Jennifer Zamudio sing met goue klanke

jennnifer-zamudio-goud-is-my-woorde-01

Só gesels Jennifer Zamudio oor haar nuutste album Goud is my woorde wat onlangs uitgereik is. Foto: Jennifer Zamudio/Facebook.

“Die titelsnit ‘Goud is my woord’ voel vir my of dit my 18 jaar loopbaan as ʼn sangeres in een liedjie se drie minute vasgevang het.”

Só gesels Jennifer Zamudio oor haar nuutste album Goud is my woorde wat onlangs uitgereik is. Dit is haar eerste vollengte album seder 2016 en sy glo dit is presies dié soort musiek waarvoor haar aanhangers wag met ʼn bietjie van ʼn “verrassingselement”.

Haar vorige album het sy saam met liedjieskrywers van Nashville in die VSA aangepak en dit het ʼn country-aanslag gehad, maar sy reken haar nuutste album sal mense herinner aan hoe hulle haar as sanger leer ken het.

“Die album luister lekker, hoor. Die titelsnit gaan juis oor wat ek het om vir mense te sê. ‘Jy ken dit wat ek doen en goud is my woorde’ – so ek hoop van harte die mense sal voel dit wat ek vir hulle met die album bring, het ook ʼn tikkie goud in.”

Rudi Claase het die titelsnit en nóg ʼn liedjie vir Jennifer se nuutste album geskryf.

“Hy is een van die skrywers wat nou maar een maal net my stem die beste ken.”

Jennifer het ook reeds begin vervaardig aan die eerste musiekvideo vir die nuwe album. Die eerste lied wat van haar album uitgereik is, was Tersius Pretorius se skepping “Altyd myne” en dit was net vir haar voor die hand liggend dat dit die liedjie sou wees wat ook die eerste ʼn musiekvideo moet kry.

“Die video speel op ʼn parkade se dak af. Ons het dit in Julie tussen 16:00 en 03:00 verfilm, so nodeloos om te sê dit was frekken koud gewees.”

Hou sy van musiekvideo’s maak? “Nee wat, ek verkies om te sing en dit is dalk die rede hoekom ek nog nie so baie musiekvideo’s gemaak het nie Ek weet nie, dit is net nie my ding nie. Ek het eenkeer die voorreg gehad om ʼn klein rolletjie in ʼn fliek te speel en dit is ook waar ek besef het sing is eintlik eerder maar my ding. Ek leer liedjies se lirieke, vertolk dit en gee dit op my manier weer. Maar, ja-nee, aktrise wees, is nie my ding nie.”

Jennifer sê daar is ʼn paar goed wat vir haar in die 18 jaar van haar musiekloopbaan uitstaan, maar die twee Ghoema-pryse wat sy verlede jaar vir die beste country-album en as die publiek se gunsteling vroulike kunstenaar ontvang het, is sekerlik die kersie op die koek.

“Toekennings is nie ʼn gegewe nie, en dit is nie iets waaraan jy jou sukses moet meet nie maar ja, kom ons wees nou eerlik, dit is nogal half lekker as so iets jou te beurt val.”

Sy reken sy kan amper twee dekades in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf vier omdat sy altyd bewus bly van wat in hierdie vinnig veranderende industrie gebeur en bly aanpas.

“Kyk, as daar ʼn resep was, sou dit baie makliker gewees het om net dit te volg, maar dit is ongelukkig nie beskikbaar nie. Ek dink ons is in hierdie stadium in so ʼn snelgroeiende bedryf dat jy nie net op die punt van jou stoel moet sit nie, maar terselfdertyd ook op die punte van jou tone moet wees.”

jennnifer-zamudio-goud-is-my-woorde-02

Die verhoog is Jennifer Zamudio se speelplek en dit is waar sy en haar musiek een word met mekaar. Foto: Jennifer Zamudio/Facebook.

Jennifer sê ook sy glo sy het uiteindelik haar plek in die musiekbedryf gevind.

“Ek dink enige kunstenaar moet eers sy of haar sit kry. Ek moet eerlik vir jou sê, ek het eers my sitplek in 2011 in dié bedryf gevind. Dit was nie meer ek probeer ʼn bietjie hiervan of daarvan nie. Met Die lewe is ʼn liedjie-album het ek presies geweet wat ek wil doen en die Hart in my siel-album in 2013 was ʼn stewige opvolg. Goud in my woorde is beslis ʼn ware refleksie van wie ek is en wat ek aan my aanhangers wil bied.”

Dit ook nog lank nie die einde van Jennifer Zamudio nie.

“O ek wil nog baie musiek maak. Ek wil nog ʼn hele paar albums doen as dit vir my beskore is en ek wil nooit ophou optree nie. Die verhoog is my speelplek en dit is waar ek en my musiek een word met mekaar.”

Haar boodskap aan haar aanhangers is eenvoudig: “Dankie vir elke oor wat luister – julle gee my die geleentheid om te doen waarvoor ek so lief is.”

  • Jennifer Zamudio het in Maroela Media se ateljee kom kuier. Sy het met Esté Meyer Jansen gesels oor haar nuutste album Goud is my woorde. Sy het ook iets oor haar nuutste musiekvideo verklap en kyk ʼn bietjie terug oor haar 18 jaar in die plaaslike musiekbedryf.
  • Besoek gerus Jennifer Zamudio se webwerf vir meer inligting oor haar optredes. Lesers kan haar ook op Facebook, Twitter en Instagram volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Yvette ·

Hierdie is ‘n damn goeie album! Elke keer as ek na hom luister hoor ek net weer en weer nuwe uniekhede – pragtige woorde, great vertolkings en ‘n pragtige stem. Koop hom jy gaan hom net so baie geniet!!

Sam ·

Hierdie is een van ons juwele wat oor die jare mis gekyk is. As jy nie weet wie sy is nie, doen jouself ‘n guns en gaan luister na haar.

Hannelie ·

Wow!!! Sy mag maar. Sy sing met soveel intensiteit…..hoendervleis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.