Jong pianiste wys weer hul slag

Verlede jaar se algehele wenner, Swunhtat Oo. Foto: Verskaf

ʼn Uitgesoekte groep van Suid-Afrika se belowende jong pianiste neem vanjaar deel aan die sewende Atterbury Nasionale Klavierkompetisie.

Die kompetisie vind plaas van 23 tot 27 Oktober by die Atterbury-teater in Pretoria.

Die Atterbury-kompetisie is die enigste van sy soort in Suid-Afrika wat op ʼn jaarlikse grondslag vir pianiste, 19 jaar en jonger, aangebied word. Die lys van vanjaar se kandidate sluit wenners en finaliste van verskeie nasionale musiekkompetisies in. Daar was vanjaar meer inskrywings as enige vorige jaar, en altesaam 46 kandidate is gekeur.

Die beoordelaars van vanjaar se kompetisie is prof. Malcolm Nay, prof. Joseph Stanford, John Roos, en Bernarda Vorster. Die Atterbury-trust is die hoofborg van die kompetisie.

Die algehele prysgeld is R115 000, waarvan die kontantprys vir die algehele wenner minstens R35 000 beloop. Daar is drie kategorieë waarin die pianiste kan deelneem, naamlik 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Keuring vind plaas deur middel van ʼn DVD-opname, en streng reëls geld ten opsigte van die vereistes vir werk wat tydens die kompetisie uitgevoer word.

Die amptelike opening vind plaas op Maandag 23 Oktober om 18:30. Tydens hierdie geleentheid sal die algehele wenner van 2016, Swunhtat Oo, ʼn kort program lewer. Die wenners van die vierde Stefans Grové Nasionale Komposisie-kompetisie word daarna aangekondig, en die werk van die wenner sal voorgedra word.

Die kompetisie bestaan uit vier rondes. Alle kandidate neem deel aan die eerste twee rondes op Dinsdag 24 en Woensdag 25 Oktober van 08:00 tot 18:00. Hierna word 18 semi-finaliste aangekondig wat deurdring na die derde ronde, wat Donderdag van 13:00 tot 18:00 plaasvind.

Ná afloop van hierdie ronde word die nege finaliste uit die drie ouderdomskategorieë aangekondig. Die kompetisie eindig met die gala-geleentheid op Vrydag 27 Oktober om 19:00.

Alle rondes is oop vir die publiek. Toegang vir die openingseremonie en die aanvanklike drie rondes is gratis.

Kaartjies vir die finale ronde op Vrydag 27 Oktober is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stormrider ·

Mooi so! Hier is nou ‘n regte kompetisie wat ek vir niks sal mis nie! Ek gaan dadelik kaartjies kry vir Vrydag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.