Jay en Lianie doen dit weer

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Jay en Lianie is terug met ’n splinternuwe opvolg-duetalbum getiteld Vir Liefde. Die CD is uitgereik deur Inhoud Huis Musiek, Johan Vorster se nuwe maatskappy. Die album is ’n tipiese opvolg van Jay en Lianie se eerste duetalbum Bonny en Clyde.

Tien van die 15 liedjies is nuwe oorspronklike liedjies, wat geskryf is deur groot name in die industrie, soos onder andere Rudi Classe en Christoph Kotze. Daar is selfs ’n liedjie “Wilde Weste” wat deur die bekende Bobby van Jaarsveld geskryf is so ook “Ons is” deur Karlien van Jaarsveld met Johan Vorster as medeskrywer. Die album het die erkenbare Johan Vorster-gevoel, veral so met Johan wat by meeste van die liedjie se skryfwerk self weer betrokke was. Soos met hulle vorige album kan luisteraars ook uitsien na ’n ou bekende of twee met weergawes van 80’s treffers “Hungry eyes” en Roxette se “Sleeping in my car”.

Die album het ook ’n 70’s-keurspel op om die nostalgie aan te wakker. Dis gewis ’n sterk popalbum en ’n moet vir Jay en Lianie-aanhangers. Die album sal ook enige partytjie aan die gang kry. Bekende musikante soos Floors Oosthuizen, Danny Smoke op kitare en Denny Laloutte op baskitaar was ook betrokke met die opname van die album. Die algehele gevoel is ’n sterk opvolg en herkenbare klank van Jay en Lianie se vorige duetalbum. Die mees onlangse groot treffer “Naweek Lyfie” verskyn ook op die album. Jay en Lianie se stemme komplimenteer mekaar geweldig baie, wat die liedjies verseker sterker maak. Die produksie en verwerkings is van internasionale standaard en gewis is daar ’n hele paar radiotreffers. Tog breek “Da’ vat hy” en “Die Goeie Oue Tyd” die bietjie spoggerigheid van die res van die album. Hierdie is gewis ’n album vol sterk enkelsnitte en sal verseker binnekort op menige radiostasies se treffersparade te siene wees. My gunsteling lied op die album is “Ek is omdat ons is”. Goeie werk deur Johan Vorster en sy span by Inhoud Huis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.