Jongspan kan nou ook hul slag op verhoog wys

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Is jou klein rakker die volgende Arnold Vosloo, Tinarie van Wyk-Loots of Christo Davids? Toon jou laerskoolkind potensiaal as ʼn opkomende akteur of aktrise? Dan is die ATKV-Tjokkertoneel nét die plek om sy of haar talente as deel van ’n toneelgeselskap te ontgin.

Tot onlangs was die ATKV-Tienertoneel eksklusief vir hoërskoolleerders, maar met die splinternuwe ATKV-Tjokkertoneel gaan laerskoolleerders ook nou die planke warm speel.

“Die behoefte vir ʼn toneelprojek vir laerskole is al ʼn paar jaar duidelik uit navrae wat ons ontvang het,” het Lizané Basson, projekorganiseerder by die ATKV, in ʼn mediaverklaring gesê.

“Daar is heelwat kunste- en toneelfeeste wat laerskooltoneel op ʼn manier akkommodeer, maar ATKV-Tjokkertoneel sal ʼn nasionale platform vir talentontwikkeling wees, wat gefokus is op beginsels soos toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan literatuur.”

Volgens Basson bestaan daar behoefte vir ʼn gestandaardiseerde, geakkrediteerde, betroubare kompetisie en die ATKV kan met sy jarelange ondervinding as rolspeler in die gemeenskap dié rol vertolk.

“Ons wil ouers help om hulle kinders te help; ons wil kinders laat spesiaal voel en hulle talente ontgin. Die ATKV wil kinders blootstel aan uiteenlopende genres, goeie speltegnieke, afrigting en nuttige wenke.”

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Basson het ook gesê dat daar beduidende verskil tussen die ATKV-Tienertoneel en die Tjokkertoneel sal wees. “Tjokkertoneel sal nie noodwendig sulke uitdagende en sensitiewe inhoud bevat nie. Eerder, byvoorbeeld, kinderboeke wat verwerk is vir die verhoog en gedigte vir spreekkore, sodat die basis van storievertel en speltegniek deur die kinders aangeleer kan word.”

Laerskole kan hul junior spreekkore (graad 1 tot 3), senior spreekkore (graad 4 tot 7) asook ʼn minitoneel inskryf vir die eerste jaar wat hierdie nuwe ATKV-projek van stapel gestuur word.

“Ons beoog om Tjokkertoneel kindervriendelik aan te bied met die fokus op die viering van kinders en die uitleef van hul talente en belangstellings.”

En waarna kan die leerders uitsien met hul deelname aan Tjokkertoneel? “Dit gee vir die kinders die geleentheid om voor ʼn gehoor op te tree wat hulle waardeer en gaan hulle ook die blootstelling gee aan teaters se fasiliteite,” sê Basson.

Die streeksfeeste vind by die volgende geleenthede plaas:

Gauteng-streeksfees op 20 en 21 September by die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Wes-Kaap-streeksfees op 27 en 28 September by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.

Bloemfontein-streeksfees op 4 en 5 Oktober by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein.

Oos-Kaap-streeksfees op 4 en 5 Oktober (die venue sal binnekort bevestig word).

Skole kan vir Lizané Basson kontak by 011 919 9078 of vir haar ’n e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.