Jongste musiekgroep laat die voete jeuk

Die 4 Eva Young Band is v.l.n.r. is Caitie Rock, Johan van Rooyen, Zandri Bezuidenhout en Rueben Herbst. (Foto: Verskaf)

Die vier kinders, wat almal in die Vaaldriehoek bly, is nie net soos boeties en sussies vir mekaar nie, maar maak ook heerlik saam musiek en spog al met twee musiekvideo’s.

Ruben Herbst (10), Caitie Rock (11) Johan van Rooyen jr. (11) en Zandri Bezuidenhout (9) het in Februarie saam begin musiek maak as die 4 Eva Young Band.

Die viertjies reken hulle is die jongste musiekgroep in die land en wil ook binnekort aanspraak maak op die titel as die jongste musiekgroep ter wêreld.

Hulle het al die verhoog gedeel met die sangeres Demi Lee Moore en het in Augustus hul eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit, “Ek’s net ’n kind” uitgereik. Dié snit is pure borrelgom kinderplesier waarby nie net kinders nie, maar ook ouers sal aanklank vind.

In ’n neutedop; almal wat nog nie heeltemal van “die dinge van ’n kind” ontslae geraak het nie, sal sommer ’n ou-skuur plaasdans doen as hulle na die liedjie luister.

Dit is eintlik ’n nostalgiese onthou-liedjie van lang somersdae op oupa en ouma se plaas, dae van kettie skiet en “’n mielie of twee gaan steel”.

Nie net maak die kinders lekkerluistermusiek nie; boonop is die kleingoed ook nog instrumentale wonderkinders, maar gelukkig is hulle kindervoetjies plat op die aarde.

Ruben bespeel die baskitaar amper net so goed soos Suid-Afrika se voorste baskitaarspeler Schalk Joubert. En as daardie vingers so liefkosend die regte akkoorde druk, word enige musiekliefhebber se hart sommer week.

Caitie en Johan is albei voorsangers, Johan speel ook kitaar en Zandri, wat al amper net so goed soos ons eie Ghapi is, is die groep se tromslaner.

Dié groep het  ʼn paar maande gelede hul amptelike toetrede tot die plaaslike musiekbedryf gemaak met “Sunny Day” wat uitstekend op plaaslike en nasionale radiostasies gevaar het. Die enkelsnit is vergelyk met ’n warm sonnetjie wat op ’n wintersdag skyn en die kinders het bykans onmiddellik “Walt Disney-kanaal status” in hul onderskeie omgewings en skole gekry.

“Sunny Day” het ʼn Christelike boodskap wat sê daar is altyd hoop in die Covid-19-pandemie.

Drickus Bezuidenhout het “Sunny Day” geskryf en vervaardig. Hy is self ʼn bekende musiekvervaardiger en liedjieskrywer van Merge-musiek en is toevallig ook die talentvolle Zandri se pa.

Drickus is ook verantwoordelik vir “Ek’s net ’n kind”. Dit is ʼn snit wat net beskik oor die regte hoeveelheid nostalgie, so asof hy besef het dat ons herinneringe nodig het om aan vas te klou.

“Die liedjie handel oor hoe om so lank as moontlik kind te bly. Om vlieërs te vlieg, om met ketties te skiet en kleilat te gooi. Om kind te wees, en pret te hê. Die liedjie tower ’n utopiese plaasprentjie op waar kinders nog op die trekker kan ry en die veld geniet,” vertel Drickus, wat bieg hy is self nog in sy hart ʼn plaasseun.

Drickus verstaan die hart van ’n kind, ’n diep verstaan wat ook weerklank in die koorgedeelte vind: “Want die tyd vlieg so gou verby. Solank as wat ek kind bly. Met glinster in my oë, sal ek bly lag. Op die plaas kry ek nuwe krag.”

“Ek’s net ’n kind” is ’n moderne pop-goedvoelliedjie wat die kinders se stemme goed pas. Dit is ’n bekoorlike liedjie wat net op die regte tyd – begin lente – uitgereik word. Dit beloof om ’n glans in die oog te bring.

Musiekkenners voorspel ’n wonderlike toekoms vir die kinders en Maroela Media hoop dat hulle sal voorthuppel op hul sonskynmusiekpad.

  • Besoek die groep se Facebook-blad vir al die nuus oor hulle nuwe musiek en komende vertonings.
  • Geniet die musiekvideo van 4 Eva Young se lied “Ek’s net ʼn kind”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.