Jitsvinger en Krisjan Fourie: Klank van ʼn ander soort

Jitsvinger en Krisjan Fourie. Foto: Facebook via Jitsvinger

Jitsvinger en Krisjan Fourie. Foto: Facebook via Jitsvinger

Die laterale kletsrymer, Jitsvinger, oftewel Quintin Goliath en die komponis, Krisjan Fourie, probeer grense verskuif met hul eerste enkelsnit as musiekduo, “Dink voor jy doen”.

Dié twee skrywers het in Johannesburg ontmoet toe Krisjan vir Quintin by ʼn televisie-onderhoud moes aflaai.

Jitsvinger, wat ook ʼn kulturele aktivis is, is ʼn veelsydige en bekroonde sanger wat sy musiek gebruik om in Suid-Afrika en internasionaal ʼn argitek van sy moedertaal te wees. Hy doen ook gereeld landwys opvoedingswerk onder jongmense.

Krisjan Fourie is ʼn Johannesburgse entrepreneur wat tot op hede sy passie as komponis stil-stil uitgeleef het. Fourie is ook ʼn gesoute kok, joernalis en skrywer, met vier Pendorings in die sak. As konsultant help hy graag ander musikante om uit sy eie foute te leer.

Ná die groep se kuier in Johannesburg na iKapa uitgebrei het, het hulle na baie nadenke besluit om hul Afrikaanse idees saam te gooi en die duo te begin.

“Dink voor jy doen” is ʼn universele blik op die verantwoordelikheid wat elke Suid-Afrikaner op die oomblik het. Die huidige droogte het nie net Suid-Afrika as land getref nie, maar ook die gemoed van die mense van die land. Talle situasies is vlambaar en die enigste manier om die veldbrand onder kultuurgroepe te vermy, is deur respek te betoon en ʼn positiewe boodskap uit te dra.

Die liedjie is opgeneem en gemeng deur Paul Riekert. Besoek Jitsvinger of Krisjan Fourie se Facebook-blaaie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.