Jong Afrikaanse sanger slaan groot kontrak los

Stefan Bezuidenhout (Foto: Verskaf)

Die 11-jarige Stefan Bezuidenhout van Centurion in Gauteng het onlangs ʼn kontrak met die Coleske Artists- platemaatskappy losgeslaan.

Coleske Artists bestuur onder andere sangers soos Elvis Blue, Riana Nel, Bobby van Jaarsveld en Steve Hofmeyr.

Maroela Media het vroeër berig dat ’n video van ʼn singende Bezuidenhout meer as 1 miljoen besoeke op Facebook gekry het.

Afrikaans is Groot se Facebook-blad het Dinsdag vir Bezuidenhout verwelkom en gelukgewens.

“Hierdie seun is briljant,” het Coleske Artists op Facebook geskryf. “Het jy al vir Stefan hoor sing? Dis regtig lekker om vir Stefan by Coleske Artists te verwelkom. Dit is ʼn voorreg om jou as deel van ons familie te hê. Ons sien uit na jou album en kan nie wag om jou talent te deel nie.”

Dewald Bezuidenhout, Stefan se pa, het aan Maroela Media gesê hulle is verheug oor die goeie nuus van Stefan se kontrak.

“Dit is regtig ’n droom wat waar geword het. Ek dink nie Stefan besef presies hóé groot ding dit is nie, hy is maar net ‘n kind, maar ék kan sien hoe groot dit is. Hy is nietemin verskriklik opgewonde en in die wolke.”

Volgens Bezuidenhout is hulle al reeds halfpad met die opname van Stefan se eerste CD. “Ons beoog om dit voor Classics, waar Stefan in Mei gaan optree, klaar te maak,” het hy gesê.

Op die CD sal liedjies van Stefan se gunsteling-sangers soos Ed Sheeran en Shawn Mendez wees, maar ook oorspronklike Afrikaanse liedjies én ʼn liedjie saam met Karlien van Jaarsveld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.