Jo Black verras Afrikaans is Groot-konsertgangers

Jo Black op die verhoog. Foto: Albert van Pixel Pro.

Konsertgangers by die afgelope naweek se uitverkoopte Afrikaans is Groot-konserte was stomgeslaan toe die gewilde Jo Black ook saam met van die land se voorste kunstenaars op die verhoog verskyn het.

Black was nie deel van enige bemarking van die konserte nie en die vervaardigers het daarin geslaag om aanhangers onkant te betrap met dié verrassingselement.

“Ons probeer altyd om ons lojale ondersteuners te vergoed met ’n produksie wat groter is as voorheen en wou hulle bederf met die verrassing van Jo Black wat ook deel is van die konsert,” het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte, gesê.

“Dis so lekker om weer vanjaar deel te wees van Afrikaans is Groot en ek was so opgewonde – maar toe kan ek nie eens iets daaroor sê nie, want ek moet die geheim hou,” het Black laggend vertel.

Dié sanger, wat bekend is vir treffers soos “Bring die hoop weer terug”, “Skepe” en “Voel jy die genade”, het verlede jaar sy buiging op die Afrikaans is Groot-verhoog gemaak en saam met van die land se bekendste kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Demi Lee Moore, Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Corlea en Jay opgetree.

Die room van kunstenaars is deel van dié produksie en Elandré is ook vanjaar vir die eerste keer deel van Afrikaans is Groot. Ou gunstelinge soos Karen Zoid en Laurika Rauch kry ook weer vanjaar hul beurt op die verhoog.

Jo Black het Afrikaans is Groot se konsertgangers vanjaar behoorlik verras. Foto: Albert van Pixel Pro.

Dié konsertreeks vind in Maart 2020 in Kaapstad plaas en Jo Black sal ook daar in aksie wees terwyl die ooievaar omtrent onder die vroue kuier met Karlien van Jaarsveld en Riana Nel wat op hul pienkvoete wag en nié deel van dié konserte in Kaapstad gaan wees nie.

“Ons is saam met hulle opgewonde oor die onderskeie toevoegings tot hul gesinne want ons weet hoeveel blydskap kinders vir dié twee mammas bring,” het Pretorius gesê.

Al nege Afrikaans is Groot-konserte in Pretoria is uitverkoop, maar jy kan ook dié konsert in Kaapstad bywoon. Dit vind op Saterdag 21 Maart om 13:00 en 19:30, en op Sondag 22 Maart om 13:00, by GrandWest plaas. Kaartjies vir dié konserte is by Computicket beskikbaar. Bespreek jou kaartjies hier.

Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied. Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Spark Plug ·

Hoendervleis…daai songs het my hoendervleis gegee vrydag aand

EO ·

Ek het ook hoendervleis gekry. Jo, jy mag maar sing!!!!!!!!!!!!!!!!!

Pieter ·

Die beste konsert hierdie jaar. Die vorige jare sin was ook uitstekend maar hierdie sin staan uit. Ek hoop die volgende jare sin word nog net beter.Steve en Theuns bly maar Super Sterre. Geluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.