Luister: Jannie du Toit se musiek kry só nuwe gedaante

Jannie du Toit in 2010. (Foto: Verskaf)

Die geliefde sanger Jannie du Toit se sangloopbaan kronkel al vir sowat vyf dekades deur die Suid-Afrikaanse musieklandskap.

‘ʼn Nuwe baadjie’

Ter viering van sy 70ste verjaardag op 13 Desember het Jannie amptelik sy “ʼn Nuwe baadjie”-kompetisie afgeskop en dit word in samewerking met die ATKV aangebied.

Du Toit droom al geruime tyd daarvan om dié projek aan te pak. Die idee het by hom opgekom toe Karen Zoid ʼn nuwe baadjie vir een van sy liedjies aangetrek het.

Zoid het in 2018 sy ikoniese lied “ʼn Liedjie vir jou” met ʼn bietjie rock en blues-klanke opgeneem vir haar bekroonde kykNET-geselsprogram Die Republiek van Zoid Afrika.

Vele jong mense het toe vir die eerste met dié tydlose treffer kennis gemaak. Dit het Du Toit aan die dink gesit en so het die idee vir ʼn heerlike kompetisie, met ʼn fokus op die musiek wat hy oor die jare geskryf het, ontstaan.

Die kompetisie is vir musikante van 35 jaar en jonger bedoel en die idee is dat hulle vir een van Du Toit se liedjies as’t ware ʼn nuwe baadjie aantrek. Musikante kan uit sowat 50 MP3’s kies wat op die kompetisie se webwerf beskikbaar is.

“Ek wil graag hê jong musikante moet my liedjies transformeer. Solank hulle net nie die woorde verander nie, maar hulle mag vir dit ʼn jazz-, rock- of blues-klank gee en selfs a capella of instrumentele weergawes inskryf,” sê hy.

Twaalf finaliste sal aangewys word deur ʼn paneel en die publiek se stemme op sosiale media sal ook in ag geneem word. Die top-12 sal dan die geleentheid kry om ʼn werksessie by te woon wat deur Du Toit en van sy kunstenaarsvriende gelei word.

Die wenner sal met prysgeld ter waarde van R30 000 wegstap, die naaswenner ontvang R20 000 en die wenner van die derde plek kry R10 000. Jack Bantjes, ‘n oud-Suid-Afrikaner en aanhanger van Du Toit wat in Australië bly, dra gedeeltelik by tot die prysgeld. Op dié manier wil Bantjes vir Du Toit bedank vir sy “inspirerende musiek” en vir die herinnering aan Bantjes se Suid-Afrikaanse erfenis wanneer hy daarna luister.

Jannie du Toit kuier in die Maroela Media-ateljee.

Du Toit, ATKV reis saam

Vir Du Toit was die geleentheid om saam met die ATKV aan sy “ʼn Nuwe baadjie”-projek te werk, ʼn logiese besluit. In 1974 en 1975 was die Trilogie-sanggroep waarvan hy ʼn lid was, ʼn finalis in die ATKV se Crescendo-sangkompetisie.

Saam met Christa Steyn, Lucas Maree en Johan van der Watt het hy vir 15 jaar liedjieskryfwerksessies onder die vaandel van die ATKV aangebied. Dié sessies het sonderlinge kunstenaars soos Anna Davel, Rikku Lätti, Theuns Jordaan, Joe Niemand, Kevin Leo, Marlise Scheepers, Wanda Bam, Monica Maree en Yoti – die Griekse Boertjie opgelewer.

Du Toit meen die ATKV het nog altyd wonderlike geleenthede aan jong mense gebied en “ʼn Nuwe baadjie” sal hiermee voortgaan. Die 12 finaliste se verwerkte liedjies sal op ʼn CD onder die JNS-musiekhandelsmerk opgeneem word en deur Vonk Musiek versprei word.

“Hiermee wil ek baie graag iets aan die Afrikaanse musiekbedryf teruggee, as dank vir die uitmuntende jare wat dit al deel van my lewe is,” sê hy.

Du Toit onthou toe hy aan die begin van 2021 met die idee na die ATKV gegaan het, en sê dat Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kunste, dadelik vuur en vlam was.

“My vriend Coenie de Villiers het my ook aangemoedig en gesê dit is ʼn fantastiese idee. Baie van die jonger kunstenaars wat nog nie 35 is nie, sal waarskynlik baie van my musiek nie ken nie. Hopelik stel ek hulle met hierdie kompetisie daaraan bloot en inspireer dit hulle om gehaltemusiek in Afrikaans te maak.”

Du Toit hoop dat die projek daadwerklik ʼn verskil in aspirantmusikante se loopbane sal maak. “Mag dit aan jong mense wat nog net van musiekmaak kon droom, die geleentheid bied om ʼn bestaande liedjie af te stof en ʼn nuwe baadjie aan te trek. Ek sien geweldig uit na die eindresultaat.”

Jannie du Toit en Christa Steyn (voor) saam met Coenie de Villiers en Lucas Maree (agter) in Pietersburg, 1995. (Foto: Verskaf)

Jannie du Toit se musikale reis

As deel van die sogenaamde Musiek en Liriek-beweging van die laat sewentigs het hy nog altyd daarna gestreef om musiek en lirieke met mekaar te verweef.

In hierdie tyd was hy deel van die folk musiekgroep, Trilogie, wat in 1976 met hulle liedjie “Droom langs stille water” ʼn vermeldingsprys op die American Song Festival gewen het. Dit was ʼn opwindende gebeurtenis, maar Du Toit het in die diepte van sy hart geweet dat hy die res van sy lewe musiek wou maak en dat hy ʼn loopbaan as solokunstenaar wil volg.

Dit was veral “ʼn Liedjie vir jou” wat hy in 1978 geskryf het, wat mense met ʼn waardering vir die luisterlied regop laat sit het en hom ʼn platekontrak besorg het.

Du Toit was nie altyd net by Afrikaanse musiek betrokke nie, maar het ook gereeld die musiek van Europese kunstenaars soos Jules de Corte en Jacques Brel in kabaretkonserte gesing.

Aan die begin van 2021 het Jannie besluit om dié besondere mylpaal in sy musiekloopbaan op verskillende maniere te vier. Hy het ʼn program, BeSTEMmings, saamgestel waarmee hy op verskeie plekke deur die land toer. BeSTEMmings is propvol oorspronklike Afrikaanse musiek wat hy en van sy kunstenaarsvriende oor die jare gesing het.

Du Toit het ook aan ʼn televisiereeks van 13 episodes, met die titel ʼn Liedjie vir jou, gewerk. Die reeks neem kykers op ʼn musikale reis deur sy loopbaan en dit word reeds van September af op kykNET NOU!, kanaal 146, uitgesaai.

Musikante kan tot Vrydag 13 Mei inskryf deur hulle weergawe van een van Jannie du Toit se liedjies op te neem en in MP3-formaat in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ABDP ·

Ek is jonger as 35 jaar en ken sy musiek baie goed. Ons plaaslike kunswedstryde het gereeld sang items bevat waar deelnemers sy musiek gesing het. Uitstekende kompitisie!

Jax ·

Fantasties. Dankie Jannie. Dis n riem onder die hart om hiervan te hoor. Ek hoop dit spoor musiek en liriek skrywers aan om Goeie werk te lewer en nie die “bubblegum musiek” wat ons deesdae na moet luister oor die radio nie. Dan wil ek nie eens praat oor die gehalte van sang nie. Sangers, toonsetters en skrywers, hier is nou een van die baie goeie voorbeelde van werklik Goeie musiek, liriek en sang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.