Jennifer Zamudio, Riaan Grobler sing saam op sy nuwe album

Jennifer Zamudio en Riaan Grobler sing saam die duet ‘Liefdeshartaanval’. (Foto: Liezel Scheppel Picture Perfect Studios)

Die sanger en Pretoria FM-omroeper Riaan Grobler het dadelik geweet hy wil sy jongste enkelsnit, “Liefdeshartaanval”, opneem toe hy dit die eerste keer hoor.

Die liedjie is geskryf as ʼn duet. Grobler vertel hy wou iemand met ʼn warm stem nader om saam met hom die snit op te neem.

“Ek het al duette saam met van die land se grootste kunstenaars opgeneem, maar ek het nog nooit saam met Jennifer Zamudio gewerk nie. Ons is egter al jare lank vriende in die bedryf en ʼn steekproef op Facebook onder my aanhangers het bevestig dat sy my eerste keuse is.”

Zamudio, een van Suid-Afrika se mees geliefde en gevestigde sangeresse, het ingestem om die liedjie saam met Grobler te sing. Sy het onlangs haar 20ste jaar in die musiekbedryf gevier.

“Liefdeshartaanval” is geskryf deur Deon Bothma, broer van Alanda, oftewel Allie van Cowboys4Jesus-faam. Grobler vertel hy het Bothma genader om die liedjie vir hom te skryf.

“Ek het een van Alanda se snitte, ‘Jy’s my engel’, op my vorige album gesing. Deon het dié liedjie ook geskryf. Ek is mal oor sy skryfstyl en hy skryf vir die genre waarin ek sing. Daarom het ek hom gevra om ʼn liedjie vir my te skryf.”

Hy vertel die liedjie is uiteraard ʼn liefdeslied, en dat mense soms die verkeerde konneksie maak deur die titel te koppel aan iemand wat sterf.

“Dit gaan eintlik oor twee mense wat ná die verbrokkeling van ʼn verhouding besef hulle kan tog vriende wees. ʼn ‘Liefdeshartaanval’ verwys na die pyn wat almal van ons al ervaar het wanneer ʼn verhouding nie uitwerk nie – wanneer dit só pyn dat jy nie weet hoe om dit te beskryf nie.”

Grobler bieg dat hy aanvanklik onseker was of die liedjie saam met Zamudio sou werk omdat hulle nog nooit vantevore saam gesing het nie. “Toe ons in die ateljee stap en begin saamsing en harmoniseer, het daar ʼn ongelooflike soort magic gebeur. Ons is só bly ons het besluit om die liedjie saam op te neem.”

Hy voeg by dat dit ʼn voorreg is om saam met Zamudio die liedjie te sing. “Die verwerking daarvan is puik en ek glo daar gaan nog baie Riaan-en-Jennifer-opnames in die toekoms wees. Soveel mense kan aanklank vind by ‘Liefdeshartaanval’ – komaan, wie van ons het nie al só gevoel nie?”

Die liedjie is ook die titelsnit van Grobler se nuwe vollengte album wat onlangs vrygestel is. Die album bestaan uit 14 snitte en bevat liedjies soos “Vat hom vas”, “Koue hart” en “Klop klop aan jou hart”.

Liefdeshartaanval is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.