Jong Mosselbaaier wen internasionale rockkompetisie  

Hy is skaars 18 jaar oud, speel drie musiekinstrumente en skryf sy eie musiek en lirieke. En nou is dié jong Suid-Afrikaner ook aangewys as die wenner van die All Saints Middle East Rock Star- kompetisie wat verlede naweek in Doebai plaasgevind het.

Ontmoet Burch Vaughan oftewel Burchell Brinkhuis, ʼn boorling van Mosselbaai wat in Doebai saam met sy ma, Veronique, woon. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat as wenner van dié kompetisie gekroon is.

Dit beteken kitsblootstelling in die internasionale musiekwêreld want Burchell se wenliedjie en eie komposisie, “Run Away”, gaan binnekort in ʼn ateljee opgeneem en aan die Warner Music Group- platemaatskappy in die VSA voorgelê word.

“As hulle daarvan hou sal ek in die toekoms onder hul vaandel musiek maak,” het ʼn oorstelpte Burchell uit Doebai aan Maroela Media gesê. Hy het nog nie grond gevat sedert hy Sondag met die eerste prys weggestap het nie. Sam Shredder van Egipte, Burchell se beste vriend, was ook sy tydelike kitaarspeler tydens die kompetisie. Mense kon wêreldwyd stem vir hul wenner.

“Dit voel eintlik surrealisties op ʼn goeie manier want die oomblik toe ek as wenner aangekondig is, het deure vir my begin oopgaan en die hoeveelheid blootstelling wat ek nou kry is net ongelooflik,” sê Burchell. “Ek voel só opreg dankbaar dat ek gewen het en ek weet dis nog net die begin van groot dinge wat vir my wag.”

Burchell beskryf sy musiekgenre as alternatiewe rock, alternatiewe pop en indie rock, ʼn genre van rockmusiek wat in die 1970’s in die VSA en Brittanje ontstaan het. Sy lirieke word geïnspireer deur en lewer kommentaar op gebeure wat hy waarneem en wat hom persoonlik raak soos die selfmoord van ʼn vriend wat gelei het tot die liedjie “I Don’t Want My Friends to Die”.

Polisiebrutaliteit het aanleiding gegee tot “Don’t Shoot”. Loer ʼn mens na die Burch Vaughan se Twitter-rekening en Facebook-blad is dit duidelik dat musiek sy lewe is. Dis feitlik al waaroor daar gekwetter word.

Sy trotse pa, Dexter, wat die kompetisie in Mosselbaai gevolg het, vertel sy seun maak al van kleintyd musiek en het homself met behulp van YouTube geleer om tromme, kitaar en klavier te speel. Hy sê Burchell was nog altyd versot op musiek en het musiekinstrumente bo speelgoed verkies. “Dit het altyd ons hele sitkamer vol gestaan en sy eerste kitaar was byna net so groot soos hy!”

Burchell beplan om homself in Engeland te vestig waar die gesin voorheen gewoon het.

Sy musiek is op Soundcloud beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.