Jo Black: ‘Dit is alles nét genade’

Jo Black. (Foto: Facebook via Jo Black)

Jo Black. (Foto: Facebook via Jo Black)

Die gewilde sanger en liedjieskrywer Jo Black wat die Afrikaanse musiekbedryf soos ʼn warrelwind getref het, se eerste album, Skepe, het al meer as 90 000 eenhede verkoop.

Black, wat Afrikaanse musiekliefhebbers gaande het met snitte soos “Bring die hoop weer terug” en “Een klein klippie”, het ook onlangs sy jongste enkelsnit, “Voel jy die genade”, bekendgestel. Dié snit het geskiedenis gemaak op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 toe Black dié gewilde treffersparade in die no. 1-posisie betree het.

Die musiekvideo vir die lied, wat minder as ʼn week gelede op YouTube bekendgestel is, het ook reeds amper 150 000 trefslae en dit is ook die mees afgelaaide liedjie die afgelope paar dae op aanlynluisterplatforms.

Dié snit kom van sy tweede album, ook getiteld Voel jy die genade. Die album word op 15 Februarie bekendgestel.

Black vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media hy is oorweldig deur die ondersteuning. “Ek het gehoop die lied doen goed, maar dit het reeds al my verwagtinge oortref.”

Die lied is deur Black, Johan Vorster, die musikant en liedjieskrywer Appel en Roan Ash geskryf. “Ek het niks spesiaals gedoen om die ondersteuning te verdien nie. Dit is alles net genade en ek wil mense uitdaag om te besef dat alles wat ons het, en die feit dat die son elke oggend weer opkom, nét genade is.”

Oor die nuus dat sy album reeds meer as 90 000 eenhede verkoop het, is hy byna sprakeloos. “Hoe kan een ou so bevoorreg wees? Regtig. Ek kan nie dink dat daar enige ander ou is wat so dankbaar is soos ek nie.”

Hy voeg by dat sy droom vir die album was om goue status, wat gelykstaande is aan verkope van 15 000 eksemplare, te behaal. “Toe doen ons dit binne ses weke – en nou is hy al drie keer platinum.”

Black het onlangs sy aanhangers skrik op die lyf gejaag toe hy ʼn dringende nekoperasie moes ondergaan wat sy sangloopbaan, en sy welige en kenmerkende baard, in gedrang gebring het.

“Ek het nog ʼn lang herstelpad en was Maandag weer in vir ʼn prosedure waar hulle ʼn senuwee in my nek wat nog ontbloot was doodgebrand het, maar ek sal binne die volgende drie tot ses maande heeltemal uitgesorteer wees,” sê hy. Intussen toer hy weer die land plat. “Ek is nie bang vir die verhoog nie.”

Jo Black. (Foto: Facebook via Jo Black)

Jo Black. (Foto: Facebook via Jo Black)

Hy voeg by dat aanhangers dieselfde Jo Black-styl op sy jongste album kan verwag. “Ek het nie probeer wegskram van wat ek doen nie, want ek skryf oor uitknipsels van my lewe en daar is ʼn klomp snitte wat aan die dieper kant is. Ek skryf alles uit my ervaring van die lewe, maar daar is een snit wat nié oor my lewe gaan nie.”

Black verduidelik dié snit, getiteld “Kinders sê”, handel oor ʼn geskeide egpaar. “Dit was ʼn baie diep en uitdagende lied en dit is ʼn groot ballade.”

Hy voeg by dat dit vir hom belangrik is om altyd die rou emosie van sy ware ervarings in sy musiek vas te vang. “Ek dink mense vind aanklank daarby, want my storie klink soos almal se storie. Ek het ook swaargekry, ek was ook eensaam en depressief, ek was ook moeg en wou moed opgee, maar ek het ook die soet kant van die lewe geproe. Almal se lewens gaan deur seisoene en dit is heel toevallig dat mense soms saam met mekaar deur daardie seisoene gaan, net soos wat my aanhangers saam met my deur die seisoene gaan. Ek probeer net om so eg as moontlik in my musiek te bly en om ʼn ding te sê soos wat dit is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Diefie ·

Baie geluk en bly asseblief die persoon wat jy is. Jou baard laat my aan my oupa dink, die dae toe ons nog kinders was. Jy lyk baie aantreklik so. Slaap jy met jou baard bo die laken of onder die laken, het my ouma altyd vir my oupa gevra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.