Jong pianiste ding mee in Atterbury-kompetisie

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Sowat 23 jong pianiste ding vanjaar mee in die 10de Atterbury Nasionale Klavierkompetisie wat van 18 tot 22 Oktober by die Atterbury-teater in Pretoria plaasvind.

Die Atterbury Trust is die hoofborg en verskeie ander borge dra ook daartoe by dat dié kompetisie suksesvol kan bly voortbestaan.

“Uitsonderlike talent moet gekoester en ontwikkel word en geleenthede moet geskep word om hierdie talent optimaal te laat groei,” sê Zahn Hulme, uitvoerende trustee van die Atterbury Trust.

“Ons is baie opgewonde om weereens onvergeetlike uitvoerings van die land se mees gerekende jong pianiste te kan beleef.”

Die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie is in 2011 deur Claudine van Breda en dr. Willie de Jager tot stand gebring om sodoende jong pianiste die geleentheid te bied om op nasionale vlak op ʼn gelyke platform teen mekaar mee te ding.

Qden Blaauw, algehele wenner van die negende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie (Foto: Mauritz van den Heever)

Tydens die amptelike opening op 18 Oktober het Qden Blaauw, die algehele wenner van 2019, ʼn kort program gelewer. Daarna is vanjaar se deelnemers uit Pretoria, Johannesburg, die Vrystaat, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en selfs so ver as Namibië, aan die gehoor bekendgestel.

Die kompetisie bestaan uit vier rondes. Alle kandidate neem op 19 en 20 Oktober aan rondes een en twee deel, waarna 18 semifinaliste gekies word om in die derde ronde op 21 Oktober mee te ding. Ná voltooiing van hierdie ronde word nege finaliste uit die drie kategorieë bekendgemaak.

Kategorieë waarin pianiste deelneem, is 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Keuring vind deur middel van ʼn opname plaas, en streng reëls geld ten opsigte van die vereiste repertorium.

Die kompetisie word Vrydagaand 22 Oktober om 19:00 met ʼn galageleentheid afgesluit. Die kompetisie word vanjaar deur dr. Charl du Plessis, prof. Hubert van der Spuy (beskermheer) en Claudia Strauss beoordeel.

Alle rondes is oop vir die publiek. Toegang tot die openingseremonie en die aanvanklike drie rondes is gratis. Kaartjies vir die finale ronde op Vrydag 22 Oktober is by SeatMe beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alta ·

Pragtig! Baie oefen! Maroela ek wil graag hoor of julle iets van die Internasionale Danskampioenskappe in Kaapstad kan se asseblief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.