Jo Black betree Top-20 met emosionele snit ‘Staan vas’

Jo Black is terug met ‘n nuwe trefferlied. (Foto: Jo Black/Facebook)

Jo Black bekoor luisteraars weer met sy treffende rasperstem in sy splinternuwe enkelsnit, “Staan vas”, wat vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 as nommer drie betree.

Black verduidelik in ʼn YouTube-video dat dié nuwe lied – wat sy eerste enkelsnit in bykans ʼn jaar is – uit sy eie “gebrokenheid en uitputting” geskep is.

Hy vertel dat kinders dikwels na hom as “Oom Hoop” verwys, maar dat hy die afgelope jaar self weer op soek na hoop was ná sy besige loopbaan en die pandemie onderskeidelik sy tol op hom geëis het. Hy wil veral mans deur die lied se boodskap bemoedig om die stigma af te breek dat hulle hul pyn moet wegsteek en sê dat dit “oukei is om nie oukei te wees nie”.

“Ek hoop ook om met een hand deur die storms vas te klou, maar terselfdertyd ook een hand beskikbaar te hê vir dié wat om my verdrink. Ons is dit aan mekaar verskuldig.”

Brendan Peyper se splinternuwe lied, “Meisies soos jy”, maak ook sy debuut op die Top-20 op nommer ses, terwyl Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem” Elandré ná twee weke van sy nommereenplek onttroon.

Daar is vandeesweek verder ses liedjies wat teen die trefferlys klim, 11 wat daal en twee wat onveranderd bly.

  1. Riaan Benadé & Jay – “Rowwe bliksem”
  2. Eloff – “Johnnie Blou”
  3. Jo Black – “Staan vas”
  4. Elandré – “Hand aan hand”
  5. Irene-Louise van Wyk – “Tekkies brand”
  6. Brendan Peyper – “Meisies soos jy”
  7. Bernice West – “Jona”
  8. Dewald Wasserfall — “Bedoel”
  9. Rooksein – “Genade nader”
  10. Riaan Benadé – “Spontaan”
  11. Ivan Roux – “Op soek na liefde”
  12. Christia Visser – “Handgranaat”
  13. Appel – “Dina”
  14. Spoegwolf – “Bring my geweer”
  15. Franja du Plessis – “My lief”
  16. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  17. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  18. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  19. Bernice West – “Dink aan jou”
  20.    Demi Lee Moore – “Kan jou nie my maak liefhê”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe uitreikings:

Wat begin het as musiek vir ʼn Kleinkaap-boetiekhotel-advertensieveldtog op kykNET, het gelei tot Len Muller se nostalgiese nuwe enkelsnit met die titel “Huis toe”.

Maroela Media het vroeër berig dat Muller se platemaatskappy meer potensiaal in dié lied raakgesien en hom aangemoedig het om ʼn volledige liedjie daarvan te maak. “Die lied handel oor ons kort lewensreis op aarde waarna ons almal eendag ‘huis toe’ moet gaan. Die gelykenis van die verlore seun in die Bybel was ook deels die inspirasie agter die lied. Ek was self ook al dikwels verlore en moes my pad weer ‘huis toe’ vind,” vertel Muller.

Die Afrikaanse rockgroep Straatligkinders en die Engelse sanger Majozi het ook ʼn prettige nuwe enkelsnit, “Kakofonie”, onlangs bekendgestel. Volgens die Viva-app verwys “kakofonie” na disharmonie, ʼn skel klank, lawaai of geraas. Die lied gaan oor die mal dinge wat liefde ʼn mens kan laat doen.

Jan Rhaap se nuwe lied, “Jan ek kan nie dans nie”, is ʼn tong-in-die-kies verwysing na Patrick Swayze en Jennifer Grey se onvergeetlike rolverdeling in die 1987-film, Dirty Dancing. Die lied is deur Loki Rothman neergepen en herinner luisteraars moontlik aan die 1984-trefferlied Footloose deur Kenny Logins.

Ander nuwe vrystellings sluit ook Chris Else se “Jy is my huis”, “Katryn” van Stefan Janse, Rudi Claase se “Maak dit lekker” en Vincent Gordon se “Die onbekende” in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.