Jo Black se nuwe album regstreeks opgeneem

Die gewilde musikant Jo Black se splinternuwe album, Jo Black: Live, is vandag uitgereik. Dit is Black se eerste album wat regstreeks voor ʼn gehoor opgeneem is.

Met sy YouTube-videos wat altesaam sowat tien miljoen trefslae het sowel as sewe Ghoemas op sy kerfstok, vier Black vanjaar sy loopbaan met die uitreiking van ’n nuwe album.

Jo Black: Live bied ʼn unieke mengsel van liedjies wat hy gesing het voor sowat 8 000 mense verlede jaar tydens ʼn optrede in die Sun Arena saam met sy vriend, sanger en liedjieskrywer Roan Ash.

Black wil hê dat konsertgangers wat daar was elke oomblik weer moet herleef en ook dat die mense wat nie daar was nie, saam in die vreugde kan deel.

Hy meen dat “Spring” een van sy gunsteling-liedjies in die album is. “Hoeveel is jy bereid om te waag om uit jou gemaksone te trap, stap of spring? Soms moet ʼn mens net daardie sprong waag,” sê hy.

“Ons betree altyd die onbekende met ʼn waagsprong, maar wie nie waag nie, wen nie. Dit is die hart van hierdie liedjie. As jy vandag daardie besluit neem, is jy môre al een sprong nader aan dit waarvoor jy gehoop het.”

Ander bekende snitte in die album is “Skepe”, ‘Die vrou wat ek liefhet”, “Een klein klippie”, “Voel jy die genade” en “Bring die hoop weer terug”. Ash is ook in die album te hoor.

Black glo musiek moet “driedimensioneel” wees. “Dit moet nie net strelend op die oor wees nie, maar ook met die hart en siel praat en aanklank vind by gehore. Wanneer ek terugkyk op hierdie reis, besef ek dat alles net genade was. Ek hoop dat dit mense sal help om ook die genade in hulle eie lewens raak te sien en te ervaar.”

Jo Black: Live is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.