hy besluit om “Maak jou maak(e)” uit te reik, het hy Rothman dus om hulp genader.

Hy is ook tans besig met die opname van sy vierde album wat voor die einde van die jaar uitgereik sal word. Rothman help ook om ander snitte vir dié album te skryf.

“Dit was ʼn groot voorreg om saam met Loki te werk. Ek het ʼn groot kans gewaag toe ek hom gevra het om saam met my te skryf, maar hy het dadelik ingestem. Ek het vir hom die oorspronklike weergawe van ‘Maak jou maak(e)’ gestuur en hy het daaraan geskaaf en geskuur. Dit sal ongelooflik wees om weer in die toekoms saam met hom te werk,” sê Jan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.