Janita Claassen (1947–2005)

97101-lOp 24 Oktober 2005 het Suid-Afrika een van die gewildste Afrikaanse kunstenaars verloor toe Janita Claassen aan kanker oorlede is.

Janita is op 30 April 1947 op die Noord-Kaapse dorp Warrenton gebore. Sy het matriek behaal aan die Hoërskool Vereeniging en daarna BA (HOD) aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gestudeer.

Sy het byna nege jaar lank skoolgehou. In 1976 het sy ’n oudisie geslaag om in ’n koffiehuiskonsert op televisie op te tree, maar dit was eers toe die Musiek-en-Liriekbeweging in 1979 ontstaan het dat sy in die musiekbedryf beland het.

In daardie jare het die bekende sanger Jannie du Toit musiekaande by sy huis naby die dieretuin in Pretoria gehou, en Janita was deel van die groep. Een van Janita se gereelde liriekskrywers, Babs Pretorius, het die woorde van een van die snitte op Jannie se debuutalbum, Liedjie vir jou, naamlik “Magnoliadal”, geskryf. Jannie is goed bevriend met Babs se seun, prof. Fransjohan Pretorius.

Janita het in 1983 haar debuutalbum, Janita, vrygestel, nadat haar debuut-enkelsnit, “Madeliefie”, drie jaar tevore verskyn het. Die groot treffer van hierdie album was “Rolbos”. Twee jaar later het sy dit opgevolg met Ballonne, en die titelsnit was weer eens ’n groot treffer.

Babs Pretorius het ook dié liedjie se woorde geskryf; dit is gekomponeer deur Lize Stroebel, wie se ma, Anna Rudolph, verskeie kinderliedjies geskryf het. Die volgende jaar het Janita vir die eerste keer saam met Manuel Escorció gesing toe hulle “Feestyd se wysie”, ’n Afrikaanse weergawe van BZN se treffer “Waltzing Maria” opgeneem het.

Hierdie snit was een van die treffers van Janita se album, Meisiekind. Nog ’n treffersnit van hierdie album was “Yo-yo”, ’n komposisie van die destyds jong liedjieskrywer Marietjie Stoop. Manuel en Janita het kort daarna hul eerste duetalbum, Liefde immergroen, vrygestel. Christa Steyn het die titelsnit geskryf, en dit het ’n treffer geword.

In 1989 verskyn Janita se volgende album, Wense; die titelsnit was ’n Afrikaanse weergawe van Nana Mouskouri se treffer “Nickel song”. Janita het deur die jare ’n balans gehandhaaf van oorspronklike Afrikaanse komposisies en bestaande komposisies met Afrikaanse woorde. Manuel en Janita het nog ’n album, met die gepaste titel Weer saam uitgereik, en weer eens het dit ’n paar treffers opgelewer, onder meer “Ons duet”, “Kosmos” en “Sterrenag”, ’n Afrikaanse weergawe van Jacques Offenbach se bekende komposisie “Barcarolle”.

Nog ’n treffer was ’n toonsetting van die Leipoldt-gedig “Tjienkerientjie”, wat ook jare tevore deur Sonja Herholdt opgeneem is. Die titelsnit van haar volgende album, “Wie sal weet?”, was weer eens ’n Afrikaanse weergawe van ’n bekende liedjie, hierdie keer “Come what may” van Vicky Leandros. Tussendeur het sy egter ook sukses behaal met oorspronklike komposisies, onder meer “Dans”, wat sy self gekomponeer het, “Hardloop my kind”, “Oorwinter” en “24 uur”, waarvoor sy die woorde en musiek geskryf het.

Janita het aanvanklik daaraan gedink om ’n operasangeres te word, maar toe besluit om haar eerder op ligte Afrikaanse musiek toe te spits. Nogtans het sy wel klassieke snitte opgeneem, onder meer “Walse uit Wene”, ’n keurspel van Johann Strauss se bekendste walse, maar met Afrikaanse lirieke, asook “Soeke”, op die wysie van die bekende “Va pensiero”; die slawekoor uit Verdi se opera Nabucco.

In 1993 is Janita se eerste Christelike album, Die Here is my herder, vrygestel. Anders as sommige van haar voorgangers, soos Sonja Herholdt en Min Shaw, het sy besluit om nie voltyds Christelike musiek te sing nie. In Oktober 1995 is kanker by haar gediagnoseer, en sy moes chemoterapie daarvoor kry.

Ondanks ’n delikate operasie is haar stembande nie geraak nie, en het sy haar stemkwaliteit behou. Toe sy gehoor het dat sy genees is, het sy die album, My danklied, tot eer van die Here opgeneem. Verskeie bekende liedere het op hierdie album voorgekom, onder meer “Saggies en teer”, “Ek weet vir seker”, “Ek kan hoor my Heiland roep my” en “Bly by my Heer”.

Tien jaar nadat kanker die eerste keer  by Janita gediagnoseer is, moes sy van voor af ’n stryd daarteen voer, en hierdie keer het dit haar lewe op die ouderdom van 58 jaar geëis. Hoewel drie trefferversamelings gedurende haar leeftyd verskyn het, is ’n dubbele versameling, Grootste treffers 1980-2005, kort ná haar dood vrygestel. Hierdie versameling het al haar treffers, afsonderlik en saam met Manuel Escorció, asook ’n aantal Christelike snitte, ingesluit. Dit was ’n gepaste manier om hulde te bring aan ’n kunstenaar wat groot sukses oor ’n lang tyd in die plaaslike musiekbedryf behaal het.

Die jong sopraan Jeanine het twee van Janita se treffers, “Rolbos” en “Dans”, op haar onlangs vrygestelde debuutalbum ingesluit, terwyl Rina Hugo ’n huldeblykalbum met verskeie van Janita se treffers as deel van haar album “Onthou” uitgereik het. Dit alles is ’n bewys dat Janita een van ons land se gewildste Afrikaanse kunstenaars tot nog toe was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ghia ·

Volgens haar geboorte jaar sou sy nou 69 word / wees? iet is nie reg met haar ouderdom of geboortejaar nie

Hannelie ·

Sy is in 1974 gebore, op ouderdom van 58jr oorlede en sou hierdie jaar 96jr oud geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.