Om ʼn suksesvolle musiekloopbaan van 50 jaar in een woord op te som, sal vir ʼn man van minder woorde bykans onmoontlik klink.
Plaas jy egter die ikoniese Afrikaanse liedjieskrywer en woordtowenaar Jannie du Toit onder druk om ʼn woord te kies, kom dit vinnig en gemaklik: “vreugde”.
Du Toit het onlangs ʼn koppie boeretroos by Maroela Media kom geniet en staaltjies gedeel uit sy luisterryke loopbaan in musiek wat sedert 1971 oor vyf dekades strek, nadat hy homself aanvanklik as regsgeleerde bekwaam het.
Die beginjare
Hy vertel sy kop het egter reeds musiek se kant toe gestaan toe hy in 1971 as groentjiestudent onder meer by die universiteitsorkes en die musiekgroep Hilton aangesluit het. Hy was ook van 1972 tot 1977 lid van die sanggroep Trilogie.
In 1977 het hy sy LLB-graad aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit verwerf.
In 1980, kort nadat hy sy klerkskap in die regte voltooi het, bedank hy om hom heeltyds op musiek toe te spits.

Jannie du Toit saam met sy musikale held, die Nederlandse liedjieskrywer Jules de Corte. Hier is hulle in Januarie 1996 by De Corte se huis in Nederland. (Foto: Verskaf)
“Ek het besef dat ek minder belangstel in kommersiële soort musiek; dat ek eerder meer op die artistieke kwaliteit van ʼn liedjie fokus as op of hy gewild gaan wees of nie. Met die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging wat in die laat sewentigs begin posvat het, het ek begin sien dat daar ʼn moontlikheid van ʼn musiekloopbaan kan wees,” vertel Du Toit.
ʼn Brief van prof. Chris Lamprecht van die Universiteit van Pretoria het as’t ware die deur na die res van sy loopbaan oopgemaak. Lamprecht het hom genooi om ʼn musiekgroep by Tukkies op die been te bring en te bestuur.
Hier het hy onder meer onder leiding van die Afrikaanse teaterdoyenne Anna Neethling-Pohl die musiekblyspel Loeloeraai geskryf. Loeloeraai is geskoei op die 1923-verhaal deur CJ Langenhoven.
“Ek het in sewe jaar se tyd geleer hoe om met ʼn groep van 30 sangers en ʼn orkes van 16 lede te werk. Ek het vir ses stemgroepe- en solo’s, viool, fluit en tjello geskryf.”
Dit was ook in die laat 1970’s wat Du Toit in ʼn platewinkel in Amsterdam, Nederland, die musiek van een van dié land se grootste uitvoerende kunstenaars, Herman van Veen, leer ken het. Dit is ook hier waar hy met die musiek van die blinde liedjieskrywer Jules de Corte kennis gemaak het.
“De Corte was na my mening die beste liedjieskrywer ter wêreld van ons tyd. Hy het sowat 3 000 liedjies neergepen. Hy is in 1996, kort nadat ek hom ontmoet het, oorlede. Tot my groot vreugde het ek my ware held ontmoet.”
‘Liedjie vir jou’
In 1980 neem hy die tydlose snit “Liedjie vir jou” op – tot vandag Du Toit se bekendste en gewildste Afrikaanse treffer.
Hy vertel dat die oorspronklike verwerking deur Rodger Bashey so “besonders” is dat dit sy gunsteling-verwerking is. Fatman en Caroline-Grace het onlangs dié verwerking weer opgeneem terwyl Karen Zoid sowat drie jaar gelede ʼn verwerking in haar rockstyl gedoen het.
Nóg ʼn gunsteling-verwerking is die Afri-Spaanse weergawe deur Matthys Maree. “Ek kan nie ophou om na daardie verwerking te luister nie.
“Rodger se oorspronklike een was egter so in die kol dat dit vandag nog onthou word. Ek is dankbaar dat mense my aan daardie liedjie ken.”
50 jaar is verby
Oor sy musiekloopbaan tot dusver sê hy sonder om te skroom: “Ek het elke oomblik daarvan geniet. As die liewe Vader vir jou nog lewenskrag gee om ná soveel jare steeds passievol te wees oor iets, dan woeker jy daarmee. Die passie vir musiek binne my is net té groot.”
Vir opkomende musikante is sy raad eenvoudig: Maak doodseker van jou passie en die prioriteit wat jy op daardie passie plaas.
“En gaan toets jou op ʼn plek waar ouens buiten jou pelle bereid is om hul eerlike mening te gee. Neem deel aan ʼn kompetisie en as dit daar blyk dat jy nie naby aan die wenstreep gekom het nie, moet jy kennis neem. Jy moet jou talente gaan meet aan maatstawwe wat onafhanklik is.”
Hy onthou nog die presiese oomblik toe hy geweet het dat hy sy bestaan uit musiek sou kon maak.
“Dit was teen die einde van 1978 ná ʼn kuier saam met Andy Lubbe [stigter van die Innibos-kunstefees] en Sandra Jacobs op hulle plaas.
“Ek het vroegoggend die pad Pretoria toe aangedurf en toe ek so teen die berg af ry, het ek my Volkswagen se venster afgedraai, my hand so gehou dat die wind deur my vingers suis. Op daardie oomblik het ek gewéét: Musiek is wat ek vir die res van my lewe gaan doen.”
- Jannie en Laurika Rauch het in 1988 saam in Stephan Bouwer se kaberetvertoning ‘Van Berlyn tot Bapsfontein’ verskyn. (Foto: Verskaf)
- Jannie en sy goeie vriend, die musikant Lucas Maree in 1996. (Foto: Verskaf)
- Jannie en Christa Steyn tydens ‘n optrede by die Mixer Koffiehuis in Melville, Johannesburg in 1994. Hulle het van 1986 tot 2011 permanent saamgewerk. (Foto: Verskaf)
- Jannie du Toit in 1982. (Foto: Verskaf)
- Jannie verskyn in 1986 in die musiekblyspel uit sy eie pen getiteld ‘Gansdans’. (Foto: Verskaf)
- Jannie du Toit en Christa Steyn (voor) saam met Coenie de Villiers en Lucas Maree (agter) in Pietersburg, 1995. (Foto: Verskaf)
- Jannie saam met Christa Steyn en Marié du Toit in die eerste uitvoering van ‘Skadu’s teen die muur’ in 1993. (Foto: Verskaf)
- Jannie du Toit en Janita Claassen in 2004. (Foto: Verskaf)
- ‘n Groep van Jannie en Christa Steyn se vriende het hulle in 2006 verras met ‘n spesiale aanbieding om hulle 20 jaar van samewerking te vier. Hier maak Anna Davel vir Jannie bewoë. (Foto: Verskaf)
- Jannie du Toit in die musiekgroep Hilton. Andy Lubby van Innibos-faam is die tromspeler. (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Ja, voorwaar ‘n ikoon.
Ai wat ‘n pragmens en sanger! Sny maar die lokke, want netnou lyk jy soos klaasvakie of Silwer De Lange!
So heerlik om ‘n ware Afrikaanse Kunstenaar te hoor gesels sonder “awesome”, “great” en “cool”. Hoede af vir een van die grootste woordkunstenaars in Afrikaanse musiek.