Jennifer Zamudio oor ouer word, ʼn langdurige loopbaan en haar pa se wyse woorde

Jennifer Zamudio vier vanjaar 22 jaar in die musiekbedryf en het onlangs haar 50ste verjaarsdag gevier. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Elke Donderdagaand, vir die afgelope twee jaar sedert die Covid-19-pandemie die plaaslike musiekbedryf ʼn vuishou in die maag gegee het, hou Jennifer Zamudio regstreeks op Facebook konsert vir honderde van haar aanhangers – oftewel Zam-jammers, soos dié stoere bewonderaars na hulleself verwys.

Jennifer het in 2020 haar 20ste jaar in die musiekbedryf gevier, en skielik moes dié gewilde Afrikaanse sangeres elke konsertdatum wat in haar dagboek neergepen is, doodtrek.

“Dit was die vreemdste, ongemaklikste gevoel om skielik nie te weet wat vir jou voorlê nie,” vertel Jennifer oor ʼn vuurwarm cappuccino aan Maroela Media.

“Ek het provinsiale toere regoor die land beplan om my 20ste jaar in die musiekbedryf te vier en daar moet ek alles kanselleer. Ek het myself ʼn paar dae gegee om te tob, maar ek het een oggend opgestaan en besluit dan moet ons maar werk met wat ons het.”

Dit is dié positiewe houding wat haar die afgelope 22 jaar in haar musiekloopbaan dra en wat haar help om jonk van gees te bly, sê Jennifer, wat op 15 Januarie vanjaar haar 50ste verjaardag gevier het.

“’n Mens moet doen wat jy doen na die beste van jou eie vermoë, heeltyd bly dink en nie kompeteer nie,” sê Jennifer Zamudio. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Die minste wat jy jouself skuld is om elke oggend jouself te herinner aan alles wat jy het om voor dankbaar te wees. Ek is cool met ouer word – ek het nog nooit so daaraan gedink dat die tyd nou vir my aanstap nie. Ek wil net soveel as moontlik dinge ingepas kry en in elke dag in die oomblik leef,” sê sy.

Dié Gansbaaise nooi vertel sy het destyds as 17-jarige groentjie na Pretoria verhuis waar sy by die Suid-Afrikaanse Weermag aangesluit het nadat sy op Malmesbury gematrikuleer het. Die aanlegtoetse waarvoor haar ouers haar gestuur het, het gewys dis weermag, polisie óf verhoog toe – maar van ʼn loopbaan in die kunste was daar nie tóé sprake nie en sy het in die openbare skakelkantoor van die weermag beland.

“Dit wys jou net hoe die lewe werk – dat ek uiteindelik opgeëindig het om te doen wat vir my beskore was. As klein dogtertjie het ek met my haarborsel gesing en my sussie, Jackie Zamudio-Prins, se kêrel het my geleer kitaar speel. Ek was lief daarvoor om my familie te vermaak, maar my kop het nooit verhoog toe gestaan nie. Tot ek op ʼn dag besluit het om op aandag te staan in die weermag en om op die verhoog te wees, loop nie hand aan hand nie,” vertel Jennifer laggend.

Sy het in 1992 by Anneli van Rooyen se sangskool aangesluit en vandaar het sy vir haarself ʼn pad in die Afrikaanse musiekbedryf begin oopkerf.

Jennifer het nie stilgesit tydens die pandemie nie en het onder meer die liedjie ‘As ek huil’ uitgereik. Dié liedjie is deur verlies geïnspireer.

“Anneli het my touwys gemaak in hoe ʼn mens kontrakte opstel, hoe om groot besluite te neem en die belangrikste, hoe om mense te hanteer. Anneli laat elke persoon met wie sy in aanraking kom spesiaal voel en het my geleer dat die mense wat jou ondersteun dié mense is wat jou toelaat om te doen waarvoor jy lief is,” sê Jennifer oor haar mentor van die afgelope drie dekades.

“Ek het die wêreld se respek vir Anneli en vir hoe sy haarself dra as kunstenaar in ʼn bedryf wat soms ongenaakbaar kan wees. Ek dink partykeer sy het my té ordentlik grootgemaak,” lag Jennifer.

Dit is die selfdissipline wat sy in die weermag geleer het asook die professionaliteit wat deur Anneli by haar ingeburger is wat haar gehelp het om op die verhoog te bly staan ses jaar gelede toe haar pa, René, dood is.

“Hy was ʼn wyse man en hy het altyd vir my gesê ʼn mens bereik niks sonder harde werk nie en dat werk eerste moet kom. Toe hy dood is, het ek dit gemaak tot by die laaste liedjie van my vertoning voordat ek nie meer kon sing nie.”

Sy en René, wat in die ouderdom van 80 dood is, het ʼn verjaardag gedeel en die eerste jaar sonder hom was vir haar bitter moeilik, vertel sy.

“Ek het egter daar en dan besluit ek kan nie elke jaar op ons verjaardag net so sit nie. Nou vier ek elke jaar sy lewe en is dankbaar dat ons vir só lank saam ʼn verjaardag kon deel.”

Dit is ook die wyse woorde van haar pa, dat ʼn mens nooit moet ophou om vir jouself te dink nie, wat daartoe gelei het dat sy die afgelope 22 jaar haarself konstant kon vernuwe in ʼn musiekbedryf wat vinnig verander.

Jennifer Zamudio. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

“Dié wyse woorde van my pa, innerlike dryfkrag en die genade van ons liewe Vader, het my gehelp om ʼn langdurige musiekloopbaan te bou. Deursettingsvermoë, stamina en om werklik te glo in wat ek doen, het natuurlik ook bygedra. Ek het die leertjie bietjies-bietjies geklim en nie my sukses gemeet aan hoeveel toekennings of no. 1-treffers ek het nie – dit is alles goed wat deur ander mense daargestel is,” sê sy.

“’n Mens moet doen wat jy doen na die beste van jou eie vermoë, heeltyd bly dink en nie kompeteer nie. Sodra jy kompeteer, oorkompenseer jy en foute tree in. Doen dinge soos jy wil en fokus op jou eie paadjie vorentoe. ʼn Ingenieur saam met wie ek lank gelede gewerk het, het vir my gesê dat ek nie moet toelaat dat enigiemand vir my ʼn vervaldatum gee nie, en hier sit ek vandag nog.

“Ek het vir jare my eie klanktoerusting rondgedra en soveel omwentelinge in die musiekbedryf oorleef, dat ek voel ek kan nou werklik net doen wat ek wil. Die toekoms is blink en ek het nog baie plannetjies – en dit alles op my eie voorwaardes.”

  • Jennifer lewer elke Donderdagaand om 20:00 regstreeks op haar Facebook-blad ʼn vertoning, waartydens kykers ʼn skenking kan maak.
  • Sy is ook op Saterdag 29 Januarie by Die Bank op Kestell in die Vrystaat te sien en op 6 Februarie by die Montana Family Market in Montana, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.