Janie Bay wil unieke stempel op musiek afdruk

Janie Bay. (Foto: Anna Pepper)

Janie Bay. (Foto: Anna Pepper)

Die sangeres en liedjieskrywer Janie Bay is geen vreemdeling in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie en nou het dié musikant pas haar eie eerste Afrikaanse enkelsnit, “Amper daar”, uitgereik.

Nié net word Bay se musiek gehoor in die Afrikaanse rolprente Mooirivier, Vir altyd en Stroomop, waarvoor sy haar eie weergawe van die wêreldbekende liedjie, “You are my Sunshine”, opgeneem het nie, maar haar debuut-vollengtealbum, Miscellany, is ook in 2017 vir ʼn Sama-toekenning benoem.

Hoewel Bay al ʼn rits Afrikaanse liedjies in samewerking met ander kunstenaars geskryf het, is “Amper daar” haar eerste amptelike solo-enkelsnit.

“Ek skryf tans in Afrikaans en het dit baie geniet om hierdie liedjie te skryf en op te neem. Ek werk ook aan ʼn vollengte-album wat hopelik oor ʼn paar maande uitgereik gaan word,” vertel sy.

Dié begaafde sangeres het ook al saam met verskeie gewilde kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf, soos Jack Parow, Hunter Kennedy, Bouwer Bosch en Jan Bloukaas, gewerk. Die musiekvideo’s vir die gewilde snitte wat sy saam met hierdie kunstenaars opgeneem het, het altesaam al meer as 500 000 trefslae op YouTube.

Kennedy, wat verlede jaar saam met Bay die liedjie “Wag vir jou” opgeneem het, voel sy is iemand in die Afrikaanse bedryf om dop te hou. “Janie is die outentieke vroulike, alternatiewe popstem waarvoor ek lankal wag,” sê hy.

Bay verduidelik “Amper daar” handel oor hoe dit is om in ʼn verhouding te wees. “Soos ʼn mens dit regtig ervaar, nie soos in die flieks nie. Dit gaan daaroor dat ʼn mens eintlik nooit regtig in ʼn verhouding ‘arriveer’ nie. Dit is ʼn reis wat twee mense saam onderneem wat nooit eindig nie.”

Die musiekvideo vir die snit, wat ook pas uitgereik is, beeld daarom ook ʼn “roadtrip” uit, vertel Bay.

Sy voeg by dat sy opgewonde is oor hoe musiek in die geheel tans ontwikkel. “Dit is ʼn wonderlike tyd om te kan eksperimenteer met jou eie vibe,” sê sy.

“Ek ervaar dat die wêreld baie meer oop daarvoor is dat ʼn mens jou eie, kleurryke self kan wees. Dit is ʼn tyd van nuwe style en interessante klanke en ek geniet die vryheid wat dit bied om myself te kan uitleef. Ons het almal soveel meer van onsself om te gee as wat ons aanvanklik besef en dit is lekker om te sien dat meer kunstenaars dit waag om hul eie unieke stempel op musiek af te druk.”

“Amper daar” is aanlyn beskikbaar by Spotify, Apple Music, Joox, Deezer en iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Barend ·

Talentvol, gaan nog baie van haar hoor. (En nog baie mooi ook).

David ·

NOOIT geweet sy is so aantreklik nie. Sy gaan die plaaslike kougom-blondes opdraande gee. WANT sy KAN sing

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.