Jong kunstenaar sing uit die hart

kunstenaar

Foto: Verskaf

Refentse Morake is ʼn jong entoesiastiese kunstenaar, gevul met passie, nie net vir sy sangloopbaan nie, maar vir die lewe en alles wat na sy kant toe kom!

Refentse se eerste album, My hart bly in ʼn taal, sal met jou hart praat. Sommer uit die staanspoor pluk hy met sy weergawe van “Sonvanger” aan jou hartsnare en hoor jy die uitsonderlike en unieke kwaliteit van sy stem.

Dit is beslis nie ál wat jou sal bekoor nie: In “Dis lente op Oom Faan se plaas” is hy byvoorbeeld nie skaam om die draak te steek met die “Borrel wat baas is nie”. Dis ʼn kenmerkend Afrikaanse liedjie wat almal sal kan saamsing en daarop dans.

Dan praat ʼn mens nie eens van hoe mooi hierdie jong man “Ou ryperd” sing nie. Jou voete sal jeuk om saam te skoffel. Hy neem jou eweneens vêr terug met ʼn opgeknapte weergawe van “Die spook van Uniondale”, “Blommetjie gedenk aan my” en meer.

Natuurlik sing Refentse diep, roerend en pragtig oor die liefde, die verlore liefde en die heimwee van herinnering – iets wat ons almal al te goed ken.

Wat ʼn mens die diepste raak is hoe Refentse bande smee en brûe bou – iets wat in ons land bitter nodig is. Dit doen hy met oortuiging wat reg uit sy hart kom.

Hy bring hulde aan die grotes in Afrikaanse musiek, met ʼn vars kinkel en melodieë wat gewilde liedjies snoer.  Sonder om te veel weg te gee, kan jy uitsien na verwerkings van onder andere David Kramer, Koos Kombuis, Laurika Rauch en die onvergeetlike Johannes Kerkorrel.

Steve Hofmeyr en Jak de Priester se werke is ook herkenbaar.

Sy hart bly gewis in ʼn taal en sonder twyfel is hierdie taal opregte en goeie Afrikaans.

Refentse sien homself as ’n vrye gees en probeer om nie te veel oor die toekoms te tob nie, hoewel hy nog  groot planne het vir die res van die jaar.

Sy album is nou landwyd in winkels sowel as op iTunes beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elaine ·

Genade maar die man sing pragtig! Ek gaan net more itunes credit kry. Ek koop die hele album! Lanklaas so ‘n mooi stem gehoor. Wow!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.