Joshua na die Reën deel sy gunstelingliedjies

Joshua na die Reën. (Foto: Verskaf)

ʼn Mens hoor nie aldag dat ʼn musikant twee enkelsnitte op een dag bekendstel nie, maar Jacques de Villiers, bekend as Joshua na die Reën, meen hy doen dit sodat aanhangers gelyktydig na twee van sy gunstelingliedjies kan luister.

“Wandel” en “Vlieërs” verskyn albei op sy derde vollengte-album Someraarde wat in 2019 uitgereik is.

ʼn Enkelsnit wat op die radio bekendgestel word, is baie keer nie van die liedjies op ʼn album wat die kunstenaar na aan die hart lê nie, meen hy.

“Ek wou graag iets vir myself doen en daarom het ek my twee gunstelingliedjies op Someraarde gekies,” vertel dié musikant in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Wandel”, ʼn pop-ballade uit sy eie pen, gaan oor hom en sy vrou, Danél. Omdat dít so ʼn persoonlike lied is, glo die sanger dit sal by ʼn wye gehoor aanklank vind, aangesien dit met ʼn brose plek in die hart praat.

“Die woord ‘wandel’ is vir my ʼn mooi beskrywing van hoe my pad saam met Danél is. Dit voel vir my as jy kies om in ʼn verhouding te groei, gaan die pad nie altyd net gelyk en sonder uitdagings wees nie.

“Danél skep vir my ʼn ruimte van aanvaarding en genesing; daar is niks wat ek nie vir haar kan sê nie. Ek is dankbaar vir ʼn pad saam met haar, wat voel soos om te wandel deur woude, berge en deur riviere met die geluid van die wind deur die bome en die son se strale wat sag op die grond neerval,” verduidelik hy.

In sy tweede enkelsnit, “Vlieërs”, word die liefdestema voortgesit. Die lied is ʼn duet wat hy saam met die opkomende kunstenaar Liani Reynolds geskryf het en dit gaan oor die vryheid en band wat daar in ʼn verhouding kan wees.

Hy vertel dat die liedjie eintlik al ʼn paar jaar terug geskryf is. Dit was ʼn reënerige somersaand op hulle plaas en Liani het daar gekuier. Jacques en Liani was in daardie stadium albei besig om aan albums te werk.

“Laat die aand het ons besluit om saam ʼn liedjie te skryf oor die mooi atmosfeer wat ʼn mens in verhoudings met ander kan ervaar. Die beeld van ʼn vlieër het opgeduik, en dit was gepas vir die snit.

“Selfs al vlieg ʼn vlieër doer ver in die lug is hy steeds gekoppel aan die persoon wat die toutjie vashou. Dit is die vryheid en avontuur wat ʼn mens in verhoudings kan hê.”

Volgens Jacques is die doel van hierdie ballade om mense aan te moedig om mekaar binne ʼn verhouding die ruimte te gun om te droom en hulleself te wees, sonder dat die skakel verlore gaan.

Dié bekroonde kunstenaar bekoor reeds sedert 2014 Afrikaanse musiekliefhebbers met die bekendstelling van sy debuutalbum, Joshua na die Reën. Daarna het nog treffers uit sy pen gevolg, waaronder “Arende”, “Sterrenet”, “Die wêreld binne my” en “Alles gee”.

Hy het al verskeie musiektoekennings, onder meer verskeie Ghoema-, Huisgenoot Tempo-, Sama- en Woordfees-toekennings, verower en temaliedjies vir verskeie lokettreffers soos Vir altyd en Ballade vir ʼn enkeling, asook televisieprogramme en -veldtogte geskep.

Hy was ook in 2019 deel van die musiekbeweging, Musiek Soos Grond, saam met sy vriende en medemusikante, Lizandra Winter, Len Muller, Kaleidoskoop, Leon Gropp en Reynolds.

Volgens Jacques is sy hooffokus as musikant nie noodwendig om radiotreffers te skep nie. “As skrywer en musikant wil ek graag hê dat mense al die kante van my musiek en menswees moet leer ken.

“Musiek lê my na aan die hart. Ek sal nooit iets kan skryf wat ek nie voel nie. So dit is vir my ʼn besonderse voorreg dat dit so uitgewerk het dat ek musiek kan maak wat iets beteken en dat mense daarby aanklank vind,” sê hy.

Luister hier na Joshua na die Reën en Liani Reynolds se duet, “Vlieërs”:

  • Someraarde, waarop “Wandel” en “Vlieërs” verskyn, is nou op alle musiekstromingsplatforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.