‘Jong Laurika’ loop musiekbedryf storm

Mari Bosman het nog altyd gehoor sy lyk soos ʼn jonger weergawe van Laurika Rauch, al is dit dan nou net die eenderse groen oë en donker hare wat mense dié ooreenstemmende prentjie laat sien.

Tog, nadat sy tydens ʼn liefdadigheidsgeleentheid Laurika die heel eerste keer ontmoet het, het sy gevoel hulle het soveel gemeen en sy ken haar al jare.

“Iemand het my ná my optrede geroep en gesê Laurika wil my ontmoet,” vertel die Afrikaanse folksangeres, wat destyds op Universiteit Stellenbosch eers vir ‘n BSc-graad en toe onderwys studeer het.

Bosman, wat al 12 jaar op die verhoog optree, maar eers die afgelope vyf jaar aktief in die musiekbedryf is, het getref met liedjies soos “Hou vas” en is tans op al wat ʼn radiospeellys is met die liedjie “Man soos my pa”.

“Laurika het vir my gesê ek is die enigste kunstenaar wat maar haar liedjies mag sing. Dit was ʼn hengse kompliment en ek was heeltemal uit die veld geslaan. Ek het vroeër die aand my vertoning afgeskop met die liedjie “ʼn Sonneblom uit Bethlehem”, wat deur Lize Beekman geskryf is. Ek het nie eens geweet Laurika is daar nie, anders sou ek dalk mooier probeer sing het,” skerts Bosman.

Sy vind nog altyd aanklank by Laurika, vertel sy. “En ook by mense soos Elvis Blue en Riana Nel. Ek is mal oor die energie wat hulle op die verhoog het en hulle musikaliteit; die feit dat hulle instrumente bespeel, is iets wat my baie beïndruk.”

Mari en Laurika tydens hul ontmoeting. (Foto: Facebook via Mari Bosman)

Mari en Laurika tydens hul ontmoeting. (Foto: Facebook via Mari Bosman)

Laurika se langslewendheid in die bedryf is ook iets wat Bosman bewonder. “Om met haar te kon gesels, was so ʼn groot voorreg, en miskien lê daar nog ʼn duet saam in ons toekoms. Sy het my herinner dat dit dalk lank neem om jou voete in die bedryf te vind, maar dan kan jy waarskynlik musiek maak tot jy 80 jaar oud is.”

Bosman vertel sy het op laerskool in die Paarl, Wes-Kaap, begin kitaar speel toe haar ma begin lesse neem het. “Dit was nie eens ʼn maand nie, toe is my ma haar kitaar kwyt, want ek het hom heeltemal oorgeneem. Ek het deur haar boeke geblaai, vir myself ʼn paar drukke geleer en my ma het my hier en daar gehelp. Ek het van daar af nog nooit weer opgehou speel nie.”

Dit was ook op skool waar sy agtergekom het sy kan liedjies skryf. “Ek het ʼn gedig geskryf vir ons Afrikaanse klas en die juffrou was mal oor my gedig en skryfstyl. Ek het toe besef as ek die kitaar en my gedigte byeenbring, maak dit ʼn liedjie!”

Bosman beskryf haar skryfproses as “baie snaaks”. “Soms dink ek ek wil ʼn liefdesliedjie skryf, en dan eindig ek met iets heeltemal anders. Die liedjie ‘Hou vas’ het ek geskryf nadat ek my motor ure lank gesoek het in ʼn parkeerterrein by Wildernis. Daar het mense verbygestap wat verskriklik bly was oor iets en dit het my geïnspireer om ʼn liedjie te skryf.”

Tog weet sy nie altyd wanneer die inspirasie gaan tref nie. “Ek verstaan dit self nie, maar dit kom en gaan. ʼn Mens weet nooit wanneer jy ʼn bevlieging gaan kry nie!”

Sy het ʼn jaar gelede besluit om alles wat in haar motor pas te pak en uit die Kaap uit op te trek na Pretoria. “Daar is net soveel meer geleenthede. Ek geniet dit nog baie. Ek gaan nou vir die Desembervakansie vir ʼn maand Kaap toe om te toer en my familie te sien, maar vir die musiek is ek op die regte plek.”

Marcus Muller op die stel van die musiekvideo vir ''n Man Soos my Pa'. (Foto: Facebook via Mari Bosman)

Marcus Muller op die stel van die musiekvideo vir ‘Man soos my pa’. (Foto: Facebook via Mari Bosman)

Oor die liedjie “Man soos my pa” is sy uiters opgewonde. “Ek wou dit graag nou oor die familietyd die lig laat sien, juis omdat ek dink dit is gepas vir die Kerstyd. Ek het dit geskryf op Vadersdag, toe ek besef my pa sit baie ver weg op Stilbaai en ek het nie juis beplanning gedoen om vir hom ʼn geskenk te stuur nie,” lag sy.

“Dit is seker die vinnigste wat ek nog ooit ʼn liedjie geskryf het. Ek onthou ek het sommer my selfoon op die bedkassie neergesit, begin skryf en later die liedjie op Facebook gelaai. Dit het soos ʼn veldbrand versprei en kort voor lank is dit bykans 200 000 keer gekyk.”

Die enkelsnit het ook ʼn pragtige musiekvideo, met Marcus Muller van Villa Rosa– en 7de Laan-faam in die hoofrol.

“Ek en Marcus is al jare lank vriende en ek het hom genader om die rol van die pa in my video te speel. Ons het toe gesoek na ʼn dogtertjie wat trek na my, met die donker hare en groen oë. Almal ken vir Marcus nou as hierdie geharde prokureur op 7de Laan, maar ons was net ʼn paar uur op die stel, toe is die dogtertjie soos klei in sy hande. Ek kon nie vir twee beter mense gevra het om in die video te speel nie.”

Sy beskryf die liedjie as ʼn tranetrekker wat jou goed laat voel. “Die liedjie het ʼn kommersiële aanslag, maar dit is steeds ʼn ballade met siel. Een van daai wat jy in die kar kan luister of wat jy enige plek vir iemand kan speel.”

Bosman beplan om in April volgende jaar ʼn vollengte-album vry te stel. “Dit gaan ʼn baie mooi album wees met iets van alles – werklik ʼn produk waarop ek trots kan wees. Ek skryf tans saam met Vaughan Gardiner en Hugo Ludik. Ons verstaan mekaar net só goed uit ʼn musikale oogpunt. Ek glo as jy iets ordentlik wil doen, moet jy die regte mense aan jou kant hê.”

Sy staan af en toe in vir ʼn musikant van Die Radio Kalahari Orkes en toer eersdaags weer saam met dié gewilde groep. “Ek is op pad Kaap toe vir so drie optredes saam met hulle en daarna is ek op die Tuinroete.

“Ek hoop Suid-Afrika is reg vir my soort musiek ook. Ek kom agter daar is plek vir musiek soos myne, want wie gaan die skoene van Laurika en Elvis volstaan? Suid-Afrikaners is tans baie negatief en daarom verkies hulle musiek wat afleiding bied, maar ek glo ʼn mens kan steeds ʼn dieper liedjie skryf met ʼn saamsing-melodie wat jou goed laat voel. Ek het besluit om weg te beweeg van die sokkie-bokkie-musiek, want ek wil musiek maak met woorde wat betekenis dra, al het dit ʼn lekker melodie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anoniem ·

Het Adam Tas dan nie ‘n lied met presies dieselfde titel nie?

Laurika-aanhanger ·

Baie geluk jong dame, maar ek verstaan nie regtig die aanname tov die ooreenkoms met Laurika nie. Jammer, maar Mari Bosman doen dit nie vir my nie.

Die Leeu ·

@Laurika-aanhanger
Ek dink nie dit maak ‘n verskil of Mari Bosman dit vir jou doen of nie. Sy is reeds besig om die leer na sukses te klim, met, of sonder jou as aanhanger. Net soos wat Jack Parrow en Kurt Darren dit nie vir my doen nie en hulle steeds reuse sukses handhaaf. Maar eerder ‘n Mari Bosman, met ‘n Laurika Rauch-tipe styl, as nog ‘n Jack Parrow- of Kurt Darren-tipe .

Stephan de S ·

Pragtig:die tema, die woorde, die uitstralende gesindheid en die sangeres en spelers. Dankie vir die gratis video.

Magda ·

Uitstekend! Sy mag maar- haar stem is tydloos- dis die ooreenkoms met Laurika

Mart ·

Stem saam. Haar stem en sangstyl is pragtig…tydloos ! Wens haar net die beste toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.