John Kani, Sandra Prinsloo vereer by Fiësta-toekennings

Dr. John Kani en Sandra Prinsloo is albei vereer vir lewensbydrae tot teater. (Foto: Retha Ferguson)

Dr. John Kani en Sandra Prinsloo is albei vereer vir lewensbydrae tot teater. (Foto: Retha Ferguson)

Die 9de kykNET Fiësta-toekennings, ter viering van kreatiwiteit en besonderse prestasies in die uitvoerende kunste, is Donderdagaand by die Kunstekaap-teater in Kaapstad uitgedeel.

Dié toekenningsgeleentheid is regstreeks op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai. Bennie Fourie was die seremoniemeester en is deur Schalk Bezuidenhout, Gideon Lombard, Kay Karriem, Jarrid Geduld en Jill Levenberg as mede-aanbieders bygestaan.

Die gaste en kykers is ook met optredes deur Jo Black, Craig Lucas, Paxton, die Cape Dance Company, die Kaapse Filharmoniese orkes, onder leiding van Chad Hendricks, én die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) se koor bederf.

Die hoogtepunt van die aand was egter dr. John Kani, die bekroonde akteur, regisseur en dramaturg, se toespraak nadat hy met ʼn beeldjie vir lewensbydrae tot teater vereer is. Sandra Prinsloo, wat ook ʼn toekenning vir lewensbydrae tot teater ontvang het, het die toekenning aan Kani oorhandig.

Dié twee akteurs het in 1985 opslae gemaak toe hulle saam in Miss Julie gespeel het – ʼn toneelstuk waarin ʼn wit vrou ʼn swart man verlei. Kani en Prinsloo het tonge laat klap toe hulle tydens dié toneelstuk die eerste soen tussen ʼn swart man en ʼn wit vrou op die verhoog in die apartheidsera gedeel het.

Nadat hy etlike minute staande toegejuig is, het Kani gesê sy lewe as akteur en storieverteller het begin ná hy mense in die teaterbedryf, soos Athol Fugard, Barney Simon en Francois Swart, ontmoet het.

“Ek het die waarheid nagestreef, op soek na geregtigheid, versoening en mense met ʼn greintjie menslikheid. Ek was op soek na mense wat ek kon betrek en mee gesels – en dit is wat teater my gebied het.”

Kani het ook vertel hoe verbaas hy oor Afrikaanse gehore was oor sy teenwoordigheid op die verhoog nadat die dramaturg Saartjie Botha hom destyds genader het om ʼn Afrikaanse toneelstuk saam met Prinsloo, getiteld Ry Miss Daisy, te doen.

“My wêreld het ontplof. Ek het by die KKNK in Oudtshoorn aangekom en tannies en anties en meisies het vir my gesê: ‘Dis mos John Kani dié’,” het hy geskerts.

Hy het vertel hoe hulle later Ry Miss Daisy op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom om 09:30 voor ʼn saal van 525 ouer mense geopen het. “Ná die uitvoering het ʼn groot tannie vir my gesê: ‘John, ek is lief vir jou en jou werk.’ Ek het my hand na haar uitgesteek en toe ek hare wou skud, het sy gesê: ‘Ag, man, gee my sommer ʼn drukkie!’”

Volgens Kani is wit en swart mense daarvan weerhou om mekaar te leer ken. “Ons begin nou om mekaar raak te sien, mekaar te vind, met mekaar te praat, te sien hoe eenders in plaas van verskillend ons is. Dit gaan nie deur osmose of die een of ander soort evolusie gebeur nie – ons sal daadwerklik ʼn poging moet aanwend om mekaar te vind.”

Die gehoor het hom deurgaans luid toegejuig. “In sport is daar spanne soos die Blou Bulle, die Stormers en die Cheetahs – klein groepies wat konflik het met mekaar. In die kunste is ons net een groot, vreemde, gelukkige en opgewonde familie. Baie dankie.”

Kani verleen ook sy stem aan Rafiki in die Hollywood-weergawe van The Lion King, wat later vanjaar in internasionale fliekteaters begin draai.

Kyk hier na Kani se volledige toespraak.

Hiermee die volledige lys van wenners:

Beste akteur:
Wilhelm van der Walt – Klippe wat val

Beste aktrise:
Joanie Combrink – Toutjies & Ferreira

Beste byspeler (man):
Dean John Smith – Klippe wat val

Beste byspeler (vrou):
Lee-Ann van Rooi – Kinnes

Beste regie:
Nicole Holm en Wolf Britz – Toutjies & Ferreira

Beste teaterontwerp:
Ilana Cilliers en Wolf Britz – GodgOdgoD

Beste spel in ʼn solovertoning:
Antoinette Kellermann – Hierdie lewe

Beste nuutgeskepte Afrikaanse teks:
Saartjie Botha – Toutjies & Ferreira

Beste opkomende kunstenaar:
Anoescha Krüger – Raak

Beste prestasie in klassieke musiek:
Zanta Hofmeyr en Miro Chakaryan – Viool Dialoog

Beste prestasie in visuele kuns:
Diane Victor – Skadu’s en Lig/Shadows and Light

Beste musiekgedrewe produksie (buitelug):
kykNET Konsert Saterdagaand

Beste musiekgedrewe produksie (podium)
Amanda Strydom – Stadig oor die klippers

Beste musiekgedrewe produksie (teater):
David Kramer se platteland

Beste aanbieding:
Toutjies & Ferreira

Beste duo of ensemble:
Babbelagtig

Beste vertaling of verwerking van ʼn bestaande werk:
Saartjie Botha – Hierdie lewe

Fees van die jaar:
Innibos

Blou Fiësta-toekenning:
The Johaar Mosaval Journey: District 6 to the Royal Ballet

Lewensbydrae tot teater:
Dr. John Kani
Sandra Prinsloo
Dr. Eduard Greyling

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.