‘Jou Romeo’: Loki Rothman praat oor klankbaan

loki-rothman

Loki Rothman. Foto: Facebook

“Ek het nog nooit weggegaan om te gaan skryf nie. Dinge gaan so dol op die oomblik dat ek dink as ek nou weg moet gaan, sal ek my kitaar net eers ʼn bietjie neersit.” So sê musikant en liedjieskrywer Loki Rothman laggend. Hy is verantwoordelik vir die klankbaan van die nuwe romantiese tienerkomedie, Jou Romeo, wat vandag in fliekteaters begin draai.

Benewens die groot taak om manalleen ʼn klankbaan vir ʼn fliek te skryf, het Loki ook onlangs saam met Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties nuwe lewe gegee aan Amanda Strydom se liedjie “My kamer”. Hy het ook saam met Laurika Rauch vir haar gewilde liedjie “Blou” ʼn nuwe baadjie help aantrek vir haar jongste album, Die reis.

“Ek het nie ʼn formule wanneer ek skryf nie,” sê hy. “Ek skryf oor persoonlike ervaringe, maar ek skryf ook oor ander mense se stories. Selfs flieks se storielyne inspireer my soms as ek ʼn liedjie moet skryf en ek voel ek het op daardie oomblik nie ʼn persoonlike ervaring om uit te put nie,” sê Loki.

“Vir Jou Romeo het ek nie die agtergrondmusiek geskryf nie, maar wel die oorspronklike musiek wat lirieke by het. Ek het vier maande gehad om die projek te voltooi,” vertel Loki. “Ek het ʼn paar liedjies geskryf voordat ek geweet het waaroor die fliek gaan, maar later het hulle vir my gedeeltes van die fliek wat reeds verfilm is aangestuur om mee te werk. Dit het goed gewerk vir my en die vervaardigers van die fliek was ook meestal gelukkig met dit waarmee ek vorendag gekom het,” lag hy.

Vir ʼn lys van optredes besoek Loki se Facebook-blad.

Kyk hier na “Ons op ons eie”: 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.