Jannie Moolman gesels oor passie vir digkuns, Afrikaans

Jannie Moolman. (Foto: Verskaf)

Voor die Covid-19-pandemie was die sanger Jannie Moolman se dagboek stampvol met vertonings oor die hele land en sou hy sy jongste album, “Dig by my”, saam met hom op toer geneem het.

Hoewel dié planne deur die inperkingsmaatreëls in die wiele gery is, het Moolman hom nie deur die omstandighede laat onderkry nie.

“Dit is wat dit is,” sê Moolman in ʼn onderhoud met Maroela Media. Hy woon op Hartbeespoort in Noordwes en het op dié dorp gewoeker as eiendomsagent gedurende die inperking.

“Ek het eintlik al voor die inperking daarmee begin. Ek het begin agterkom dat my konserte regtig net oor naweke val en ek is ʼn bietjie van ʼn busy body wat nie kan stil sit nie. Ek het toe besluit om iets te kry om my deur die week besig te hou wat terselfdertyd ook as sekondêre bron van inkomste kan dien,” verduidelik hy.

“Ek het net besef dat almal in dieselfde bootjie is en dat ek nie uitgesonder is om deur ʼn moeilike tyd te gaan nie. My werk as eiendomsagent kon gelukkig in dié tyd as primêre bron van inkomste dien.”

Sy vrou, Melissa-Jo, is ʼn tandarts op Hartbeespoort. Hulle is sedert Junie 2018 dolgelukkig getroud, sê Moolman.

“Om met haar getroud te wees is die heel beste ding wat nog ooit in my lewe met my gebeur het. Ek kan nou nog nie glo dat ek so ʼn ongelooflike persoon ontmoet het wat die res van my lewe met my kan deel nie.”

Hy lag terwyl hy vertel dat hy en die sanger Kevin Leo, met wie hy ook gereeld die verhoog deel, ʼn klein handreiniger-onderneming tydens die inperking in Hartbeespoort op die been gebring het. Leo is ook hier woonagtig.

“Ons het op ʼn baie klein skaal die handreiniger verkoop, maar later die winkeltjie gesluit. Dit het egter vir ʼn rukkie aan my en Kevin ʼn rede gebied om in die oggend op te staan.”

Melissa-Jo Sharpe en Jannie Moolman. (Foto: Facebook)

Moolman vertel hoe hy en die musikant Dewald Gouws op die grasperk voor die einste handreiniger-winkeltjie gesit het en met ʼn kitaar in die hand hulle jongste enkelsnit, “Hou aan met glo”, geskryf het.

Dié liedjie sal eersdaags op al wat ʼn radiostasie is se speellyste pryk. Dit is ʼn kragtige liedjie met ʼn sterk boodskap van hoop en geloof. Johan Rautenbach het die vervaardiging behartig.

“In ons bedryf is dit ʼn algemene ding dat mense vir jou voorskryf oor die rigting wat jy met jou musiek moet inslaan, maar sedert verlede jaar doen ek dinge heeltemal op my eie.”

Die album “Dig by my” is deur Coleske Artists versprei en is ʼn versameling van Afrikaanse gedigte deur bekende digters soos NP van Wyk Louw se “Die beiteltjie” wat getoonset is en nuwe weergawes van snitte soos “Die weduwee se kruik” deur Lucas Maree en “Gebed” deur Koos du Plessis.

“Die album lê my baie na aan die hart. Daar is baie kunstenaars wat op hulle eie manier probeer veg vir ons mense en ons taal. Ek dink as jy vir mense kan verduidelik hoe mooi ons taal is en dat dit ʼn plek in die samelewing verdien, sal jy baie ver kom.”

Hy haal die Engelse komponis Henry Purcell aan wanneer hy sê dat musiek en digkuns hand aan hand loop. “Digters maak ʼn taal mooi en ongelukkig kry die mense wat ons taal só mooi maak en bevorder nie altyd die erkenning en regmatige plek in die samelewing wat hulle verdien nie.”

Jannie Moolman en Kevin Leo (Foto: Verskaf)

Moolman stel eersdaags dié passie vir die digkuns ten toon op Maroela Media se Kuns en klank-geleentheid by die Atterbury-teater in Pretoria.

Hy sing onder meer “Gebed”, “Lisa se klavier” soos wat hy dit vir sy album verwerk het, en sy eie weergawe van “Boereplaas” waarvoor hy ʼn nuwe vers bygewerk het.

“Ek hoop mense sal hou van wat ek met die liedjies gedoen het,” sê Moolman.

Kuns en klank is op 14 November in die Atterbury-teater te sien. Die kunswerk van Lidi de Waal en Anna Davel word ook uitgestal voordat Jannie Moolman, Leon Gropp, Saarkie, Lizanne Barnard en Anna Davel op die verhoog sal verskyn. Lizz Meiring is die gasvrou vir die aand.

Kaartjies kos R195 per persoon en is beskikbaar by iTickets.

“Dig by my” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae