Jong sangsensasie en musiekgroep weer saam op die verhoog

Die 14-jarige Erin Beck, wat verlede jaar tydens die Krone 5-konsert in Pretoria saam met die manskwartet Serenade gesorg het vir hoendervleisoomblikke met hul weergawe van Freddie Mercury en Montserrat Caballé se treffer, “Barcelona”, tree eersdaags weer saam in Pretoria op.

Elna Beck, Erin se ma, vertel aan Maroela Media dat dié gr. 9-leerder aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria raakgesien is deur die vervaardiger en liedjieskrywer Neil Schoombie toe sy ʼn video van haarself op YouTube gelaai het, waar sy die bekende Italiaanse klassieke lied, “Nessun Dorma”, uitvoer.

Daarna het nóg opwindende vertonings soos RMB Classics en die Jakaranda Liggiefees gevolg. “Neil het vir Erin genader om deel te wees van Krone 5 en van daar af is die koeël deur die kerk,” sê Beck.

Serenade is ʼn nuwe manskwartet. Mynhardt Krüger, Juandre van den Berg, Dawie de Wet en Fredric Dacomb vorm deel van dié groep.  Serenade is ʼn produk van Select Musiek en hul debuutalbum Bly lief vir my is reeds op die rakke.

Die groep verleen ʼn aansteeklike vermenging van oorwegend klassieke stemme en -instrumente, met sterk pop- en technoklanke aan die Suid-Afrikaanse musiektoneel.

Erin, wat reeds van sewejarige ouderdom haar sangtalent slyp nadat ʼn sangonderwyser haar talent in klassieke musiek ontdek het, sal op 10 Maart weer saam met Serenade op die verhoog te sien wees by die Loftus Park Piazza.

Erin Beck en Serenade op die verhoog verlede jaar tydens die Krone 5-konsert in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Erin Beck en Serenade op die verhoog verlede jaar tydens die Krone 5-konsert in Pretoria. (Foto: Verskaf)

“Sy en Serenade tree gratis op en die toegang vir die vertoning is ook gratis. Na afloop van die Krone 5- en RMB Classics-konserte het ons soveel goeie terugvoer gekry dat ons besluit het ons wil graag nog meer doen om blootstelling te kry. Erin het toe self ingespring en saam met Serenade koppe bymekaar begin sit en begin beplan aan dié vertoning.”

Sy vertel Erin is baie opgewonde. “Sy kan nie wag nie. Sy het reeds liedjies en selfs uitrustings gekies. Sy is eintlik ʼn skaam kind, maar hierdie tipe goed maak van haar ʼn ander kind. Die verhoog is haar lewe.”

Enige navrae oor die konsert by die Loftus Park Piazza kan gerig word aan Elna Beck by 083 287 4142 of Mynhardt Krüger by 079 885 8615.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.