Jo Black bereik groot mylpaal binne net 10 dae

Dit was sy droom vir sy jongste album, Voel jy die genade, om goue status – ʼn verkope van 15 000 eksemplare – te bereik, en nou het die gewilde sanger, Jo Black, dié droom bewaarheid in minder as twee weke.

Dié nuwe vrystelling, wat op 8 Februarie uitgereik is en bykans onmiddellik die no. 1-posisie op iTunes ingeneem het, is ook sedertdien heel boaan die RSG Top-20-verkoperslys in die land.

Die gelyknamige eerste enkelsnit pryk sedert die vrystelling boaan talle radiostasies landwyd se treffersparades. Black het ook geskiedenis op Maroela Media se Afrikaanse Top-20-treffersparade gemaak toe dié enkelsnit die top-20 in die no. 1-posisie betree het.

Die musiekvideo vir hierdie inspirerende lied het al sowat 340 000 trefslae op YouTube.

“Meer dankbaar kan ek nie wees nie. Dankie aan almal wat my album al gekoop het – en as jy hom nog nie het nie, kry hom,” het Black op sosiale media sy aanhangers en ondersteuners bedank.

“Ek is stomgeslaan oor hoe goed die album vaar. Dankie aan almal wat ons musiek koop en na ons vertonings toe kom,” het hy bygevoeg.

Die lied is deur Black, Johan Vorster, die musikant en liedjieskrywer Appel (Christoph Kotze) en Roan Ash geskryf. “Ek het niks spesiaals gedoen om die ondersteuning te verdien nie. Dit is alles net genade en ek wil mense uitdaag om te besef dat alles wat ons het, en die feit dat die son elke oggend weer opkom, nét genade is,” het Black vroeër in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê.

Jo Black (Foto: Facebook)

Volgens Black bied die album ʼn unieke mengsel van geloof, hoop en liefde en verklap nie net meer oor sy loopbaan sover nie, maar ook oor die dinge waarvoor hy dankbaar is.

“Ek het nie probeer wegskram van wat ek doen nie, want ek skryf oor uitknipsels van my lewe en daar is ʼn klomp snitte wat aan die dieper kant is. Ek skryf alles uit my ervaring van die lewe,” het hy gesê.

Dit bestaan uit ʼn wye verskeidenheid snitte, wat sy emosiebelaaide weergawe van Leonard Cohen se “Hallelujah” insluit. Dié snit het vandeesweek sy toetrede tot die Maroela Media Afrikaanse Top-20 gemaak.

“Ons het oor enigiets geskryf wat oor ons pad gekom het en op ʼn manier dit reggekry om ʼn goeie album saam te stel. Dit is net nog ʼn bewys van genade. Die grootste uitdaging was egter dat ek my eerste album oor 35 jaar geskryf het en net een jaar gehad het vir die tweede een,” vertel Black.

Black, wat van kleins af lief is vir musiek, het nooit gedink dat dit eendag sy loopbaan sou word nie. Vir hom moet musiek driedimensioneel wees. “Dit moenie net strelend op die oor wees nie, maar ook met die hart en siel praat en aanklank vind by gehore,” meen hy.

Wat die maak van die titelsnit se musiekvideo betref, wou Black graag die geleentheid benut om diegene wat in sy reis gedeel het, aan die publiek bekend te stel. “Ek verskyn gewoonlik alleen in my musiekvideo’s, maar ek tree nooit sonder ʼn orkes op nie. Ek wou hê dat hierdie video hulle moes insluit, want hulle het die afgelope twee jaar saam met my meer as 550 konserte gedoen.”

Voel jy die genade is by groot musiekhandelaars en op alle aanlyn platforms, soos iTunes, Joox en Spotify, beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pensioenaris ·

So mooi, voel sommer nou beter as vroeer vanoggend. Jy maak my dag. Alle sukses voorentoe.

ANA ·

❗??PRAGTIGE POSSITIEWE GETUIENIS EN PRAGTIGE SONG ? HALLE LU YAH ????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.