Joshua na die reën

Daar is deesdae soveel kunstenaars wat net daarop uit is om geld met hul musiek verdien dat hulle nie veel aandag aan musikale integriteit gee nie.

As jy na die omslag van Joshua na die reën se eerste CD kyk, sal jy dadelik wonder of ons nie dalk te doen het met ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Josh Groban nie.  Nadat hy in 2010 die prys as voorste jazz-student gekry het, het hy as pianis vir Jak de Priester opgetree, en ook al ‘n verhoog met Bobby van Jaarsveld gedeel.

Hy het al die snitte op dié album self gekomponeer, en veral die eerste snit, Hardloop in die veld in, kan ‘n treffer by ‘n breë gehoor word. Dra die liggies is aan sy familie opgedra, en daarin sê hy vir hulle dankie vir hul ondersteuning.  Dans voor jou deur is ‘n pragtige snit wat dalk ‘n treffer kan word, maar meer op ‘n volwasse kontemporïre gehoor gemik is. Sekelmaan is dalk nie ‘n radiotreffer nie, maar nog steeds baie mooi. Die stemwerk op Wie is jy nou is baie goed; hy sukkel nie met die hoë note wat hy nie gewoonlik sing nie. Dat jy mynie is, is ‘n baie goeie snit  en een van die min wat hy nie alleen geskryf het nie. Dit is ‘n spanpoging tussen hom en Tinus van der Merwe, wat ook Dans voor jou deur geskryf het.

Die meeste snitte op die album is heel rustig, maar Stranddans is ‘n uitsondering. Dié snit het ‘n lekker ritme en dit moet beslis as ‘n enkelsnit oorweeg word. Hy het die pragtige snit, Soos altyd, saam met Lizandra van Hagen geskryf; sy sing ook hier saam met hom.  Daar word niks op die CD-omslag of die webtuiste gesê  nie, maar ‘n mens wonder of Danél se wals nie dalk geïnspireer is deur iemand wat hy ken, of wat dalk deel van sy lewe was nie. Die musikale verwerking op die laaste snit Lig op die horison is baie goed; dit is sonder twyfel een van die hoogtepunte van die album!

Soos wat ‘n mens kan agterkom, is daar byna geen ooreenkoms tussen Joshua na die reën en Josh Groban nie; Joshua na die reën se musiek is baie op dieselfde gehoor gemik, maar dit is waar die ooreenkoms ophou. Joshua na die reën het vorendag gekom met ‘n CD wat byval sal vind by diegene wat op soek is na musiek met integriteit waarvoor ‘n mens nie moeg sal word nie en waarna ‘n mens nog lank sal kan luister. As jy in hierdie kategorie val, kan jy hierdie album gerus by jou versameling voeg.

https://www.youtube.com/watch?v=RP0fE9x4gbA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.